Maandag 29 Oktober 2018

Die geheim lê in Ondersteuning

Ons is op die vooraand van ‘n nuwe seisoen van groot rugby. Rugby het byna ’n afgod geword, behalwe as mens deur ‘n ander bril daarna kyk…

Rugby is in ‘n sin ‘n geloofsport. Spelers moet die bal aanhoudend  in die geloof uitgee aan ‘n ander  speler, anders kan die span nie punte aanteken nie.

            So is die gemeentelike lewe ook ‘n spanspel… dra mekaar se laste, bid vir mekaar. Gal 6:2; Jak 5:16. Vul mekaar aan met talente en gawes.

            Soms, net soms, soos in die gevalle van Mannetjies Roux en Danie Gerber, kan daarin geslaag word om strykdeur te beweeg vir punte.

           Die geheim lê egter in ondersteunende spel… wees daar wanneer jou geloofsmaat die bal noodgedwonge moet uitgee.

            Ken die reels, die skrifte, sodat jy kan aftrap, na links of regs kan swenk, of wanneer jy summier ‘n opponent moet platloop.

            Wees ewe skerp op die aanval as op die verdediging. Ken die Skrifte.

            Soms oortree mens en kan jy deur die skeidsregter Jesus, vir 10 minute of langer, geskors word, maar die span staan gereed om jou met ope arms terug te verwelkom.

            Enigeen van ons kan struikel, en soms selfs val, maar dis die opstaanslag wat tel. Volharduing bring oorwinning mee.

            Gemeentelede moet meer saam oefen in die bidstondes en Bybelstudies… voordurende opleiding ondergaan.

            Dalk moet die gemeente ‘n regte rugby bal ook soms rondgooi om die volle begrip van die gemeentelike lewe te kry.

            Gemeentelede, al is dit ‘n huisgemeente, moet nader aan mekaar beweeg sodat hulle mekaar deeglik kan leer ken om as ‘n span beter te kan presteer.

            Dis hoekom gemeentelede nooit afwesig moet wees nie. ‘n Buitesenter kan nie die bal vir ‘n vleuel aangee wat nie daar is nie. ‘n Skrum kan nie sak as iemand makeer nie.

            Rugbyspanne speel gewoonlik wedstryde wat 80min duur. Gemeentes speel 24/7. Dis hoekom hulle Skriffiks en Geestelik fiks moet wees.

            Hulle moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:23-24

            Wees altyd daar as jou maat die bal moet uitgee! – Sjibbolet


Woensdag 24 Oktober 2018

Die Wekroep


Vir seker is iets aan die gang. Ek het die droom oor Die Laaste Uur gehad.

Danie Botha sing ‘n nuwe lied Dit is die Laaste uur

Hier kom die geredde Jood Amir Tsarfati met ‘n nuwe boek The Last Hour.

Ons is nuuskierig oor wat die HERE sê.


Met die laaste sensusopname het 34 689 907 Suid-Afrikaners gesê dat hulle Christene is. Meer as 34-miljoen “Christene staan skuldig voor God dat die land is waar hy is.

            Nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare in Sag. 4:6.

            Die God van die Bybel, is presies dieselfde God wat ons vandag aanbid. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Omdat Hy Almagtig is, kan Hy die geskiedenis verander, Hy kan die lewe van enige volk, koning, president of mens op aarde omskep, ja, Hy kan selfs oorloë halt roep – in antwoord op gebed!

            Die Here is in beheer van die koning. Spr 21:1 lees: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome;  Hy lei dit waarheen Hy wil.”

            Die nuwe vertaling lees: “Die Here kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!.”

            Israel, ons voorsate, pleeg ‘n gruwelike sonde. Die HERE sê aan Moses: “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Let op: Moses gryp in: Maar Moses besluit om 40 dae lank op die berg te gaan bid. Dis nie lank nie. Selfs in ons dag bid mense so lank en selfs langer.

            Moses was bang vir die toorn en die grimmigheid van die HERE (Deut. 9:19), maar hy het God nie met rus gelaat nie.

            Dit is wat ons ‘n (magtige of vurige) gebedstryd noem, wanneer iemand bid asof sy lewe daarvan afhang. Jak 5:16

            Moses se saak met God was skoon. Hy het boonop God se belofte gehad: “Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak!”

            Hy is egter deeglik daarvan bewus wat die uiteinde gaan wees as God sy toorn teen die volk sou verhef. Hy tree vir sy volk in die bres, 40 dae lank. Hoeveel van ons bid ‘n uur lank? En ons kan nie verstaan hoekom niks gebeur nie.

            God is in beheer, maar ons is Sy medewerkers: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9

            Ons sal soos Moses ook moet ingryp deur middel van vurige gebed!

            Aan die Kruis op Golgota bid Jesus dat Sy moordenaars vergewe moet word.  Op die berg bid Moses: “Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde sou vergewe. En so nie, delg my dan maar uit U boek wat U geskryf het!”  Ex. 32:31,32.

            Moses het oorwin en so is die lot van ‘n volk bepaal. Is jy op oorwinningsgrond? Ons gebede is soveel werd as wat ons werd is. Die maat waarmee ons meet, sal ons mee gemeet word.

