Wys tans plasings met die etiket gebed dra krag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket gebed dra krag. Wys alle plasings

Saterdag 26 Oktober 2019

‘My eie wingerd het ek nie opgepas nie’



“…hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie." Hoogl I :6

Hooglied verwys herhaaldelik na die bruid en die bruidegom of sielsbeminde. As ons Christus as die Bruidegom en Sy Gemeente as die Bruid voorstel, dan begryp mens veel makliker.

In die eerste hoofstuk word die bruid se verlange na die bruidegom beskryf. Sy soek na hom en sy wag op hom, maar sy is nie ledig terwyl sy wag nie. Sy sê: “Hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde…"

            Dalk nie ‘n werk vir ‘n bruid nie, tog doen sy dit met gewilligheid. Terwyl ons as lede van die Liggaam van Christus op aarde wag op Sy koms, mag ons ook nie ledig wees nie, maar moet ons, ons besig hou in Sy diens.

            Die tweede deel van die strofe, raak my en jou: Sy beskuldig haarself en sê: “…my eie wingerd het ek nie opgepas nie." Die soeklig val op: Die wingerd van ons sielelewe.

Ongelukkig is daar mense wat hul wingerde sonder kundigheid wil bestuur. Die werklikheid is ‘n mens behoort aan die HERE of aan die satan, jy dien of die wêreld of die HERE. Jy wat nou hier lees, wie is eienaar van jou lewe?

'n Wingerd is toegekamp. As 'n wingerd oop lê, gaan dit tot niet. Diere vertrap dit en mense loop voetpaaie daardeur. 'n Heining of draad rondom die wingerd sluit dit in en af van diere en mense.

Die Bybel is die kampdraad van die siel. Elke nuwe Wedergeborene is soos 'n nuwe wingerdstok wat binne in die omheining geplant word. Die gemeente sluit ons in en ons deel in al die voorregte van God’s bearbeiding, maar die gemeente is veronderstel om ons ook af te sluit van die gevare van die wêreld en die sonde, waaraan ons siel blootgestel is. Delf diep in die Bybel want hoe dieper jy beweeg, hoe dieper is jou geestelike wortels en hoe beter bestand is jy teen die lewensstorms.

            Sommige wingerde word begas.In sommige dele word groot seile oor die wingerde gegooi. Dan word daar ‘n sekere gas ingelaat wat die wolluis en ander skadelike insekte doodmaak.

            Ons siel het behoefte aan die gebed. Gemeenskap met die Heilige Gees is die gasseil wat oor die siel getrek word, want daar aan die voete van die die Messias laai ons die foute, sorge en smarte af wat ons siel beskadig.

            ‘n Gelowige wat nie bid nie, ly 'n sieklike geestelike lewe. Bid jy nog? Nie gebedjies nie, maar waar jy ‘n saak met die HERE deeglik uitpraat.

Let op, 'n wingerd word bewerk. Dit word geploeg, gespit, bemes en benat. Dit alles is nodig vir die lewe en groeikrag van die stokke. So moet ons siel ook bearbei word deur Sy Woord, Sy boodskappe, die Sakramente en die waters van Sy heil. Daarsonder sal ons geestelike lewe kwyn soos 'n wingerd wat aan homself oorgelaat word.

Laat jy die Heilige Gees toe om jou lewe te versterk en te verkwik?

En baie belangrik… 'n wingerd word ook gesnoei. Vir iemand wat nie weet nie, lyk dit wreed en onnodig. Die eienaar weet egter hoe belangrik dit is om ‘n wingerd te snoei, anders raak die wingerd wild en dra later minder vrugte.

            Let op…die snoei van die wingerd en in ons eie lewe, is sodat ons en die wingerdstok meer vrug kan dra. So verduidelik die Messias dit:

“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.

“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon (snoei dit), sodat dit meer vrug kan dra.

“Julle is alreeds rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het.

“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

“As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

“As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

(Let op) “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Joh 15:1-8

Is dit snoeityd in jou lewe? Lyk dit of alles stil staan? Moenie bekommer nie. Jy is alreeds rein en binnekort begin jou nuwe lote en jou groter vrug.

            'n Wingerd moet vrug dra. Dis die doel waarvoor dit geplant is. Oestyd kom soek die eienaar vrugte aan die stok, en die stok wat nie meer vrug dra nie, word uitgekap en 'n ander kom in sy plek. Ek en jy moet ook vrug dra, dis waarom ons gered is.

