Vrydag 05 Oktober 2018

Om te murmureer is fataal


Om te murmureer is fataal

Oral waar mens in SA gaan hoor jy die murmurering oor die verval, die onheil. Murmurering is die einde van ons pad… Luister: “Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.”

            Dit is deesdae onaangenaam en gevaarlik om na ‘n vleisbraai te gaan. Die murmering suig jou daar in soos ‘n seestroom. Dis om die satan te loof vir al sy werke, sy onheilswerke. Dit laat hom baie goed laat voel, ons, wat so vurig getuig oor sy werke. Dink net hoe teleurgesteld die HERE moet wees. Wanneer getuig almal so oor Jesus?

            “Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.

            “Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.

            “Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die Ewige lewe verwag.

            “En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk; en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.” Judas 1:16-22

            Los die mumurering. Weier om te murmureer. Kom saam in eenheid in Christus Jesus onse HERE en staan as verenigde front die onheil teen.

            Dit help nie ons gaan na die een manne- en vrouekamp na die ander en ons murmureer nie. Murmurering het nog niks in die land verander nie.

            Dit is ons wat die verandering te weeg moet bring. Deur te murmureer vererger ons alles. Ons beroof onsself van God se ryke seëninge en ons eie vooruitgang ly daaronder.

            Bly weg van die nuus af. Maak ander dadelik stil wat wil murmureer. Moedig almal aan om met kragtige gebed as wapen dit situasie om te keer.

            Vervang murmurering met lofprysinge!

Laat ‘n geestelike CD eerste ding in die oggend deur jou huis weergalm… en sing saam. Gaan wandel vroegoggend te midde van die voëlgesang in jou tuin, Jy sal die Heilige Gees daar vind.

            Luister na die voëltjies, hulle laat elke oggend hul vrolike liedere weergalm. Soggens groet hulle die nuwe dag nog voordat die dag breek. – Sjibbolet