            Daar is Dawid se groot gebed toe Absalom in opstand gekom het en die koning in skaamte moes vlug. Dawid se saak het hopeloos gelyk. Daar sit die indringer in die hoofstad Jerusalem op Dawid se troon.

            Psalms sê Dawid was ‘n man van gebed. In Ps. 3 bid hy: “O HERE, hoe het my teenstanders vermenigvuldig! Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie…  Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.

            “Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my vanaf Sy heilige berg. Ek het gaan lê en aan die slaap geraak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my. Ek sal nie vrees vir tienduisende mense wat rondom teen my gereed staan nie…  Die heil behoort aan die HERE; laat U seën wees oor u volk!  Sela.”

            Die oorwinning wat later op die slagveld behaal is, Absalom se tragiese einde en die herbevestiging van Dawid as koning, was reeds in die onsigbare area van gebed besleg.

            Christene sit soms maande by beraders in die hoop om gehelp te word met probleme wat oor hulle pad gekom het. Hulle het nog nie die geheim geleer dat selfs die lot van konings en volkere bepaal kan word deur die knie wat in die teenwoordigheid van God buig nie, tesame met die stem van belydenis en smeking wat die Troon van Genade bereik nie.

            Daniël se gebede het die groot Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud. Hy het nie die koning se bevel gevrees nie en het geweier om die beeld te aanbid. Daniël kon dit doen, want hy het met ‘n skoon gewete voor God kon staan.  Dit is ook hoe hy geweet het dat God hom sou red.

            Dit baat nie ons wil ook 40 dae lank bid maar ons saak met God is nie reg nie.  God laat Hom nie bespot nie.

            Daniël se saak met God was reg en daarom kon hy die goddelose politieke kwaaddoeners wat sy ondergang gesoek het, trotseer.

            “En toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal per dag op sy knieë geval en gebid, en lofprysinge teenoor God gespreek.”

            So beland Daniël in die leeukuil. Sy oorwinning in die leeukuil was nie  toe hy heelhuids daar uitklim nie, maar juis toe hy daar ingegaan het. Hy het die leeukuil in oorwinning betree. Hy had ‘n vaste vertroue in sy God.

            Duisende het in afwagting gesit om te sien hoe die leeus Daniël verskeur. En toe gebeur daar niks. ‘n Engel het die leeus se bekke toegestop.

            Dan kom die deurbraak! “Toe het koning Darius aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees! Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in Ewigheid en Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en Sy heerskappy duur tot die einde toe.

            “Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die Hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”

            Dit help nie jy weet al hierdie goed en jy GLO nie.

            As meer as 34 miljoen Gelowiges in Suid-Afrika aan hierdie Wekroep gehoor gee, sal die land dan nie genees nie? As daar nie regtig 34-miljoen Gelowiges is nie, beoefen dan die mostertsaadjie geloof.

            Terloops, toe ek in Rome die Evangelie aan ‘n groep toeriste gebring het, het die leier  by my afsluiting gesê: “Ja, dis is heel duidelik, ons is net papier Christene.”.—Sjibbolet

Maandag 22 Oktober 2018

God skryf nog aan jou storie



God skryf nog aan jou storie. Moenie die pen uit Sy hand wil neem en self wil skryf nie. Doen jy liewer wat Hy gesê het jy moet doen…

            “So behoort die mans hulle (wie?) eie vroue lief te hê (hoe?) soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar (wat doen hy?) hy voed en koester dit, net soos die HERE die gemeente.” Ef 5:28-29

            Die lewe kan soms oorweldigend besig raak. As die dae so lank raak en die tyd so min vir alles wat daarin moet gebeur is dit opvallend dat meeste mense tog die tyd neem om te eet, maar nie die tyd om lief te hê nie.

Seks is nie liefde nie, bloot ‘n uitvloeisel daarvan.  Daar is ook ‘n breë verskil tussen seks en gemeenskap.

            Dit is egter opmerklik dat daar so dikwels in hierdie tye totaal vergeet word van iets anders wat jy moet beskerm en behou tot jou dood toe... jou huwelik!

            Dikwels word die vroue van besige manne emosioneel anoreksies gelaat, of hulle ly later aan verwerping en allerlei senuwee probleme. Hulle word emosionele wrakke.

            Manne, voed julle vroue met wat hulle nodig het, liefde. Koester vir jou vrou dit wat vir haar kosbaar is, soos die HERE met sy gemeente ook doen!

            En as jy nie weet wat ware liefde is nie, soek dringend hulp.

            Tydens berading is dit duidelik: Sommige het getrou oor Eros (seksuale) liefde, ander weens Fileo (menslike) liefde,  en die suksesvolles, weens Agapé (Goddelike) liefde. Dit was ook Petrus se blaps. Jesus vra: het jy My (Agapé) lief. Petrus begryp nie en antword: Ja, ek het U (Fileo) lief. Hy doen nie selfondersoek nie. Hy probeer nie vasstel wat gaande is nie Drie keer trap hy in diesefde strik… tot die haan kraai.

Doen bietjie selfondersoek: “Jy moet die Here jou God liefhê (hoe?) met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

            Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: (let op) Jy moet jou naaste liefhê (hoe?) soos jouself.” Matt 22:37-39

            Vra nou vir jouself, hoe lief het jy jouself. Jy sal nie waarlik kan liefhê as jy nie eers jouself lief het nie.

