Vrydag 15 September 2017

Ons moet Jesus se gebed en wens vervul


Image result for Jesus se gebed

Ons as Gelowiges moet die gebed en wens van Jesus Christus vervul.
            Let op: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
            “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.
            “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.
“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” Joh 17:20-24
Jesus sê hy bid vir jou en my en ook vir die siele wat ons sal inbring. Hoeveel siele het jy al ingebring?
Jesus bid dat ons almal EEN mag wees. Hoe moet ons een wees? Net soos wat Jesus en die Vader is, EEN, die een in die ander.
Hoekom bid Jesus dit? “Sodat die wêreld kan glo dat U my gestuur het.”
Jesus voeg by: “Sodat ons en Hy VOLKOME een kan wees.” Is ons... of het elkeen sy kerk!
Let op, nou sê Jesus iets baie, baie belangrik: “Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het (beleef ons daardie heerlikheid, daardie glorie?) (En hoekom het Hy dit aan ons gegee?) juis, “sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.”
Wat het ons gedoen met die glorie wat Hy van die Vader ontvang het en aan ons gegee het?
Dit is ook Jesus se wens dat ons Een moet wees sodat “ons Sy glorie kan aanskou.” Het jy dit al aanskou? Is dit omdat ons nie EEN is nie?
Ons moet so EEN wees dat die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7-8 “Ons moet geestelik kleef aanmekaar, aan mekaar vashou, onafskeidbaar.
Nou sit elkeen in sy eie kerk en ons groet skaars mekaar. Dis die groot oorwinning wat ons as Gelowiges moet behaal: Om oor die kerkmure heen hande te vat. Dis of ons wedywer: Watter kerk se lidmate gaan Hemel toe!
Dis is wat in ‘n groot mate op 22 April 2017 in Bloemfontein gebeur het toe sowat een miljoen Gelowiges by “It’s Time” hande gevat het.
Ons smag na Herlewing, ons smag na God se Glorie. Komaan, staan op en staan saam!
Die wêreld word by die dag meer boos. Jesus se Koms is voor die deur. Kerkleiers sal aanstons hul posisie in die kerklike koninkryke moet prysgee.
Dogma sal verdwyn. Die Bybel sal weer die ware Grondwet word.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt 28:19
Die doop is ‘n begrafnis. Is jy al begrawe?
“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.
“Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
“Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
“As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
“Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.
“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” Rom 6:3-11
Die doop kan niemand red nie, maar dis ‘n wonderlike stap van gehoorsaamheid.
“in wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” Kol 2:11-12
Alhoewel die doop nie kan red nie, vorm dit beslis ‘n integrale deel van die Wedergeboorte en die begin van ‘n Nuwe Lewe in Christus.
Na ons Jesus deur die doopwaters gevolg het, is ons ineen vervleg, met mekaar en met Hom. Die doopwaters bring finale skeiding tussen die gehoorsames en die Planeet Aarde. “Want ons burgerskap is in die Hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus...” Fil 3:20