Maandag 19 Augustus 2019

Wanneer ons geestesoë verhelder



Paulus sê aan die gemeente in Efese: Wanneer hy in sy gebede aan hulle dink, bid hy dat die God van ons Here Jesus Christus…deur sy Gees…hulle geestesoë so verhelder dat hulle kan weet…watter rykdom…Hy vir die Gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in hulle wat glo. Efes 1:15-23

            In Leslie B. Flynn se boek, Negentig Gawes van die Gees, vertel hy, die bekende prediker, C. H. Spurgeon, besoek ’n bejaarde vrou in ’n tehuis vir armlastiges. ’n Geraamde, handgeskrewe dokument, met handtekening en al, teen die muur, trek sy aandag.

Hy vra daarna. Sy vertel hom sy het ’n bejaarde man versorg en net voor sy dood het hy die brief van waardering vir haar gegee. Kort daarna is hy dood. Dit was vir haar kosbaar en sy het dit geraam en teen die kamermuur opgehang.

Na baie oorreding laat sy Spurgeon toe om haar kosbare kleinnood vir ’n paar dae te leen. Spurgeon neem dit bank toe en dit veroorsaak ’n hele opskudding. Die bankbestuurder kom na hom toe en roep uit: ”Dankie! Ons kon net nie uitvind aan wie die ou heer al sy skatte bemaak het nie!”

Die arm vrou in die tehuis was eintlik skatryk, maar omdat sy haar dokument nie gelees en verstaan het nie, leef sy in armoede.

Wedergeborenes het ook ’n geskrewe dokument wat ons rykdom aan ons beskryf. Ons is erfgename van ’n groot, Ewige Erfenis, met baie huidige voordele, maar ons leef in die armoede van spanning en vrees en neerslagtigheid, omdat ons, ons dokument nie deeglik bestudeer en van ons voordele gebruik maak nie en ons in ons  erfporsie verbly nie.

Ons dokument word "Die Nuwe Testament" genoem. God se gawe aan sondaars in Christus Jesus se verlossing word ryklik daarin beskryf. In die Ou Testament staan dit in beeldende en profetiese taal. In die Nuwe Testament word dit duidelik, op die man af, beskryf: “…die Skrif kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die Waarheid te onderrig…” 2 Tim. 3: 15 en 16

Let nou op: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

“Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!

“Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is… en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom 8:14-17

Maak ‘n studie van die hele Rom 8 en Efes 1. Soos met feitlik alle Testamente  is daar voorwaardes. As ons bv. dit wat ons erf, ons eie wil maak, moet ons na die Gees en nie na die vlees lewe nie. – Wekroep