Sondag 14 Oktober 2018

U stok en U staf vertroos my



In 1849 het dr. Alexander Duff, die man wat die suksesvolle Dr Duff meisies hoërskool in Kalkutta, Indië gestig het, was hy naby Simla aan die voet van die reuse Himalajagebergte op ‘n sendingreis.

Eendag lei sy roete teen die berg op, al langs ’n nou voetpad wat teen ’n steil rant uitgekap is. Hy sien hoe ’n herder met sy kudde met die voetpad langs die berg afkom.
Die voetpad loop een kant, naby ’n diep afgrond langs, verby. Die herder loop voor en sy skape volg. Elke nou en dan gaan die herder staan en kyk terug hoe sy skape hom volg.
In sy hand hou hy ’n stok, langer as hyself, vas. Om die een punt van die stok was ’n metaalband met ’n ronde haak aan, gedraai. Om die ander punt was daar ook ’n metaalband gedraai, maar ’n plat, swaar yster, steek daar uit.

Dr. Duff staan aangedaan na die herder se manier van doen en kyk. As een van die skape teen die berghang probeer uitklouter, haak hy die haak om die skaap se agterbeen en trek die skaap versigtig terug op die voetpad.

Dieselfde as ’n skaap dit te naby die afgrond waag.

Dr. Duff vra die herder hom oor die plat, ysterdeel, van sy stok.

“Hiermee slaan ek enige ongedierte of iets wat die skape bedreig,” verduidelik die herder selftevrede.

“Voel,” nooi hy en gee sy stok in dr. Duff se hande. Die slaandeel van die stok was swaar. Hy kon ’n wolf of jakkals daarmee sleg seermaak, straks  doodslaan. Hy gebruik dit veral snags dikwels, vertel die herder. Dit is die tyd wanneer ongediertes kom om die skape kwaad aan te doen.
          Dr. Duff dink aan Psalm 23 en verstaan wat die herder se stok en staf regtig beteken.

Dit is hoe ons groot en goeie Herder ons bewaar. Met die stafdeel trek Hy ons terug op die regte koers, met die stokdeel verdedig en beskerm Hy ons teen gevaar.

“Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape. ’n Huurling… as hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar… Ek is die goeie Herder. Ek ken my skape… en Ek lê my lewe af vir die skape.” Joh.10:11-15
          Mens voel sommer verlig en veiliger nou dat jy weet wat die stok en die staf se rol is.
          “… ek sal geen onheil vrees nie… (want) u stok en u staf dié vertroos my.” Ps 23:4