Vrydag 18 Oktober 2019

So sal die reën kom



Daar heers groot droogte, maar daar is altyd hoop. Hoop beteken: Verwagting, vooruitsig; vaste vertroue. die hoop beskaam nie, die hoop stel 'n mens se verwagtings nie teleur nie; op hoop van beter, met die hoop dat dit beter sal gaan; buite hoop lê, so siek wees dat daar min hoop vir herstel is; die hoop laat lewe, hoop gee 'n mens moed om aan te gaan; hoop opgee, nie meer hoop nie; op hoop van seën, met vertroue op 'n gunstige uitslag; teen hoop op hoop, in weerwil van alle onwaarskynlikheid; tussen hoop en vrees, vir die beste hoop, maar vrees dat dit nie sal gebeur nie.

            Let op, hoop is positief. Vrees is negatief. Twyfel is negatief. In die Bybel staan hoop veel sterker, want daar beteken dit “toekomsfeit”. Ons hoop op Jesus se Koms, maar dit is ‘n volwaardige komende feit. Ons leef dus in positiewe afwagting.

            Wanneer ons vir mekaar en vir reën bid is dit presies dieselfde. Ons bid omdat ons glo.

Groot dele van Suid-Afrika gaan ernstig gebuk onder ‘n uitmergelende droogte.  Sommige boere het selfdood verkies as oplossing. Selfdood is egter wel ‘n uitweg, maar nie ‘n oplossing nie.

            As alle plase produktief in die land kan wees, het ons meer as genoeg kos vir almal, ook vir uitvoer.

            Die droogte eis sy tol aan gesaaides en aan veestapels. Die eerste stap vir Boere om te oorleef is om hul veestapels te verkoop, maar elkeen probeer vasklou aan sy stoetkudde, sy aanteelvee om weer oop die been te kom wanneer die reëns uitsak.

            Word ‘n boer egter deur omstandighede gedwing om sy aanteelvee in te boet, kom hy gewoonlik nie sonder skuld weer op dreef nie.

            Soos Bybelse Samaritane betaam, help boere mekaar deur die droogte met voeding vir  mekaar se skape en beeste. Dis die groot konvooie lorries wat ons so kruis en dwars deur die land sien beweeg.

            Verder bestaan Suid-Afrika uit talle gebedsgroepe wat ernstig intree vir reën. In die Wes-kaap lyk watervoorrade deesdae goed, maar elders is die damme lank reeds droog.

            In alles word ons boere verdruk, maar hulle is nie terneergedruk nie; hulle is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. 2 Kor 4:8-9 Hulle ken droogte en hulle ken die God van hulle heil.

            Intussen byt hulle triomfantelik vas soos ‘n Habakuk wanneer hy sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” Hab 3:17

            Dis al antwoord wat ‘n boer het: Om te HERE te loof ten spyte van alles. Let op na Ps 67: Laat nie net die boere, maar ook alle mense die HERE loof… dan kom die reën.  Verander die pleidooie na lof en aanbidding. Al is alles tot niet, nogtans jubel ons almal in die HERE:

            “Vir die musiekleier: ’n gedig met instrumentale musiek, met snaarinstrumente; ’n lied.

“Mag God aan ons onverdiende guns skenk en ons seën; Sy Teenwoordigheid oor ons laat skyn sodat die mense op aarde U lewenswyse mag ken, U reddende genesing onder al die nasies.

            “Laat al die volke U met uitgestrekte hande loof, o God, laat al die volke U loof met uitgestrekte hande.

            “Laaat die nasies bly wees en hardop sing, want U sal die volke regverdig oordeel en die nasies op aarde regeer.

            (let op) “Laat al die volke U met uitgestrekte hande loof, o God, laat al die volke U loof met uitgestrekte hande, dan sal die aarde sy vermeerdering oplewer en God, ons God, sal ons seën.

            “God sal ons seën en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.” - Wekroep