Maandag 22 Oktober 2018

God skryf nog aan jou storie



God skryf nog aan jou storie. Moenie die pen uit Sy hand wil neem en self wil skryf nie. Doen jy liewer wat Hy gesê het jy moet doen…

            “So behoort die mans hulle (wie?) eie vroue lief te hê (hoe?) soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar (wat doen hy?) hy voed en koester dit, net soos die HERE die gemeente.” Ef 5:28-29

            Die lewe kan soms oorweldigend besig raak. As die dae so lank raak en die tyd so min vir alles wat daarin moet gebeur is dit opvallend dat meeste mense tog die tyd neem om te eet, maar nie die tyd om lief te hê nie.

Seks is nie liefde nie, bloot ‘n uitvloeisel daarvan.  Daar is ook ‘n breë verskil tussen seks en gemeenskap.

            Dit is egter opmerklik dat daar so dikwels in hierdie tye totaal vergeet word van iets anders wat jy moet beskerm en behou tot jou dood toe... jou huwelik!

            Dikwels word die vroue van besige manne emosioneel anoreksies gelaat, of hulle ly later aan verwerping en allerlei senuwee probleme. Hulle word emosionele wrakke.

            Manne, voed julle vroue met wat hulle nodig het, liefde. Koester vir jou vrou dit wat vir haar kosbaar is, soos die HERE met sy gemeente ook doen!

            En as jy nie weet wat ware liefde is nie, soek dringend hulp.

            Tydens berading is dit duidelik: Sommige het getrou oor Eros (seksuale) liefde, ander weens Fileo (menslike) liefde,  en die suksesvolles, weens Agapé (Goddelike) liefde. Dit was ook Petrus se blaps. Jesus vra: het jy My (Agapé) lief. Petrus begryp nie en antword: Ja, ek het U (Fileo) lief. Hy doen nie selfondersoek nie. Hy probeer nie vasstel wat gaande is nie Drie keer trap hy in diesefde strik… tot die haan kraai.

Doen bietjie selfondersoek: “Jy moet die Here jou God liefhê (hoe?) met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

            Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: (let op) Jy moet jou naaste liefhê (hoe?) soos jouself.” Matt 22:37-39

            Vra nou vir jouself, hoe lief het jy jouself. Jy sal nie waarlik kan liefhê as jy nie eers jouself lief het nie.

            Maak werk hiervan, jou huwelik en jou toekoms hang daarvan af... asook jou kinders se welsyn,… en uiteindelik die gemeente. -- Sjibbolet