Wys tans plasings met die etiket armoede; geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket armoede; geloof. Wys alle plasings

Vrydag 24 Januarie 2020

Die Vissmouse



Die storie oor Shinga laat my dink aan meer as 70 jaar gelede in Enslinstraat in die Paarl. Vrydae het “Moarat” met sy eenperd-kar die gruis bergpad uitgesukkel terwyl hy op sy Vishoring geblaas het. Hy was ‘n vissmous.

Oral het huisvroue met skottels, veelkleurige voorskote en kopdoekke, ou Moerat tegemoet geloop om vars vis te koop. Dit het die straat ineens prentjiemooi gemaaak. Die vroue kon heerlike vars vis vir ‘n sjieling na vyf skielings koop. Baie was so dankbaar dat hulle Moerat sommer meer betaal het... ‘n tiekie of ‘n sikspens was baie geld.

Ons kinders het ons aan Moerat se Vishoring verluister en sy perd bewonder. Ons was lief vir Moerat want vanaand was daar heerlike vars en smaaklike vis vir aandete.


Aan die anderkant van die wêreld het Naka Shinga gewoon. Naka Shinga het alles, behalwe die klere aan haar lyf, in die driedubbele ramp wat Japan op 3/11/11 getref het, verloor.


Toe Shinga se man op die ouderdom van 42 sterf, word Shinga, wat toe 38 was, die broodwinner. Sy moes haar vier kinders en bedlêende skoonmoeder versorg.

Om in haar gesin se behoeftes te voorsien, begin sy as ʼn vissmous werk. Met ’n klein motorfietsie trek sy haar tweewiel karretjie. So verskaf sy klein vissies, salm en gedroogde vis regdeur die dorp.

Die getoet van haar vishoring word ʼn bekende geluid in die dorp en word selfs oor naweke gehoor.

“Selfs nadat Ouma dood is en die kinders die huis verlaat het, het ek nooit gevoel dat ek ledig was nie, want ek het aanhou werk,” vertel Shiga.

Op 11 Maart was Shiga by die huis toe sy ʼn sterk krag deur haar liggaam voel stroom. Onmiddellik besef sy dat daar ʼn tsoenami op pad is. Sy kruip buitentoe waar ʼn buurman haar met sy bakkie oplaai voordat hulle voor die aankomende tsoenami vlug.

Die volgende dag moet Shinga en ander mense in haar omgewing Fukushima verlaat as gevolg van die ramp by die kernkragaanleg.

Shinga word ʼn paar keer na verskillende skuilings verskuif. Hier word sy telkens met ander leefstyle gekonfronteer. Sy ken niemand nie en het ook niks om te doen nie. Elke dag sit sy voor die venster en staar na buite. Sy word baie depressief en verloor 7kg. Toe sy die situasie nie langer kan hanteer nie, keer sy na Fukushima terug waar van haar vriende nou in tydelike huise woon.

Sy besef dat haar omstandighede haar nie hoef te verhinder om ʼn visverkopingsbesigheid te begin nie. Sy begin vis aan ʼn paar huishoudings verskaf en sodoende verbeter haar eie en die ander mense se gemoedstoestand.

Shinga, wat nou 72 jaar oud is, ontvang gereeld besoekers by haar woonplekkie. As voornemende kopers inloer, glimlag Shinga vriendelik en bied hulle ʼn sitplekkie aan by die kotatsu (ʼn lae tafeltjie wat met ʼn kombers bedek is en waaronder ʼn elektriese verwarmer gemonteer is).

Nadat sy haar produkte soos pakkies salm en gesoute inkvis aangebied het, word daar nie verder besigheid gepraat nie. Hulle praat eerder oor die probleme wat hulle in die gesig staar en sy het altyd ʼn bemoedigende woord vir haar gaste.

Yoshiaki Mori, 65, ʼn voormalige hoenderboer en buurman, sê, “Ek het baie angs- en paniekaanvalle gekry, maar vandat Naka-san hierheen getrek het, voel ek meer vrymoedig om met mense te praat.”