            Maak werk hiervan, jou huwelik en jou toekoms hang daarvan af... asook jou kinders se welsyn,… en uiteindelik die gemeente. -- Sjibbolet


Maandag 15 Oktober 2018

Neem jou Swaard op…


As die skape hier onder ‘n herder had, sou die herder voor geloop en die skape gevolg het want hulle ken die herder se stem. In Suid-Afrika ken ons nie meer iets soos skaapherders nie. Die skaap word maar aangejaag en soms moet die honde help. Destyds het skaapwagters snags by hul skape geslaap. Daar was ‘n sterk band tussen die skape en hulle herder.

            Gelowiges is ook skape en predikante die herders. Herders moet die skape voed sodat hulle kan lam, en selfs drie- en vierlinge kan voortbring. Ons moet die getal volmaak. Skape moenie aangejaag word nie, dan is daar geen herder om te volg nie.  Wanneer ‘n skaap op sy rug beland is hy magteloos en sterf, behalwe as die herder hom terug op sy bene help… maar as daar geen herder is nie…

            Baie kerkgeboue in SA staan leeg. Ander is verkoop en dien deesdae as drank- en ander winkels.
cid:image001.jpg@01D460BD.8F5F7430

In ‘n stad in SA was ‘n kerkgebou, met skape wat in die veld rondgedwaal het. Ons het diekape bymekaar begin maak en die eienaars van die kerk genader om dit vir dienste te kon gebruik. Die eienaar het nee gesê en alles binne die gebou verwyder. Die foto onder is tekenend van die toestand,

            Ons het al gerapporteer oor die gegradueerde Philip van Schalkwyk, ‘n multi-miljoener wat alles verloor het en vyf jaat boemelaar in die Kaap was. ‘n Swartman het hom na die HERE toe gelei en gehelp om sy lewe om te ker. Philip het vir ons vertel hoeveel boemelaars vandag gegradueerdes is. Daar wag werk op ons. Die HERE hou ons verantwoordelik.




Die volgende verhaal vertel sy  eie hartseer storie:

Die omie kom gebukkend, skuifelend die pad afgestap, sy verkreukelde hoed styf in sy hand vasgeklem. Die plooie trek donker dongas oor sy gesig, en sy oë is dof en blou. Sy klere hang soos ʼn meelsak om hom, sy skoene het al beter dae gesien. Sy hare wapper in drie slierte om sy voorkop, sonverbrand.

"Boetie! Boetie!" roep hy na my.

Ek gee hom een kyk en kyk dan anderpad.

Net nog 'n boemelaar, net nog 'n bedelaar.

"Boetie! Boetie!" roep hy weer.

Ek draai my rug op hom en sluit die motordeur oop.

"Boetie, boetie! Wag, ek wil met jou praat." Sy stem is skor.

"Seker van al die drank," dink ek, klim in die motor en sluit die deur.

Hy struikel van die sypaadjie af, kom krom, oud en verwaarloos na my aangestap.

Ek skakel die motor aan, kry trurat en verlaat hom, eensaam en alleen.

"Kry vir jou werk. Maak soos ek maak, dit bring geld, dan kan jy suip tot jy omval," gaan dit deur my gedagtes.

Ek kry eerste rat, wikkel die petrolpedaal en laat hom in ʼn stofwolk agter.

Ek sien in die truspieël hy beduie, hande omhoog.

"Ja, joune ook," sê ek hardop, "net soos jou soort is - as jy nie iets kry nie, is ek altyd die skuldige."


By die huis vertel ek vir Vroulief van die voorbarige bedelaar, wat ek gesien het.

Vroulief is dadelik Moeder Hen : "Waar slaap die arme man vanaand? Dit lyk asof dit gaan reën."

"Moenie oor hom worrie nie, sy soort het altyd 'n plan, hy wurm hom met 'n sak wyn iewers in 'n kombers toe en verdrink die dag van môre. Plaas dat hy karre oppas, dit sal daai drankgeldjies meer kosbaar maak."

"Swerwer, jy is ʼn harde man. Wat daarvan as hy drink? Hy is ook net ʼn mens, net soos jy," berispe Vroulief.

"Wat, 'n man soos ek? As hy ʼn man was, het hy 'n manier gesoek om 'n geldjie te verdien vir sy lustigheid. Nou wil hy my geld bedel, dit waarvoor ek gewerk het, met my sweet, my arbeid ... Se dinges, vrou! Kom ons vergeet nou die episode, ek is klaar spyt ek het jou vertel."

Vroulief stap kop onderstebo kombuis toe, ek maak my gemaklik op die stoep, bier in die hand.

" Kan ook nie jou mond hou nie," mompel ek.

My hond kom lê onder die stoel en ek voer hom ʼn stukkie biltong. Hy lek my hand dankbaar.

Eensklaps staan vrou in die deur.

"Swerwer, ek het vir die man 'n pakkie kos gepak, ons vat dit nóú vir hom. Een van die kinders se komberse is ook oor die muur, ons vat dit ook."

Ek ken die stemtoon, onverbiddelik.

