Maandag 21 Oktober 2019

Dis dieselfde God... jubel en dans!


Een van die grootste wonderwerke in die wêreld vind ons by Moses en die Israeliete in die woestyn.

            Ons beleef die verskil tussen vlees en gees, tussen geloof en ongeloof.

Sowat 3,5 miljoen mense moes 40 jaar lank gevoed word. Volgens ‘n militêre strateeg sou Moses, as hy nie in die geloof gewandel het nie,  moes sorg vir:


·      1 500 ton voedsel per dag

·      Twee goedere treine van 1,6km in lengte sou die kos moes aanry

·      4 000 ton brandhout per dag sou nodig wees om kos te kook

·      Verskeie  goedere treine van 8km in lengte sou die hout moes aanry

·      Hulle sou 20 miljoen liter water benodig het want daar was geen mere of riviere in die woestyn nie

·      ‘n Trein met tenkwaens van 18.8km in lengte sou die water moes aanry

·      As hulle dubbel-gelid deur die Rooi See sou beweeg, sou die tou 1 280km lank gewees het.

·      Die tog deur die Rooi See sou 35 dae en nagte geduur het

·      Daar moes dus ‘n breë opening van sowat 4.8km gewees het sodat die Israeliete 5 000 in gelid in een nag kon deur beweeg

·      Elke keer wat hulle gekamp het, het die kamp ‘n area van 1 200 vk  km beslaan, ‘n area van 48km in die lengte en 40km wyd – so groot soos die Groter Bloemfontein?



Hierdie lysie sou vir elke dag oor ‘n tydperk van 40 jaar moes gegeld het. Dink jy Moses het aan al hierdie dinge gedink voordat hy vertrek het?  Ons dink nie so nie.

Hulle het ook geen materiaal gehad om sandale en klere van te maak nie.  Hulle sandale en klere het 40 jaar lank gehou.

Die groter wonderwerk is dat die kinders se sandale saam met hulle voete groter geword het.

Moses het God geglo. Net dit... Hy het God geglo! Hy het geweet God sal na al hierdie dinge omsien.

            Die verskil tussen om in die vlees en in die gees te wandel, is enorm en onvergelykbaar, soos toe die vissies en broodjies aan 5 000 man en hulle vroue en kinders uitgedeel was.  Dit verbyster mens se verstand, maar om die dinge van God te verstaan skakel mens juis jou verstand af. Ons het presies dieselfde God vandag as wat die Israeliete destyds gehad het.  God het nie verander nie en sal nooit verander nie.

            Ons probleme lyk vir ons soms so oneindig groot, maar dink dan daaraan wat God kan doen!

            Skep moed, ons het dieselfde God.

            Ons moenie God by ons planne en strategieë inskakel nie. Kom ons skakel by Sy plan in want dan onderneem Hy in alles.

            Die pad vorentoe is een van geloof, waarheid en gees!

            Netwerk24 berig: ‘n Oproep het opgeklink om die droogte tot nasionale ramp te verklaar omdat dit “krisisvlakke bereik het en stil-stil een van die land se grootste uitdagings word”. Op sommige plekke in SA word die droogte as “die ergste in 100 jaar” beskryf.

            Intussen ry boere ln konvooie veevoedsel kruis en dwars oor die land vir mekaar aan... ‘n pragtige Bybelse gebaar.

            Reën in sluiers word egter benodig. Al wat rivier is moet kant en wal loop en al wat dam is moet oorloop... in oorvloed om ook die ondergrondse watertafel te voed.

            Die HERE God Jahweh wat 40 jaar lank die Israeliete deur die woestyn gedra het, is steeds dieselfde God in 2019. Ps 67 is van toepassing. Habakuk is die voorbeeld. Hab 3:17-18

            “Nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”  “Loof sy Naam in koordans... sal Hom psalmsing met tamboeryn en siter.” Ps 149:3 – Wekroep