               “Die drievoudige ramp het vele ontberinge meegebring, maar ek kry baie bemoediging uit my gesprekke met my bure. Ons kan ook lekker saam lag,” sê Shinga aan die Yomiuri Nuus, K. Takano

               Net soos Jerusalem van ouds het rampspoed Japan getref.  Die eens florerende kus van Japan is nou in chaos gedompel. Mense ly steeds.

 Ag hoe verlate sit die stad wat vol mense was!
Sy het soos ʼn weduwee geword,
sy wat magtig was onder die nasies;
die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword
Klaagl 1:1

 Hoe goed is dit nie om bemoedigers soos Shinga in sulke hopelose situasies te hê nie.

Die hart van die wyse maak sy mond verstandig
en vermeerder die lering op sy lippe.
Vriendelik woorde is soos ʼn heuningkoek:
soet vir die siel en ʼn genesing vir die gebeente.
Spr 16:23-24

Mag ons altyd op die uitkyk wees vir hulle wa swaarkry , hulle bystaan en bemoedig. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”  Jes 57:15

Woensdag 21 Augustus 2019

‘Voor julle roep sal ek antwoord’


Sophia Ironside se man, John, het sy kort lewe grootliks aan die uitdra van die Evangelie  gewy. Hy het op straat, in parke, in sale, in teaters, net waar hy geleentheid kon kry die Evangelie verkondig.

Op 28-jarige ouderdom is hy aan maagkoors oorlede. Hy het Sophia en sy twee seuntjies, sonder enige inkomste van pensioen of 'n belegging agtergelaat.


Sophia het met naaldwerk die pot aan die kook gehou. Die een seuntjie, Harry, wat later die beroemde dr. Harry Ironside, pastoor van die Moody Memorial Church en uitnemende skrywer, sou word, het sy ma stip dopgehou.

Eendag sou hulle kuiermense vir ete kry. Sy het feitlik alles wat hulle gehad het, saamgeskraap en 'n ete voorberei. Na die besoekers vertrek het, kry sy onder een van die leë borde 'n $10-noot – in daardie dae baie geld. Met betraande oë het sy dadelik, met 'n arm om elke seuntjie, God daarvoor gedank.


Die een seun, Dr Harry Ironside

            Toe kom die dag dat die koskas regtig heeltemal leeg was. Sy roep haar twee kinders om by 'n leë tafel ontbyt te kom eet. Hulle het net water om te drink. Weer slaan sy haar arms om die twee: "My seuns, ons gaan dankie sê vir die water."

Hulle maak oë toe en sy bid: "Vader, U beloof in U Woord (sy haal Jes. 33:16 aan): 'So 'n mens se kos sal hy kry en sy water sal nie opraak nie'. Ons het die water en ons dank U. Maar nou vertrou ons U vir ons kos."

Net toe word aan die deur geklop. 'n Man staan voor die deur. Hy sê vir haar: "Ek voel eintlik baie skaam. Ons skuld jou al vir maande lank geld vir 'n rok wat jy vir my vrou gemaak het, maar ons het regtig nie geld gehad om te betaal nie. Ons is nou besig met die aartappeloes. Sal jy asseblief solank 'n sakkie of twee aartappels neem, totdat ons jou kan betaal?"

"Verseker!" roep Sophia uit. "Baie dankie." Binne minute na sy vertrek begin die vars aartappels in die braaipan sis en die seuns geniet 'n beantwoorde gebed se kos vir ontbyt.

            Wat het gebeur? "Voor hulle roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor." Jes 65:24

            Let op: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor  en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 1 Kor 2:9

            Hoe bereik mens hierdie vlak in jou geestelike lewe? “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” 1 Kor 13:13

·       By Harry se geboorte was verpleegpersoneel oortuig hy is doodgebore. Hulle het toe al hulle aandag aan sy ma gegee wat in ‘n bedenklike toestand was. Eers 40 minute later is ontdek Harry leef. Ons vertel sy verhaal ‘n volgende keer.

·       Sluit aan by miljoene en bid vir die Vrede van Jerusalem:  https://eagleswings.mykajabi.com/dayofprayerresources-11e9e9b6-6522-4107-8282-c18b7b96461d

Vrydag 09 September 2016

Blydskap, soos strome van lewende water...


