Wys tans plasings met die etiket God beskerm ons. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God beskerm ons. Wys alle plasings

Sondag 14 Oktober 2018

U stok en U staf vertroos my



In 1849 het dr. Alexander Duff, die man wat die suksesvolle Dr Duff meisies hoërskool in Kalkutta, Indië gestig het, was hy naby Simla aan die voet van die reuse Himalajagebergte op ‘n sendingreis.

Eendag lei sy roete teen die berg op, al langs ’n nou voetpad wat teen ’n steil rant uitgekap is. Hy sien hoe ’n herder met sy kudde met die voetpad langs die berg afkom.
Die voetpad loop een kant, naby ’n diep afgrond langs, verby. Die herder loop voor en sy skape volg. Elke nou en dan gaan die herder staan en kyk terug hoe sy skape hom volg.
In sy hand hou hy ’n stok, langer as hyself, vas. Om die een punt van die stok was ’n metaalband met ’n ronde haak aan, gedraai. Om die ander punt was daar ook ’n metaalband gedraai, maar ’n plat, swaar yster, steek daar uit.

Dr. Duff staan aangedaan na die herder se manier van doen en kyk. As een van die skape teen die berghang probeer uitklouter, haak hy die haak om die skaap se agterbeen en trek die skaap versigtig terug op die voetpad.

Dieselfde as ’n skaap dit te naby die afgrond waag.

Dr. Duff vra die herder hom oor die plat, ysterdeel, van sy stok.

“Hiermee slaan ek enige ongedierte of iets wat die skape bedreig,” verduidelik die herder selftevrede.

“Voel,” nooi hy en gee sy stok in dr. Duff se hande. Die slaandeel van die stok was swaar. Hy kon ’n wolf of jakkals daarmee sleg seermaak, straks  doodslaan. Hy gebruik dit veral snags dikwels, vertel die herder. Dit is die tyd wanneer ongediertes kom om die skape kwaad aan te doen.
          Dr. Duff dink aan Psalm 23 en verstaan wat die herder se stok en staf regtig beteken.

Dit is hoe ons groot en goeie Herder ons bewaar. Met die stafdeel trek Hy ons terug op die regte koers, met die stokdeel verdedig en beskerm Hy ons teen gevaar.

“Die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape. ’n Huurling… as hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar… Ek is die goeie Herder. Ek ken my skape… en Ek lê my lewe af vir die skape.” Joh.10:11-15
          Mens voel sommer verlig en veiliger nou dat jy weet wat die stok en die staf se rol is.
          “… ek sal geen onheil vrees nie… (want) u stok en u staf dié vertroos my.” Ps 23:4

Woensdag 15 Julie 2015

Die Onverwagte Besoeker



"...Ek was 'n vreemdeling en julle het my nie gehuisves nie...Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie." Matt 25:31-46
            Een dag in 1775 het die bestuurder van die grootste hotel in Baltimore, Amerika, herberg geweier aan 'n man wat soos 'n eenvoudige boer aangetrek was. Hy het gevrees die man se armoedige voorkoms sal die aansien van sy luukse hotel skade berokken.
Die man het niks gesê, net omgedraai en vertrek om elders vir hom herberg te kry.
Die volgende dag ontdek die bestuurder van die luukse hotel, dit was Thomas Jefferson, visie president van Amerika, wat hy van sy deur af weggewys het.


Thomas Jefferson

Hy het dadelik 'n boodskap aan Jefferson, een van die beroemdste mense in die wêreld, gestuur en gevra hy moet asseblief terugkom na sy hotel toe. Hy is baie welkom in sy hotel.
Jefferson het teruggeantwoord: "Ek stel u uitnodiging op prys, maar as u nie vir 'n arm Amerikaanse boer plek in u hotel het nie, dan het u ook nie plek vir die visie president van Amerika nie."
            Onthou julle toe ons op skool was en iemand met ‘n maatjie van jou skoorgesoek het... dan het jy voor jou maatjie ingespring en aan die aanvaller gesê: “Vat aan hom dan vat jy aan my!”
            Dis presies wat Jesus sê: “En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen'" (Mat.25:40).
Ons gedrag jeens medegelowiges moet altyd wees met die oog gerig op die Persoon van Jesus. Hoe bedagsaam, hoe welwillend, hoe verdraagsaam, hoe liefdevol, hoe opofferend, sal ons nie teenoor mekaar wees as ons onthou: "Wat ek aan 'n ander doen, doen ek aan Jesus."
Dit is maklik en aangenaam om aan 'n gesiene Gelowige goedheid en guns te betoon. Maar dan doen mens dit vir daardie persoon self. Tog verwag die HERE dat ons almal so sal behandel, want ons doen dit nie ter wille van ons self nie, maar ter wille van Jesus. Daardie Jesus wat ons binnekort kom ophaal. – Sjibbolet
·       Voor in sy Bybel het Jefferson geskryf: "I am a real Christian, that is to say, a disciple of the doctrines of Jesus. I have little doubt that our whole country will soon be rallied to the unity of our Creator."