"Vrou, is jy gek? Die man is seker lankal weg. Gaan skep op, ek is honger," probeer ek walgooi.

"Swerwerrrrrr ... as jy nie wil ry nie...... sal ek," druk sy dit uit.

Ek weet teëpraat gaan nie help nie, my mooi van môre se dag hang hiervan af.

Ek staan op, vat die motorsleutels, en draai half vermakerig na haar: "Nou kom, as jy hom wil kos gee, doen dit self."

Ons ry in stilte, met slegs die geruis van bande. Vroulief klou die pakkie op haar skoot vas.

Voor die koöperasie stop ek op dieselfde plek. In die lig van die voertuig sien ek hom op die sypaadjie sit, sy kop op sy knieë, hande wat hang tot op die grond.

"Sien jy, wat het ek jou gesê? Klaar dronk."

Vrou ignoreer my, maak die deur oop en skud die omie aan sy skouers.

Stadig lig hy sy kop; trane stroom oor sy wange.

"Nog dronkverdriet ook", dink ek.

"Omie, ek het ietsie gebring om te eet", praat Vroulief sag en vat sy hande in hare.

Die omie se lyf begin ruk, hy huil nou openlik, trane stroom deur die plooi-dongas.

"Nooientjie, dis nie ek nie. Die tannie by die huis het in die bad geval. Sy kan nie opstaan nie. Ons foon werk al twee weke nie meer nie. Ek het asma, ek kon nie verder nie. Ek het ʼn kêrel probeer stop, maar hy het weggejaag ... sonder om te luister. Al wat ek kon doen, was om te bid. God het vir my 'n engel gestuur. Asseblief, gaan help die tannie ... asseblief, gaan help haar."

Ek sit met ʼn knop in my keel, trane wil oor die walle stroom, die hartseer is diep en skerp. My gemoed is stukkend, my siel in opstand. Waar en wanneer gaan ons besef: "Ek is my broer se herder"?

Wyle William Booth was ‘n Metodiste predikant wat besef het te veel skape loop buite doelloos en herderloos rond. Hy het uit die kerk bedank en hom oor die straatkinders, die prostitute, die ellendiges, die armes, die treurendes, gevallenes ontferm. Gou het ander hom gevolg. Hulle was so vervolg dat een van sy medewerkers, ‘n vrou, met klippe doodgegooi is. William Booth was die stigter van die Helisleër wat later ‘n wêreldwye kerk geword het.

Luister na die kommentaar by Booth se begrafnis… aiwn 10 000 afgevaardiges van reg oor die wêreld en 250 000 van sy volgelinge in Brittanje. Neem dan jou swaard op en bring die verlore skape in. Jesus verwag dit van jou en my. - Sjibbolet

https://www.youtube.com/watch?v=utDd1awwPaE

Preview YouTube video William Booth Funeral

Sondag 14 Oktober 2018

U stok en U staf vertroos my



In 1849 het dr. Alexander Duff, die man wat die suksesvolle Dr Duff meisies hoërskool in Kalkutta, Indië gestig het, was hy naby Simla aan die voet van die reuse Himalajagebergte op ‘n sendingreis.

Eendag lei sy roete teen die berg op, al langs ’n nou voetpad wat teen ’n steil rant uitgekap is. Hy sien hoe ’n herder met sy kudde met die voetpad langs die berg afkom.
Die voetpad loop een kant, naby ’n diep afgrond langs, verby. Die herder loop voor en sy skape volg. Elke nou en dan gaan die herder staan en kyk terug hoe sy skape hom volg.
In sy hand hou hy ’n stok, langer as hyself, vas. Om die een punt van die stok was ’n metaalband met ’n ronde haak aan, gedraai. Om die ander punt was daar ook ’n metaalband gedraai, maar ’n plat, swaar yster, steek daar uit.

Dr. Duff staan aangedaan na die herder se manier van doen en kyk. As een van die skape teen die berghang probeer uitklouter, haak hy die haak om die skaap se agterbeen en trek die skaap versigtig terug op die voetpad.

Dieselfde as ’n skaap dit te naby die afgrond waag.

Dr. Duff vra die herder hom oor die plat, ysterdeel, van sy stok.

“Hiermee slaan ek enige ongedierte of iets wat die skape bedreig,” verduidelik die herder selftevrede.

“Voel,” nooi hy en gee sy stok in dr. Duff se hande. Die slaandeel van die stok was swaar. Hy kon ’n wolf of jakkals daarmee sleg seermaak, straks  doodslaan. Hy gebruik dit veral snags dikwels, vertel die herder. Dit is die tyd wanneer ongediertes kom om die skape kwaad aan te doen.
          Dr. Duff dink aan Psalm 23 en verstaan wat die herder se stok en staf regtig beteken.

Dit is hoe ons groot en goeie Herder ons bewaar. Met die stafdeel trek Hy ons terug op die regte koers, met die stokdeel verdedig en beskerm Hy ons teen gevaar.

“Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape. ’n Huurling… as hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar… Ek is die goeie Herder. Ek ken my skape… en Ek lê my lewe af vir die skape.” Joh.10:11-15
          Mens voel sommer verlig en veiliger nou dat jy weet wat die stok en die staf se rol is.
          “… ek sal geen onheil vrees nie… (want) u stok en u staf dié vertroos my.” Ps 23:4

Donderdag 11 Oktober 2018

God in aksie

Gawe en Volheid van die Heilige Gees


Ons kan nie ons Christenskap verdedig as God nie deurentyd in aksie is in ons lewens nie.

