Maandag 04 September 2017

Die Testament van Jesus Christus lees...


Image result for Gal 3:15

Sy Goddelike Krag het ons Alles Geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien... en vele meer.
            “Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.” Gal 3:15
            Dis presies so met Jesus se Testament. Niemand erf egter iets as hulle nie erfgename is nie en as hulle nie hul erfporsies opeis nie.
            Ter illustrasie: In Wes-Texas is daar 'n beroemde olieveld bekend as The Yates Pool. Gedurende die depressiejare was die olieveld Ira Yates se byna verlore skaapplaas. Met die depressie en ander druk kon Yates net nie langer voort boer nie.
            Toe hy op die punt was om sy plaas te verloor daag 'n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis op. Hulle vertel hom dat daar moontlik 'n oliebron op sy grond is. Hulle vra toestemming om vir olie te boor. Hy gee sy toestemming. Op 370 meter diepte boor hulle 'n oliebron raak wat 80 000 vate olie per dag lewer.
Omdat die grond nog aan Yates behoort het, behoort die mineraalregte toe ook aan hom. Hy leef op 'n staatstoelaag en wis nie hy is 'n multimiljoenêr nie!
Die skrywer van die verhaal in Parables stel dit so: "’ Multi-miljoenêr in totale armoede... wat was sy probleem? Hy het nie eers geweet dat daar olie is nie. Hy het die olie besit, maar nooit sy eie gemaak nie want hy wis nie van die olie nie.
Dit is soos baie Gelowiges vandag: Hulle is skatryk, maar weet dit nie. Hulle besef nie hulle is erfgename van Jesus se Testament nie.
            Hier is te veel Petrusse onder ons: Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van Sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Petrus in sy hart steeds blind gebly vir sy rykdom in Christus.
Dit was eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus drie keer verloën: "Ek ken die man nie!" – dis eers na die uitstorting van die Heilige Gees, dat sy oë vir sy groot rykdom in Christus oopgegaan het.
In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: "Nou het ons 'n LEWENDE HOOP op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike Erfenis wat in die Hemel ook vir julle in bewaring gehou word." 1 Pet 1:4
            Kyk hoe ryk is ons... Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4
Ons triomf berus op Lofprysinge (ontvang en dankie sê) want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32.
Weer berus ons triomf op dankbaarheid, ontvangs en Lofprysinge... want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godvrug lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die Goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste Erfgenaam. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in danksegging en Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op danksegging en Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op aanvaarding, danksegging en Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, neem dit aan in dankbaarheid en Lofprysinge.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Danksegging en Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van Sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
            God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6
            Mens moet jouself met danksegging en Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.
Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17. – Sjibbolet