Woensdag 02 Oktober 2019

”My HERE en my God!”



“Daarna sê Hy vir Thomas: 'Bring jou vinger hier en kyk na My hande; en bring jou hand en steek dit in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.' En Thomas sê vir Hom: 'My HERE en my GOD!” Joh 20:27-28

            Thomas moes ontsettend geskrik het, nie vir die gat in Jesus se sy nie, maar dat hy wat Thomas is dit ooit kon waag om aan Jesus te twyfel. Daarop roep hy uit: “My HERE en my GOD!”

            Die lieflike seëninge uit die hande van die lewende Heiland was nog nie die eiendom van Thomas nie.

Let op: Hy was 'n dissipel. Hy was 'n kind van God, 'n volgeling van Jesus, maar o weë,  sonder dat die blydskap en krag van die opgestane Jesus Christus deel van sy heilsbesit geword het.

Die werklikheid van Christus wat leef, het nog ontbreek. Daarom twyfel hy. Daarom sy swaarmoedigheid en ongeloof. So 'n dissipel kan vir Gods koninkryk maar min beteken. So 'n lewe mis die vreugde en die motivering wat spruit uit die vaste oortuiging: ek is tot alles in staat deur Jesus Christus wat my krag gee.

En jy? Hoe lank is jy al kind van God? En twyfel jy ook soos Thomas in Jesus en sy Genade en Liefde, in Sy groot omgee vir jou?

            Is jou lewe ‘n werklikheid. Jesus ken jou deur en deur, en jy, ken jy Hom? Het jy ‘n verhouding met Hom? Bely jy Jesus aan almal rondom jou?

            Die inspirerende vreugde van toewyding aan die triomferende Christus is onmisbaar vir 'n lewe van oorwinning. Lewe jy ONDER die omstandighede van hierdie lewe, of lewe jy Bo die omstandighede? Die vraag is absoluut relevant want ons is veronderstel om ‘n lewe van oorwinning te beleef.

Wat dikwels nog kortkom, is die belydenis: “My HERE en my GOD!”

Geen geloof wat by Goeie Vrydag vassteek, kan groei en tot diens wees nie. Die Pasga boodskap bring die voorwaartse mars, die uitgaan op die weë om genooides na die maaltyd van die Hemelse Gasheer te bring.

Sonder die Paasboodskap was Thomas afwesig. Hy was uitgeskakel en onaktief. Hy ontbreek in die samekoms en vryheid van verlostes, want hy kon nog nie van harte sê: “My HERE en my GOD” nie.

Leë kerkbanke getuig dat die Paasbesit ontbreek. Waar is die gemeente? By die see?

            Om te leef in die krag van Sy opstanding, te ly en te geniet, te volhard in die krag van Christus se triomf, om die intiem-persoonlike “My HERE en my GOD” te ken, te besit en uit te leef – dit is ware Christenskap!

            Skrywer was op laerskool toe treine soos gewoonlik een nag rangeerwerk naby ons huis gedoen het. ‘n Rangeerder se voet het gegly en hy op die spore voor aankomende trokke beland. Die treinwiele het sy liggaam net bokant sy heupe middeldeur getrap. In die stilte van die nag het almal asemloos verskrik geluister na die rangeerder se laaste uitroep: “My God! My God!”

            Ek was te klein om te verstaan wat die oom uitgeroep het, maar die grootmense het gesê: “Die oom is Huis toe.” – Wekroep