Bruce Crozier, 'n sewejarige seuntjie, het van sy pa se jagkamp in die Arizona berge af weggedwaal. Hy het ses dae en nagte na sy pa gesoek. Die nagtemperature was onder vriespunt. Bruce het snags onder hope droë boomblare ingekruip om warm te bly.  Hy had water in die berge.

Bruce het 50km van koers af verdwaal toe hy een dag pootuit en gehawend by ander jagters se kamp aankom. Sy pa en ‘n perdekommando van honderd man was op soek na hom, maar in ‘n heel ander rigting. Die jagters het die seuntjie versorg, na sy storie geluister en toe eers sy ma en daarna se pa op kommando gekontak.

In daardie stadium was beide ouers oortuig dat die seuntjie dood sou wees. Wilde diere sou hom verskeur het. Toe sy ma hom omhels het sy gesê: “Dit is byna onmoontlik om te glo dat ek my seun teruggekry het.” Maar die oomblik was eenvoudig te groot en sy het flou neergeslaan.
Toe Bruce se pa op kommando die nuus kry, en boonop hoor dat sy seun ongedeerd is, het hy bewusteloos inmekaar gesak.

Mens kan die skok begryp  wanneer hulle agterna vertel hoe hulle oortuig was die seuntjie is dood en hulle soek eintlik  na ‘n verskeurde lykie.

            Die Here Jesus het gesê: "Daar is blydskap in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer..." Luk 15:7. Hy probeer vir ons daardie blydskap beskryf uit 'n liefde wat ons ook ken: die liefde van 'n pa vir sy seun.

In die gelykenis van die verlore seun sê Jesus: "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom… Hy sê vir sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie… hy was verlore en ons het hom teruggekry!'" (Luk 15:20-30).

            As die Hemel so jubel oor een bekeerling, wat doen ons? Kyk weer na die prys wat betaal is sodat ek en jy gered kon word. In ons dag vind ons dat families skeef opkyk wanneer iemand met ‘n getuienis van redding by die huis aankom. Niemand jubel nie, daar word nie fees gevier nie, eerder praatjies gemaak. As jy nie grootse blydskap beleef oor een siel wat gered is nie, bevraagteken dan jou eie Christenskap.

Die Kleinhans broers_

Die Kleinhans broers_

Daar moes oorweldigende blydskap in die Hemel gewees het die dag toe die drie Kleinhans-broers gered is. Ons het hulle hoog in die berge naby Glenconnor opgespoor.
            Net Martiens (met die byl) had effe skool en hy kon lees. Hy het elke dag vir hulle Bybel gelees.
            Die drie het mekaar aangevul en nooit gebedel nie. Deur God se Genade en Liefde het hulle die veld goed geken, kon selfs turksvystroop kook. Hulle had elkeen ‘n klein ongeskiktheidspensioen maar moes bitter ver berg en berg op loop om by ‘n algemene handelaar uit te kom. Hulle het geen drank of tabak gebruik nie.

            Hulle het mekaar se hare geknip en mekaar se tande getrek. Hulle het ‘n kluisenaarslewe gelei. “n Boer het toegelaat dat hulle op sy plaas woon. Hy en ander het die broers soms van kos voorsien.  

            Hulle had geen familie nie, net die HERE. Mens het hulle ook nooit lelik hoor praat nie. Heelwat later is een na die ander Huistoe.

            Hulle was nie eers arm nie, hulle het niks gehad nie. Tot die kruiwa het hulle self gemaak om hout vir vuurmaak te gaan soek. Kenmerkend van die drie was hulle blydskap, liefde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, soos verwoord in Gal 5:22

Die blydskap wat van ons verwag word, gaan nie oor sekere wonderlike omstandighede nie, maar oor ‘n innerlike borrelende fontein.
            Dit is ‘n geskenk uit die hand van God deur Sy seun Jesus Christus, en is een van die belangrikste gevolge van die ondervinding van die Wedergeboorte. As ons gered is, dan het ons hierdie besondere blydskap. Daar is niks wat ons kan doen of nie doen nie, om dit te verkry.
            Blydskap is sinoniem met die blymoedigheid van Matt 5:12 “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.”
            Ook soos in Luk 1:14 “En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees.”
            Asook Ps 16:8-9 “Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie. Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon.”
             En Ps 33:21 “Ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.”
            Want Dawid sê van Hom: “Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.” Hand 2:25-26
  
