Woensdag 21 Augustus 2019

‘Voor julle roep sal ek antwoord’


Sophia Ironside se man, John, het sy kort lewe grootliks aan die uitdra van die Evangelie  gewy. Hy het op straat, in parke, in sale, in teaters, net waar hy geleentheid kon kry die Evangelie verkondig.

Op 28-jarige ouderdom is hy aan maagkoors oorlede. Hy het Sophia en sy twee seuntjies, sonder enige inkomste van pensioen of 'n belegging agtergelaat.


Sophia het met naaldwerk die pot aan die kook gehou. Die een seuntjie, Harry, wat later die beroemde dr. Harry Ironside, pastoor van die Moody Memorial Church en uitnemende skrywer, sou word, het sy ma stip dopgehou.

Eendag sou hulle kuiermense vir ete kry. Sy het feitlik alles wat hulle gehad het, saamgeskraap en 'n ete voorberei. Na die besoekers vertrek het, kry sy onder een van die leë borde 'n $10-noot – in daardie dae baie geld. Met betraande oë het sy dadelik, met 'n arm om elke seuntjie, God daarvoor gedank.


Die een seun, Dr Harry Ironside

            Toe kom die dag dat die koskas regtig heeltemal leeg was. Sy roep haar twee kinders om by 'n leë tafel ontbyt te kom eet. Hulle het net water om te drink. Weer slaan sy haar arms om die twee: "My seuns, ons gaan dankie sê vir die water."

Hulle maak oë toe en sy bid: "Vader, U beloof in U Woord (sy haal Jes. 33:16 aan): 'So 'n mens se kos sal hy kry en sy water sal nie opraak nie'. Ons het die water en ons dank U. Maar nou vertrou ons U vir ons kos."

Net toe word aan die deur geklop. 'n Man staan voor die deur. Hy sê vir haar: "Ek voel eintlik baie skaam. Ons skuld jou al vir maande lank geld vir 'n rok wat jy vir my vrou gemaak het, maar ons het regtig nie geld gehad om te betaal nie. Ons is nou besig met die aartappeloes. Sal jy asseblief solank 'n sakkie of twee aartappels neem, totdat ons jou kan betaal?"

"Verseker!" roep Sophia uit. "Baie dankie." Binne minute na sy vertrek begin die vars aartappels in die braaipan sis en die seuns geniet 'n beantwoorde gebed se kos vir ontbyt.

            Wat het gebeur? "Voor hulle roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor." Jes 65:24

            Let op: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor  en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 1 Kor 2:9

            Hoe bereik mens hierdie vlak in jou geestelike lewe? “En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.” 1 Kor 13:13

·       By Harry se geboorte was verpleegpersoneel oortuig hy is doodgebore. Hulle het toe al hulle aandag aan sy ma gegee wat in ‘n bedenklike toestand was. Eers 40 minute later is ontdek Harry leef. Ons vertel sy verhaal ‘n volgende keer.

·       Sluit aan by miljoene en bid vir die Vrede van Jerusalem:  https://eagleswings.mykajabi.com/dayofprayerresources-11e9e9b6-6522-4107-8282-c18b7b96461d