            By die Wedergeboorte is elke gelowige onmiddellik 'n kandidaat vir die Gawe van die Heilige Gees en elke gelowige benodig die krag van die Heilige Gees om die werk wat Jesus Christus begin het, voort te sit. "Nie deur krag of deur geweld nie – nie met bomme, missiele en oorlogvoering  nie  –  maar deur My Gees."  (Sagaria 4:6).



2.   Die Gawe van die Heilige Gees word gegee deur God se geregtigheid en nie terwille van 'n gelowige se geregtigheid of bekwaamheid nie. Dit is 'n "gawe" en nie 'n "kenteken van meriete" nie. Sou gelowiges God nader vir hierdie Gawe op grond van hulle eie geregtigheid of heiligheid, dan opponeer hulle gewetens hulle geloof en hulle gewetens sê: "Jy is nie goed genoeg nie."



3.   Die werk van "die prediking van die Gees deur die geloof" (Gal 3:5) word skynbaar nie aan elkeen gegee nie. Filippus het na Samaria gegaan en Jesus Christus het die Koninkryk van God verkondig. Groot getalle is gered en genees maar niemand het die Gawe van die Heilige Gees ontvang nie. (Hand 8:5-12)



4.   Petrus en Johannes het daarheen gegaan en vir hulle gebid. Toe hulle hande op hulle gelê het, het die Heilige Gees op hulle gekom. Maar hierdie bediening is nie beperk tot predikers nie.  Kyk na Ananias.  (Han 9:10-17)



5.   Hierdie hele bediening berus op 'n helder en ferm oortuiging dat God die Heilige Gees aan gelowiges gee uit genade as 'n "gawe" en nie aan 'n paar uitverkorenes wat moontlik as "waardig" beskou word nie.



6.   "Geloof wat ontvang" is altyd aktief. Dit wag nooit nie, maar is beslis en neem in besit.  Om te wag en om God te smeek vir die "gawe" is 'n teken van ongeloof. Ons is erfgename. Ons het die gawes geërf. Erfgoed word ‘n mens se eiendom deur dit op te eis.



7.   Na Pinkster is niemand onderrig om te wag of te smeek vir die Heilige Gees nie.  Hulle is geleer "om die Heilige Gees te ontvang deur die woord van geloof en ook deur handoplegging".  (Han 8:14-17;  9:17;  10:44-48;  19:6 en Gal 3:2-5)



8.   Die Apostels het die spreek in Hemelse tale as 'n teken van die ontvangs van die Heilige Gees aanvaar. Wanneer jy die Heilige Gees ontvang, ontvang jy saam daarmee ‘n Hemelse taal…… spreek  dit net!



9.   Jesus sê:  "As iemand dors het (dit is begeer) laat hom kom (glo en vra) en drink (dit is aktiewe geloof) van die lewende water (die Heilige Gees)".  (Joh 7:37). Die grootste herlewing in die geskiedenis, wag op ons en as jy gereed en voorbereid is, sal die Vader ons gebruik om die duisende soekende siele na God en verlossing te bring.



DIE GAWES VAN DIE HEILIGE GEES



Die bediening en gawes van die Heilige Gees wat die Liggaam verwaarloos en meesal verloor het, is die Vader Jesus nou besig om te herstel. Hy is besig om Sy wysheid en Sy mag en Sy gesag oor Sy eiendom te herstel.

            Ons, elke Geesvervulde gelowige, het een of meer gawes en bedieninge. Alle gelowiges word geroep om Hom te dien en het die vermoë gekry om die werk te doen. Niemand is uitgesluit nie. Of jy dit weet of nie  –  jy is toegerus deur die Heilige Gees om  sekere pligte te vervul.

            Jy is geroep, uitverkies en bonatuurlike mag en gesag gegee om daardie gawes en bedieninge te gebruik. Met Sy wysheid en Sy sterkte kan jy groot dinge doen. Jy kan die "groter dinge" doen soos die Vader Jesus belowe het.  Christus het  met “groter” meer, bedoel. Ja, ons sal meer dinge doen as wat Hy gedoen het. Is dit nie wonderlik nie. Elke gawe is 'n teken dat die Vader deur 'n mens, met behulp van sy medewerking, werk. Onthou, ons is tot alles in staat deur Christus wat ons die krag daartoe gee!

            Daar is nege bonatuurlike gawes van die Gees, wat die Vader aan die mens gee en wat Hy uitdeel soos Hy wil. 1 Kor 12

Dit kan in drie groepe verdeel word:



•          Drie gawes van openbaring ('n woord van wysheid, 'n woord van kennis en onderskeiding van die geeste. (1 Kors 12: 8-10

•          Drie gawes van Krag (die gawe van geloof, die gawes van genesing en die werkinge van wonders, verse 9-10)

•          Drie gawes van geïnspireerde uitinge (verskeidenheid van tale, die uitleg van tale en die gawe van profesie, vers 10).