            Geen mens is doelloos op aarde geskape nie. Al die arbeid van God’s liefde aan ons, is met die doel dat ons moet vrug dra wat by die bekering pas.

Is jou lewe vrugbaar? Sal die Meester die vrug van die Gees by ons kry as Hy kom soek? Baie van ons is ywerig in ons werk en getrou in die diens van die eienaar.

Dit is baie mooi en dit behoort ook so te wees, maar sal ons nie as die oordeel kom, ook moet kla nie: “Ek was aangestel as oppasser van wingerde,  maar my eie wingerd het ek nie opgepas nie." Ander se belange het ek versorg, maar eie siel het ek verwaarloos.

            Sorg dat jou lamp vol olie is. – Wekroep

Maandag 01 Oktober 2018

Roei dit uit met vurige gebed

Mishandeling, die vernietigende euwel van ons tyd

Van die konsert  van die lewe kry niemand ‘n program nie…

            Oor die wandel saam met Koning Jesus, het ons ‘n handbook en Engele bystand.

            Geen voël kan egter met geknipte vlerke vlieg ne.  “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Jes 40:31

            Ons kan opvaar met vleuels soos die arende. ‘n Sonde is egter besig om die volk te vernietig: Die mishandeling, van veral vroue en kinders.

Die mishandeling geskied in die vorm van voortdurende beledigings, skeltaal, vernedering, verkleinering, valse beskuldigings. iemand kry die skuld vir alles wat verkeerd is.

            Hierdie mondelinge mishandeling vind later selfs In ander se teenwoordigheid plaas. Die onskuldiges voel hulle kan later niks meer reg doen nie. Met alles word fout gevind.

            Vroue sit bv daagliks in spanning en vrees hul mans se tuiskoms met: Wat het ek vandag weer verkeerd gedoen?

            Hierdie verbale mishandeling vernietig die lewe van die slagoffer. Baie hou uit en verduur. Hierdie optrede verbreek ook die huweliksbande.

            ‘n Gepaste benaming vir die skuldiges, is Skêrmense. Hulle knip ander se vlerke so erg dat hulle later nie meer  kan vlieg nie.

            Van ware liefde is daar later geen sprake meer nie. Die kinders begin daar onder ly en nie lank nie of alles val uitmekaar…

Die onskuldiges vlug na egskeiding of selfmoord, drank en dwelmmiddels… Sommige vlug terug na hul ouerhuise. Dit alles is ‘n uitweg, maar nie ‘n oplossing nie.

In berading roep hulle uit: HERE, ek het niks meer om voor te lewe nie. Soos in ‘n landwye droogte word hulle soos lewende dooies.

            Veral vroue word gevangenes in hul eie huise. Trane loop in strome. Mense is stukkend. Ons moet ons oor vroue in hierdie tronke ontferm.

            Die Skêrmens het een of ander behae daarin om ander so te pynig. Hy of sy knip die ander se vlerke. 
            Daar is baie skêrmense, mense wat gedurig ander se vlerke knip wat maak dat hulle nie vry kan vlieg nie. Geknipte vlerke is traumaties. Dit beperk  die slagoffer se vermoëns.

Die slagoffers verdien dit nie. Gebedsgroepe moet soos ware intersessors by die Hemel ingryp vir hierdie slagoffers.  Die lew           e is te kort, ons durf dit nie duld nie.

Loof die HERE tot in die Hoogste Hemele  sodat hierdie slagoffers weer volvlerk kan vlieg tot eer en verheerliking van die HERE en sy Koninkryk….dast hulle soos arende kan vlieg.     

"Aan Hom wat deur Sy krag... magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink..." Efes 3:21

Van hierdie slagoffers sit in die kerkbanke, maar ons ander is nie geestelik ingestel sodat die Heiige Gees die pyn en lyding aan ons kan uitwys nie. Wanneer alles uitmekaar spat dan bely ons: “Ons het dit nie sien kom nie.”
            Pleit by die HERE dat hierdie kettings verbeek word sodst  sy volk vry kan uitgaan om Hom te aabid en te dien. Doen dit in trane as dit nodig is en dra hierdie allesvernietigende la swat soos ‘n pandemie oor die land en die wêreld heen versprei.  –  Sjibbolet