Wys tans plasings met die etiket rugbyspel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket rugbyspel. Wys alle plasings

Maandag 29 Oktober 2018

Die geheim lê in Ondersteuning

Ons is op die vooraand van ‘n nuwe seisoen van groot rugby. Rugby het byna ’n afgod geword, behalwe as mens deur ‘n ander bril daarna kyk…

Rugby is in ‘n sin ‘n geloofsport. Spelers moet die bal aanhoudend  in die geloof uitgee aan ‘n ander  speler, anders kan die span nie punte aanteken nie.

            So is die gemeentelike lewe ook ‘n spanspel… dra mekaar se laste, bid vir mekaar. Gal 6:2; Jak 5:16. Vul mekaar aan met talente en gawes.

            Soms, net soms, soos in die gevalle van Mannetjies Roux en Danie Gerber, kan daarin geslaag word om strykdeur te beweeg vir punte.

           Die geheim lê egter in ondersteunende spel… wees daar wanneer jou geloofsmaat die bal noodgedwonge moet uitgee.

            Ken die reels, die skrifte, sodat jy kan aftrap, na links of regs kan swenk, of wanneer jy summier ‘n opponent moet platloop.

            Wees ewe skerp op die aanval as op die verdediging. Ken die Skrifte.

            Soms oortree mens en kan jy deur die skeidsregter Jesus, vir 10 minute of langer, geskors word, maar die span staan gereed om jou met ope arms terug te verwelkom.

            Enigeen van ons kan struikel, en soms selfs val, maar dis die opstaanslag wat tel. Volharduing bring oorwinning mee.

            Gemeentelede moet meer saam oefen in die bidstondes en Bybelstudies… voordurende opleiding ondergaan.

            Dalk moet die gemeente ‘n regte rugby bal ook soms rondgooi om die volle begrip van die gemeentelike lewe te kry.

            Gemeentelede, al is dit ‘n huisgemeente, moet nader aan mekaar beweeg sodat hulle mekaar deeglik kan leer ken om as ‘n span beter te kan presteer.

            Dis hoekom gemeentelede nooit afwesig moet wees nie. ‘n Buitesenter kan nie die bal vir ‘n vleuel aangee wat nie daar is nie. ‘n Skrum kan nie sak as iemand makeer nie.

            Rugbyspanne speel gewoonlik wedstryde wat 80min duur. Gemeentes speel 24/7. Dis hoekom hulle Skriffiks en Geestelik fiks moet wees.

            Hulle moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:23-24

            Wees altyd daar as jou maat die bal moet uitgee! – Sjibbolet