Hierdie is verskillende gawes, maar dit is dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil. Hy gee gewoonlik een of meer aan elkeen wat met die Gees vervul is  (Rom 12: 6-8), met ander woorde een of meer gawes kom in die Geesvervulde gelowige se lewe tot openbaring.

            Hoe weet mens dat jy byvoorbeeld die gawe van gesondmaking het? Maklik. Begin net vir siekes bid. Elkeen van ons het gawes geërf. Die Vader sal die gawes wat ons het bevestig.

            Hierdie nege gawes word gegee om eer en heerlikheid aan die Gewer te bring, en om in die behoeftes van die mens te voorsien. Hulle word gegee as tekens en wonders om die gelowiges en ongelowiges te oortuig dat die Vader in hul midde werk.

            Ons Vader Jesus werk dus saam met en deur mense. As Hy Sy gawes aan Sy medewerkers toebedeel, dan gee Hy hulle mag en gesag om die tekens en wonderwerke te doen om sodoende die sondige wêreld te bemoedig en te oortuig.

            As die Geesvervulde gelowige een of meer van hierdie gawes van die Gees openbaar, dan openbaar hulle bonatuurlike kennis of bonatuurlike uitinge. Hulle WEET dinge wat die natuurlike mens nie weet nie; hulle DOEN dinge wat die natuurlike mens nie kan doen nie;  hulle sê dinge wat die natuurlike mens nie kan sê nie. Die onderskeid lê tussen die vleeslike en die geestelike vlak.

            Elke gawe is Jesus Christus in aksie en is 'n manifestasie van Sy mag en wysheid.  Die werkinge van die gawes voorsien in die mens se behoeftes. Dit dien tot die mens se saligheid, doping, genesing en verlossing van die bose. Dit is die pad van heiligmaking.

            Hierdie groot en magtige gawes is die wapens waarmee die Vader Sy soldate toerus.  As ons in Sy weë wandel en onsself aan die Heilige Gees oorgee om die gawes te manifesteer is daar geen rede om bose magte, demone, te vrees nie. Die hoofdoel van die gawes is om die werke van Satan af te breek en om die Koninkryk van God uit te brei.

            Ons het deurentyd hierdie twee magte en kragte wat teenoor mekaar staan. Die Satan met sy gevalle Engele en demoniese magte sal tot aan die einde van dae voortgaan soos ‘n brullende leeu om te verslind wie hy ook al kan.

            Om aan God se kant te staan, beteken om die volle wapenrusting aan te trek, dit is, die lering wat ons in hierdie skrywe deurgee.

            Vir diegene wat die gawes openbaar, word die bonatuurlike "natuurlik". Die onmoontlike word "moontlik".  Ons verwag die onverwagte.  Ons sê en doen dinge soos die Vader Jesus laat sê en doen het.  Wat ons die werkinge van die gawes noem, is in werklikheid die manifestasie van die Jesus self, wat in ons woon en deur ons werk. Daarom is genesings en wonders vandag moontlik  –  daarom is hulle noodsaaklik om die wêreld te oortuig dat Jesus nog lewe.

            Die Vader beveel ons: "Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit." Mat 10:8 – Sjibbolet

Maandag 08 Oktober 2018

Toerusting van God aan Sy Medewerkers

ONS is in die eerste plek nie gered om Hemel toe te gaan nie, ons is gered om die Koninkryk van God te bou. Daar is diegene wat  beweer dat hierdie taak uitsluitlik aan die herders van gemeentes opgedra is. Nee, elkeen van ons is geroep tot diensbaarheid.

          Daarom is daar ook aan elkeen van ons toerusting gegee om die taak mee te verrig. Daar staan ook nie geskryf dat ons geboue moet oprig, dit kerke noem en dan daar binne moet bidure hou waarin ons bid en smeek: “Vader, stuur die siele in,” nie.

          Die opdrag is elke keer dat daar uitgegaan moet word om die siele in te bring, uit te vaar na die diep kant van die lewe toe en  nette der nette vol in te bring.

          "Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Vader het saamgewerk en die Woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het." Mark 16:20

          "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle." Joh 20:21

          Die Bybel leer dat die Vader die Wedergeborene as 'n werkende vennoot in Sy planne en werke beskou. God en Abraham tesame het 'n groot "nasie" (Israel) geskep. God en Moses het saamgespan om vir ons die Tien Gebooie te gee wat die grondslag van alle siviele en sedelike wette vandag is.  Dit is deur God en Moses tot stand gebring.

Jesus self was 'n vennoot van die Vader in die werk van verlossing. Hy sê: Het u nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?" Luk 2:49

Paulus, die ywerige en bekwame sendeling, versoek alle Christene om te onthou dat ons gered is om te dien. "Wees nie traag in die ywer nie, wees vurig van gees, dien die Vader." Rom 12:11

          Ons kan ware kinders van God wees, maar die vraag is of ons, ons  lewens  in totaliteit aan Hom oorgegee het. Is ons nog in beheer van sekere sektore van ons lewe, of is God  Heer en Meester van ons ganse  bestaan? Hy sê Hy is ‘n jaloerse God. Hy wil volle beheer hê. Hoe gouer dit gebeur, hoe  gouer begin ons floreer.

