Saterdag 26 Oktober 2019

‘My eie wingerd het ek nie opgepas nie’



“…hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie." Hoogl I :6

Hooglied verwys herhaaldelik na die bruid en die bruidegom of sielsbeminde. As ons Christus as die Bruidegom en Sy Gemeente as die Bruid voorstel, dan begryp mens veel makliker.

In die eerste hoofstuk word die bruid se verlange na die bruidegom beskryf. Sy soek na hom en sy wag op hom, maar sy is nie ledig terwyl sy wag nie. Sy sê: “Hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde…"

            Dalk nie ‘n werk vir ‘n bruid nie, tog doen sy dit met gewilligheid. Terwyl ons as lede van die Liggaam van Christus op aarde wag op Sy koms, mag ons ook nie ledig wees nie, maar moet ons, ons besig hou in Sy diens.

            Die tweede deel van die strofe, raak my en jou: Sy beskuldig haarself en sê: “…my eie wingerd het ek nie opgepas nie." Die soeklig val op: Die wingerd van ons sielelewe.

Ongelukkig is daar mense wat hul wingerde sonder kundigheid wil bestuur. Die werklikheid is ‘n mens behoort aan die HERE of aan die satan, jy dien of die wêreld of die HERE. Jy wat nou hier lees, wie is eienaar van jou lewe?

'n Wingerd is toegekamp. As 'n wingerd oop lê, gaan dit tot niet. Diere vertrap dit en mense loop voetpaaie daardeur. 'n Heining of draad rondom die wingerd sluit dit in en af van diere en mense.

Die Bybel is die kampdraad van die siel. Elke nuwe Wedergeborene is soos 'n nuwe wingerdstok wat binne in die omheining geplant word. Die gemeente sluit ons in en ons deel in al die voorregte van God’s bearbeiding, maar die gemeente is veronderstel om ons ook af te sluit van die gevare van die wêreld en die sonde, waaraan ons siel blootgestel is. Delf diep in die Bybel want hoe dieper jy beweeg, hoe dieper is jou geestelike wortels en hoe beter bestand is jy teen die lewensstorms.

            Sommige wingerde word begas.In sommige dele word groot seile oor die wingerde gegooi. Dan word daar ‘n sekere gas ingelaat wat die wolluis en ander skadelike insekte doodmaak.

            Ons siel het behoefte aan die gebed. Gemeenskap met die Heilige Gees is die gasseil wat oor die siel getrek word, want daar aan die voete van die die Messias laai ons die foute, sorge en smarte af wat ons siel beskadig.

            ‘n Gelowige wat nie bid nie, ly 'n sieklike geestelike lewe. Bid jy nog? Nie gebedjies nie, maar waar jy ‘n saak met die HERE deeglik uitpraat.

Let op, 'n wingerd word bewerk. Dit word geploeg, gespit, bemes en benat. Dit alles is nodig vir die lewe en groeikrag van die stokke. So moet ons siel ook bearbei word deur Sy Woord, Sy boodskappe, die Sakramente en die waters van Sy heil. Daarsonder sal ons geestelike lewe kwyn soos 'n wingerd wat aan homself oorgelaat word.

Laat jy die Heilige Gees toe om jou lewe te versterk en te verkwik?

En baie belangrik… 'n wingerd word ook gesnoei. Vir iemand wat nie weet nie, lyk dit wreed en onnodig. Die eienaar weet egter hoe belangrik dit is om ‘n wingerd te snoei, anders raak die wingerd wild en dra later minder vrugte.

            Let op…die snoei van die wingerd en in ons eie lewe, is sodat ons en die wingerdstok meer vrug kan dra. So verduidelik die Messias dit:

“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.

“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon (snoei dit), sodat dit meer vrug kan dra.

“Julle is alreeds rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het.

“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

“As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

“As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

(Let op) “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Joh 15:1-8

Is dit snoeityd in jou lewe? Lyk dit of alles stil staan? Moenie bekommer nie. Jy is alreeds rein en binnekort begin jou nuwe lote en jou groter vrug.

            'n Wingerd moet vrug dra. Dis die doel waarvoor dit geplant is. Oestyd kom soek die eienaar vrugte aan die stok, en die stok wat nie meer vrug dra nie, word uitgekap en 'n ander kom in sy plek. Ek en jy moet ook vrug dra, dis waarom ons gered is.

            Geen mens is doelloos op aarde geskape nie. Al die arbeid van God’s liefde aan ons, is met die doel dat ons moet vrug dra wat by die bekering pas.

Is jou lewe vrugbaar? Sal die Meester die vrug van die Gees by ons kry as Hy kom soek? Baie van ons is ywerig in ons werk en getrou in die diens van die eienaar.

Dit is baie mooi en dit behoort ook so te wees, maar sal ons nie as die oordeel kom, ook moet kla nie: “Ek was aangestel as oppasser van wingerde,  maar my eie wingerd het ek nie opgepas nie." Ander se belange het ek versorg, maar eie siel het ek verwaarloos.

            Sorg dat jou lamp vol olie is. – Wekroep