Vrydag 18 Oktober 2019

Los die gelapte lewe



“En niemand werk 'n nuwe sluk lap op 'n ou kleed nie." Mark 2:21

            Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Die klere maak nie die man nie.” Maar dit is nie in elke opsig waar nie. Die vere verraai dikwels die karakter van 'n mens. Al is 'n

mens arm, kan jou klere darem skoon wees, het my ouma van Kakamas altyd gesê.

            Jesus gebruik hierdie voorbeeld en herinner ons daaraan dat dit nie die moeite werd is om 'n nuwe lap op 'n ou kledingstuk vas te werk nie. Die nuwe lap is te sterk en sal tog net afskeur en dan is daar 'n groter gat. Mens durf nie met ‘n gelapte lewe die eindstreep probeer haal nie.

            Dis hoe dit ook gaan met Nuwejaarsbesluite. Ons verwyder nie die ou besluite en die se opdrifsels nie, ons neem net weer ‘n nuwe besluit en ons almal weet dat die nuwe besluite net ‘n rukkie hou.

Pas ons dit toe op die geestelike lewe, dan leer ons uit hierdie gelykenis dat dit nie loon om jou sondige toestand met lappe te bedek nie. Jesus doen nie lapwerk nie; Hy vernuwe. Let op na die volgende voorbeelde... ‘n Ou kleed vertel van Armoede: Meestal word ou klere gedra deur arm mense wat nie nuwes kan bekostig nie. Ou klere verraai armoede.

            So is ons sonder Christus ook arm. “Al ons Geregtighede is soos ‘n besoedelde kleed.” Jes 64:6. Hoe brandarm is die wêreldling nie aan blydskap, vrede en geluk nie!

            'n Ou kleed getuig alte dikwels ook van Vuilheid: Dikwels sien ons dat ou klere baie vuil is. Waarom is dit? Miskien omdat mense nie omgee vir die klere nie juis omdat dit oud is. Dis tog so mooi om arm mense te siel wat netjies en skoon is. Tog gee baie arm mense hulle oor aan hul lot en ...  die vuilheid.

            Sonde is vuil en die sondaar is ook vuil en besoedeld. Sag 3: 3-4

'n Ou kleed beantwoord nie aan sy doel nie. ‘n Kleed moet 'n mens toemaak en warm maak. As dit te oud is, beantwoord dit nie aan die doel nie.

As ‘n mens in sonde lewe, het jy niks om jou sonde voor God mee te bedek nie. Wanneer die koue winde van die oordele van God oor die siel kom waai, is daar vir jou geen bedekking nie, want die warmte van Jesus se liefde is nie in die hart nie.

Net Jesus alleen kan hierin voorsien, maar Jesus doen geen halwe werk nie, Hy doen geen lapwerk aan die siel nie.

Dit bring ons by die gelapte kleed… Jesus sê dit help nie om 'n nuwe lap op ‘n ou kleed te sit nie, en tog probeer mense om hul sonde voor God toe te lap. Daar is die lap van:

'n Goeie lewe:  Daar is mense wat nie groot sondaars is nie. Hulle is fatsoenlik en ordentlik, ‘n gedaante van Godsaligheid.  So het die ryk jong man ook gelewe, maar dit was nie genoeg nie.

Goeie gewoontes:Ander kweek weer goeie gewoontes aan: hulle gaan kerk toe, biduur toe, word lidmaat en kom Nagmaal toe. Dit is egter in die oë van die HERE steeds gelapte klere.

Goeie dade: Sommige mense probeer weer die Hemel verdien deur goeie werke. Luister na die gebed van die Fariseër en hoor hoe vertel hy van sy goeie dade.

            Tog was dit vir Jesus nie genoeg nie want dis alles lapwerk.

            Mooi besluite: Dis ook alles net nog lappe om te gebruik om sonde mee te bedek.

Sag 3:3-4. Hoeveel vroue het nie al na ‘n tyd van getroude lewe gesê nie: “Voor die huwelik het hy homself so goed voorgedoen en nou na die huwelik peul al sy sondes uit. Dit is net nie dieselfde man nie.” In ‘n mindere maat hoor mens mans ook so oor hul vroue praat.

Let op, daar is ‘n gesegde wat sê dat al gaan die leuen twee keer om die aarde, die Waarheid agterhaal hom elke keer. Die leuen duur nie lank nie of die lap skeur en daar kom 'n groter skeur. Daar volg nog groter sonde, omdat daar nie hartgrondige bekering was nie, maar net lapwerk.

            So word daar telkens belowe jy sal nie weer nie. Jy is jammer oor en oor en ander word al vies vir jou eindelose jammerte. Sommige noem jou ‘n smartvraat,

‘n Nuwe kleed. Op die lang duur betaal dit nie om 'n ou kleed te lap nie. Die beste raad is om ontslae te raak daarvan en 'n nuwe aan te skaf. So ook in die geestelike lewe. Jesus wil die ou kleed van sonde en ongeregtigheid van ons wegneem en vir ons die wit kleed van geregtigheid aantrek.

            Johannes stel dit pragtig in 1 Joh 1:9  “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons (boonop) van alle ongeregtigheid te reinig.”

            Wanneer jy jou sondes en foute belap, dan lewe jy ‘n leuen: “As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy Woord nie in ons nie.” 1 Joh 1:10

            Die verlore seun het opgestaan en na sy vader gegaan net soos hy was, ,maar sy vader sê vir die slawe: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan.”

Jesus verlos die besetene van Gadara van 'n legio duiwels en ons lees dat...

“hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy volle verstand."

            Dit is wat Jesus vir jou wil doen. Hoe kan jy die oordeelsdag tegemoet gaan met die ou vuil klere van sonde? Watter hoop het jy op die Hemel met die gelapte klere van skyn en vormgodsdiens?

Lê die ou kleed neer en sê vaarwel aan die sonde, die foute, die tekortkominge... moenie lap nie en kom na Jesus met die gebed:

http://www.bing.com/videos/search?q=George+Beverly+Shay+Sings+Just+as+I+AM&&view=detail&mid=3D87CCC9DAC50E009D1F3D87CCC9DAC50E009D1F&&FORM=VRDGAR