          Die rede hoekom ons nie by die sterwe in Christus uitkom en waarom ons nie groei en floreer nie, is omdat ons nie self die Bybel bestudeer nie. Ons word nie gewas deur die Woord nie.

Ons gaan eerder ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. So sit ons dan ook keer op keer onwaardig by die Nagmaaltafel aan en kan nie begryp waarom ons sake nie floreer nie.

          As ons die Vader aktief dien, dan kan ons ook verwag om die Vader aktief in ons lewens te sien, dan kan ons God se seëninge verwag, dan kan ons oorvloed verwag.

          Wanneer ons onsself aan God oorgee, begin ons 'n sakevennootskap met God.  Ons word "medewerkers van God"1 Kor 3:9. 'n Vennootskap met God is 'n saak waarin God die kapitaal voorsien en ons die arbeid. Hy voorsien die wysheid, die mag en die middele (finansies, ens.) en ons verskaf die diensbaarheid.

          Daardie vennootskap word ook weerspieël in ons huwelike. ‘n Huwelik is ‘n drieledige Verbond tussen man, vrou en God. ‘n Verbond is ‘n kontrak, dit mag nie verbreek word nie en God  sê self dat, wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Wat op die aarde gebind is, is ook in die Hemel gebind. Die huwelik is ‘n Goddelike instelling.

          So is ons Wedergeboorte ‘n Goddelike instelling. Ons moet weier dat enigiets of enigiemand daardie verhouding, daardie Verbond, tussen ons en ons Skepper, ons Vader, verbreek.

          God wil Homself betuig en Hy het ons uitverkies as 'n kanaal deur wie Hy Sy mag en besluite kan betuig.

          Ons is geroepe diensknegte en getuies – medewerkers 1 Kon 3:9  –  God wil nie Sy werk voltooi sonder om die mens te gebruik nie.

God is die enigste Eienaar van Sy saak. Hy besit die planeet Aarde Ps 24:1; 50:10, Ook al die rykdomme. Hagai 2:8. Hy besit jou en my lewens (Rom 14:8); God, in Sy goedertierenheid het elke mens ryklik bedeel met sekere gawes, talente en moontlikhede.

Dié dinge moet nie selfsugtig of tot ons eie voordeel aangewend word nie, maar tot verheerliking van God en die vestiging van Sy Koninkryk.

          "Doen alles tot verheerliking van God." 1 Kor 10:31

          "Julle behoort nie aan julself nie, want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in jul liggaam en in jul gees wat aan God behoort." 1 Kor 6:19-20. Ons is rentmeesters van die gawes wat God ons gegee het.

          Ons is rentmeesters van ons tyd. "Koop die tyd uit omdat die dae boos is." Efes 5:16  Moenie jou tyd verkwis nie. Ons is rentmeesters van ons talente. Jesus het 'n harde oordeel uitgespreek oor die man wat uit vrees sy talent begrawe het. Lees aandagtig Matt 25:28-30.

          Ons is rentmeesters van ons geld. Geld is 'n gawe van God en moet tot Sy eer gebruik word.  Lees 1 Tim 6:10.

          Ons is ook rentmeesters van die Evangelie. Die roeping om die grootste nuus op Aarde te verkondig, is aan die verlostes gegee.

          Dis ‘n ernstige oortreding om nie jou gawe aan te wend nie. – Sjibbolet

Vrydag 05 Oktober 2018

Om te murmureer is fataal


Om te murmureer is fataal

Oral waar mens in SA gaan hoor jy die murmurering oor die verval, die onheil. Murmurering is die einde van ons pad… Luister: “Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.”

            Dit is deesdae onaangenaam en gevaarlik om na ‘n vleisbraai te gaan. Die murmering suig jou daar in soos ‘n seestroom. Dis om die satan te loof vir al sy werke, sy onheilswerke. Dit laat hom baie goed laat voel, ons, wat so vurig getuig oor sy werke. Dink net hoe teleurgesteld die HERE moet wees. Wanneer getuig almal so oor Jesus?

            “Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.

            “Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.

            “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die Ewige lewe verwag.

            “En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.” Judas 1:16-22

            Los die mumurering. Weier om te murmureer. Kom saam in eenheid in Christus Jesus onse HERE en staan as verenigde front die onheil teen.

            Dit help nie ons gaan na die een manne- en vrouekamp na die ander en ons murmureer nie. Murmurering het nog niks in die land verander nie.

            Dit is ons wat die verandering te weeg moet bring. Deur te murmureer vererger ons alles. Ons beroof onsself van God se ryke seëninge en ons eie vooruitgang ly daaronder.

            Bly weg van die nuus af. Maak ander dadelik stil wat wil murmureer. Moedig almal aan om met kragtige gebed as wapen dit situasie om te keer.

            Vervang murmurering met lofprysinge!

Laat ‘n geestelike CD eerste ding in die oggend deur jou huis weergalm… en sing saam. Gaan wandel vroegoggend te midde van die voëlgesang in jou tuin, Jy sal die Heilige Gees daar vind.

            Luister na die voëltjies, hulle laat elke oggend hul vrolike liedere weergalm. Soggens groet hulle die nuwe dag nog voordat die dag breek. – Sjibbolet


Woensdag 03 Oktober 2018

Altyd voorentoe!