            So groot is die blydskap in Hand 2:46 dat selfs siele gered word: “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”

            Ook Hand 14:16-17 “Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die Hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”
            Maria sê: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker.” Luk 1:46
            Jesus Christus sê: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38
               “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.” Neh 8:11
            Hoe behou ons hierdie wonderlike blydskap? Dawid Wilkerson stel dit so:
            Eenvoudig gestel, net die blydskap van die Here voorsien ons met ware krag. Ons kan oor ons tien en twintig jaar wandel met Christus praat soveel as wat ons wil. Ons kan in ons mantel van geregtigheid pronk.
            Maar as ons nie toelaat dat die Heilige Gees die blydskap van die Here in ons harte volhou nie – as ons nie voordurend uitgehonger na sy woord bly nie –   verloor ons ons vurigheid. En ons sal nie gereed wees vir wat die wêreld in die laaste dae sal oorval nie.
            Ons behou die blydskap van die Here op dieselfde wyse as wat ons dit aan die begin verkry het: Eerstens, uitbundige liefde, eer en honger na God se Woord.
            Tweedens, volgehoue wandel in liefde en dankbaarheid vir die HERE.
            Derdens, dat ons, onsself van alle wêreldse invloede afsny. Dit is hoe die persoon van die Heilige Gees of kerk “Jesus blydskap” volhou – altyd vol blydskap, vol van blymoedigheid en vreugde.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. – Sjibbolet

Woensdag 15 Julie 2015

Die Onverwagte Besoeker



"...Ek was 'n vreemdeling en julle het my nie gehuisves nie...Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie." Matt 25:31-46
            Een dag in 1775 het die bestuurder van die grootste hotel in Baltimore, Amerika, herberg geweier aan 'n man wat soos 'n eenvoudige boer aangetrek was. Hy het gevrees die man se armoedige voorkoms sal die aansien van sy luukse hotel skade berokken.
Die man het niks gesê, net omgedraai en vertrek om elders vir hom herberg te kry.
Die volgende dag ontdek die bestuurder van die luukse hotel, dit was Thomas Jefferson, visie president van Amerika, wat hy van sy deur af weggewys het.


Thomas Jefferson

Hy het dadelik 'n boodskap aan Jefferson, een van die beroemdste mense in die wêreld, gestuur en gevra hy moet asseblief terugkom na sy hotel toe. Hy is baie welkom in sy hotel.
Jefferson het teruggeantwoord: "Ek stel u uitnodiging op prys, maar as u nie vir 'n arm Amerikaanse boer plek in u hotel het nie, dan het u ook nie plek vir die visie president van Amerika nie."
            Onthou julle toe ons op skool was en iemand met ‘n maatjie van jou skoorgesoek het... dan het jy voor jou maatjie ingespring en aan die aanvaller gesê: “Vat aan hom dan vat jy aan my!”
            Dis presies wat Jesus sê: “En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen'" (Mat.25:40).
Ons gedrag jeens medegelowiges moet altyd wees met die oog gerig op die Persoon van Jesus. Hoe bedagsaam, hoe welwillend, hoe verdraagsaam, hoe liefdevol, hoe opofferend, sal ons nie teenoor mekaar wees as ons onthou: "Wat ek aan 'n ander doen, doen ek aan Jesus."
Dit is maklik en aangenaam om aan 'n gesiene Gelowige goedheid en guns te betoon. Maar dan doen mens dit vir daardie persoon self. Tog verwag die HERE dat ons almal so sal behandel, want ons doen dit nie ter wille van ons self nie, maar ter wille van Jesus. Daardie Jesus wat ons binnekort kom ophaal. – Sjibbolet
·       Voor in sy Bybel het Jefferson geskryf: "I am a real Christian, that is to say, a disciple of the doctrines of Jesus. I have little doubt that our whole country will soon be rallied to the unity of our Creator."