Wys tans plasings met die etiket Ons opdrag op aarde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ons opdrag op aarde. Wys alle plasings

Maandag 08 Oktober 2018

Toerusting van God aan Sy Medewerkers

ONS is in die eerste plek nie gered om Hemel toe te gaan nie, ons is gered om die Koninkryk van God te bou. Daar is diegene wat  beweer dat hierdie taak uitsluitlik aan die herders van gemeentes opgedra is. Nee, elkeen van ons is geroep tot diensbaarheid.

          Daarom is daar ook aan elkeen van ons toerusting gegee om die taak mee te verrig. Daar staan ook nie geskryf dat ons geboue moet oprig, dit kerke noem en dan daar binne moet bidure hou waarin ons bid en smeek: “Vader, stuur die siele in,” nie.

          Die opdrag is elke keer dat daar uitgegaan moet word om die siele in te bring, uit te vaar na die diep kant van die lewe toe en  nette der nette vol in te bring.

          "Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Vader het saamgewerk en die Woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het." Mark 16:20

          "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle." Joh 20:21

          Die Bybel leer dat die Vader die Wedergeborene as 'n werkende vennoot in Sy planne en werke beskou. God en Abraham tesame het 'n groot "nasie" (Israel) geskep. God en Moses het saamgespan om vir ons die Tien Gebooie te gee wat die grondslag van alle siviele en sedelike wette vandag is.  Dit is deur God en Moses tot stand gebring.

Jesus self was 'n vennoot van die Vader in die werk van verlossing. Hy sê: Het u nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?" Luk 2:49

Paulus, die ywerige en bekwame sendeling, versoek alle Christene om te onthou dat ons gered is om te dien. "Wees nie traag in die ywer nie, wees vurig van gees, dien die Vader." Rom 12:11

          Ons kan ware kinders van God wees, maar die vraag is of ons, ons  lewens  in totaliteit aan Hom oorgegee het. Is ons nog in beheer van sekere sektore van ons lewe, of is God  Heer en Meester van ons ganse  bestaan? Hy sê Hy is ‘n jaloerse God. Hy wil volle beheer hê. Hoe gouer dit gebeur, hoe  gouer begin ons floreer.

          Die rede hoekom ons nie by die sterwe in Christus uitkom en waarom ons nie groei en floreer nie, is omdat ons nie self die Bybel bestudeer nie. Ons word nie gewas deur die Woord nie.

Ons gaan eerder ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. So sit ons dan ook keer op keer onwaardig by die Nagmaaltafel aan en kan nie begryp waarom ons sake nie floreer nie.

          As ons die Vader aktief dien, dan kan ons ook verwag om die Vader aktief in ons lewens te sien, dan kan ons God se seëninge verwag, dan kan ons oorvloed verwag.

          Wanneer ons onsself aan God oorgee, begin ons 'n sakevennootskap met God.  Ons word "medewerkers van God"1 Kor 3:9. 'n Vennootskap met God is 'n saak waarin God die kapitaal voorsien en ons die arbeid. Hy voorsien die wysheid, die mag en die middele (finansies, ens.) en ons verskaf die diensbaarheid.

          Daardie vennootskap word ook weerspieël in ons huwelike. ‘n Huwelik is ‘n drieledige Verbond tussen man, vrou en God. ‘n Verbond is ‘n kontrak, dit mag nie verbreek word nie en God  sê self dat, wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Wat op die aarde gebind is, is ook in die Hemel gebind. Die huwelik is ‘n Goddelike instelling.

          So is ons Wedergeboorte ‘n Goddelike instelling. Ons moet weier dat enigiets of enigiemand daardie verhouding, daardie Verbond, tussen ons en ons Skepper, ons Vader, verbreek.

          God wil Homself betuig en Hy het ons uitverkies as 'n kanaal deur wie Hy Sy mag en besluite kan betuig.

          Ons is geroepe diensknegte en getuies – medewerkers 1 Kon 3:9  –  God wil nie Sy werk voltooi sonder om die mens te gebruik nie.

God is die enigste Eienaar van Sy saak. Hy besit die planeet Aarde Ps 24:1; 50:10, Ook al die rykdomme. Hagai 2:8. Hy besit jou en my lewens (Rom 14:8); God, in Sy goedertierenheid het elke mens ryklik bedeel met sekere gawes, talente en moontlikhede.

Dié dinge moet nie selfsugtig of tot ons eie voordeel aangewend word nie, maar tot verheerliking van God en die vestiging van Sy Koninkryk.

          "Doen alles tot verheerliking van God." 1 Kor 10:31

          "Julle behoort nie aan julself nie, want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in jul liggaam en in jul gees wat aan God behoort." 1 Kor 6:19-20. Ons is rentmeesters van die gawes wat God ons gegee het.

          Ons is rentmeesters van ons tyd. "Koop die tyd uit omdat die dae boos is." Efes 5:16  Moenie jou tyd verkwis nie. Ons is rentmeesters van ons talente. Jesus het 'n harde oordeel uitgespreek oor die man wat uit vrees sy talent begrawe het. Lees aandagtig Matt 25:28-30.

          Ons is rentmeesters van ons geld. Geld is 'n gawe van God en moet tot Sy eer gebruik word.  Lees 1 Tim 6:10.

          Ons is ook rentmeesters van die Evangelie. Die roeping om die grootste nuus op Aarde te verkondig, is aan die verlostes gegee.

          Dis ‘n ernstige oortreding om nie jou gawe aan te wend nie. – Sjibbolet