Voorwaarts…


As jy ploeg, moet dit pyl reguit vore wees. As dit vore skeef en krom is, skep jy erge probleme. Na die ploegtyd, kom die planter, en daarna die dorsmasjien en die goed kan nie soos ‘n dronk mens heen en weer tussen krom vore heen slinger nie.

Wanneeer mense die eerste keer met ‘n trekker ploeg, wil hulle aanhou omkyk om seker te maak die vore is reguit. Dis ‘n fout. Dis juis dan wat alles krom en skeef verloop.  Mens kry vir jou ‘n baken doer voor en ploeg reguit daarheen. Terugkyk is fataal.

            Baie van ons maak dieselfde fout op die lewenspad. Ons kyk terug…

            Hoor wat sê Paulus: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:14

            Onthou ook: Daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie.

            In die tyd waarin ons leef is dit veral van kardinale belang om reguit na voor te kyk. Ons maak klaar met die aarde. Ons is op pad na die Nuwe Jerusalem. Dis waar ons ware burgerskap is. Kyk op en leef in afwagting vir die koms van ons Redder.

            Intussen, trou en gehoorsaam aan ons opdrag,  bring ons soveel siele moontlik in.

            As enigiets jou aandag probeer aftrek van die pad voor jou, verwerp dit in Jesus se naam want wanneer mens wegkyk of omkyk, mis jy die geleenthede wat die HERE voor jou plaas.

            Langenhoven se berou: “Ek kon my weldade baie dikker gesaai het en hulle sou mekaar nog nie verdring het nie.  Nou staan hulle so yl dat my onkruid hulle byna verdruk.”  - Sjibbolet.buro@gmail.com

Maandag 01 Oktober 2018

Roei dit uit met vurige gebed

Mishandeling, die vernietigende euwel van ons tyd

Van die konsert  van die lewe kry niemand ‘n program nie…

            Oor die wandel saam met Koning Jesus, het ons ‘n handbook en Engele bystand.

            Geen voël kan egter met geknipte vlerke vlieg ne.  “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Jes 40:31

            Ons kan opvaar met vleuels soos die arende. ‘n Sonde is egter besig om die volk te vernietig: Die mishandeling, van veral vroue en kinders.

Die mishandeling geskied in die vorm van voortdurende beledigings, skeltaal, vernedering, verkleinering, valse beskuldigings. iemand kry die skuld vir alles wat verkeerd is.

            Hierdie mondelinge mishandeling vind later selfs In ander se teenwoordigheid plaas. Die onskuldiges voel hulle kan later niks meer reg doen nie. Met alles word fout gevind.

            Vroue sit bv daagliks in spanning en vrees hul mans se tuiskoms met: Wat het ek vandag weer verkeerd gedoen?

            Hierdie verbale mishandeling vernietig die lewe van die slagoffer. Baie hou uit en verduur. Hierdie optrede verbreek ook die huweliksbande.

            ‘n Gepaste benaming vir die skuldiges, is Skêrmense. Hulle knip ander se vlerke so erg dat hulle later nie meer  kan vlieg nie.

            Van ware liefde is daar later geen sprake meer nie. Die kinders begin daar onder ly en nie lank nie of alles val uitmekaar…

Die onskuldiges vlug na egskeiding of selfmoord, drank en dwelmmiddels… Sommige vlug terug na hul ouerhuise. Dit alles is ‘n uitweg, maar nie ‘n oplossing nie.

In berading roep hulle uit: HERE, ek het niks meer om voor te lewe nie. Soos in ‘n landwye droogte word hulle soos lewende dooies.

            Veral vroue word gevangenes in hul eie huise. Trane loop in strome. Mense is stukkend. Ons moet ons oor vroue in hierdie tronke ontferm.

            Die Skêrmens het een of ander behae daarin om ander so te pynig. Hy of sy knip die ander se vlerke. 
            Daar is baie skêrmense, mense wat gedurig ander se vlerke knip wat maak dat hulle nie vry kan vlieg nie. Geknipte vlerke is traumaties. Dit beperk  die slagoffer se vermoëns.

Die slagoffers verdien dit nie. Gebedsgroepe moet soos ware intersessors by die Hemel ingryp vir hierdie slagoffers.  Die lew           e is te kort, ons durf dit nie duld nie.

Loof die HERE tot in die Hoogste Hemele  sodat hierdie slagoffers weer volvlerk kan vlieg tot eer en verheerliking van die HERE en sy Koninkryk….dast hulle soos arende kan vlieg.     

"Aan Hom wat deur Sy krag... magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink..." Efes 3:21

Van hierdie slagoffers sit in die kerkbanke, maar ons ander is nie geestelik ingestel sodat die Heiige Gees die pyn en lyding aan ons kan uitwys nie. Wanneer alles uitmekaar spat dan bely ons: “Ons het dit nie sien kom nie.”
            Pleit by die HERE dat hierdie kettings verbeek word sodst  sy volk vry kan uitgaan om Hom te aabid en te dien. Doen dit in trane as dit nodig is en dra hierdie allesvernietigende la swat soos ‘n pandemie oor die land en die wêreld heen versprei.  –  Sjibbolet