Wys tans plasings met die etiket Jesus genees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus genees. Wys alle plasings

Donderdag 19 November 2020

Hy het ernstig versoek: ‘Moenie my hart oorplant nie, ek het dit vir Jesus gegee’

Sowat drie jaar gelede het die bekende Christelike Berader, Belinda Paar, vir Johan Strydom telefonies ontmoet deur ‘n gebedsversoek. Hy was in ‘n Pretoriase hospitaal vir ‘n moontlike hartoorplanting. Dit het baie sleg met hom gegaan en sy moes vir hom bid. Voordat sy kon bid het sy hom gevra of hy glo dat Jesus hom kan genees, waarop hy ja geantwoord het, sy het gevra of hy Jesus al aangeneem het, waarop sy antwoord was...ja jare gelede in ‘n kerkdiens, maar ek wil graag weer. Ek het hom gelei  en hy het Jesus aangeneem.

            Belinda vertel: Hy is toe later oorgeplaas na Groote Schuur in Kaapstad. Hy het sy plaas verkoop om die mediese onkoste te dek. Hy had sy 4e hartoperasie daar... nie oorplanting nie...dit is 'n lang storie... maar nie die punt wat ek wil bereik nie.


Groote Schuur waar die 4e hartoperasie op Strydom uitgevoer is.

Hy het daarna geestelik ontplof! Hy is regtig 'n pragtige mens vandat hy Jesus ontmoet het.

            Die 4e hartoperasie was  suksesvol, maar later in die dag toe gaan staan sy niere, en sy bloeddruk val na 71/41 en geen medikasie werk nie, en dokters kom op punt wat hul laat weet die familie moet kom groet, want hy is baie swak en geen verdere operasie kan help nie.

            Sy vriend Herman was in trane... snik soos hy huil… Johan het hom gevra om na sy kinders te kyk, ook gesê sy gees is sterk maar sy liggaam is moeg, gesê hy gaan na beter plek en Herman moenie huil nie.

            Herman was ontsettend hartseer, gesê hy verstaan dat Johan na ‘n beter plek gaan maar hy het so geglo dat Johan gaan gesond word en sy droom uitleef om vir die HERE te werk... ek het net geluister hoe Herman snik en aangaan en die volgende oomblik toe se ek kom ons bid! Daar is asem... so daar is lewe... en ons bid vir genesing... die einde is nog nie hier nie!

            Die Heilige Gees vat my deur daai gebed, dat ek so ‘n salwing kry dat ek nie eens wil ophou bid nie! Terwyl ek bid besef ek dat Herman baie kalm is aan die anderkant. Na die gebed, sê hy Amen, ek staan in geloof! God verander sake.


 Johan Strydom, slaghuiseienaar op Tzaneen. Sy slaghuis is ook verkoop.

Hierdie was ongeveer so 8uur in die aand, teen ongeveer 9.30 kom die boodskap, Johan se bloeddruk het gestyg, dit gaan  beter met hom.

Die volgende dag hoor ons niks, nie tot so 7uur die aand. Johan laat weet dit gaan goed met hom hy voel 'n nuwe mens, hy prys Jesus daarvoor!

         Hoe groot is die HERE se genade nie vir ons nie, weereens besef mens die krag van gebed! Ons is so vinnig om na ander te luister! Wie weet as ons nie gebid het nie was sy kinders dalk vaderloos! 

        Hulle wou hartoorplanting op hom gedoen het. Johan het vir die dr gevra, as dit enigsins moontlik is om sy hart te hou, wil hy graag want dit is die hart wat hy vir Jesus gegee het! Hoe mooi is dit? Hy haf ook geen vrees vir die dood nie. Wat ‘n heerlike plek om te wees!

Ons is so dankbaar teenoor Jesus! Al die lof en glorie aan Hom, mag Johan 100% genees en 'n getuienis vir Jesus wees!


Johan Strydom en sy vrou Mariëtte. Hulle woon deesdae in Brackenfell waar hy weer ‘n slaghuis het. 

Dit gaan baie,baie goed met hom en sy gesin. Mens kan eintlik sê, dat toe hy ‘n hartoorplanting moes kry, het die HERE dit self gedoen.

          Bid vir mekaar en dra mekaar se laste. – Wekroep

Donderdag 09 April 2020

Skaakmat...



Jare gelede, in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ‘n skildery met die titel "Skaakmat". Dit het die satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak -opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het omdat hy die spel gewen het.

Die opponent word uitgebeeld as 'n jong man, sy kop gebuig in vernedering –  hy's verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn – en die satan grynslag oorwinnend. Daar's 'n paar stukkies oor op die skaakbord en die woord "Skaakmat" dui aan die spel is verby want die koning is vasgekeer en kan nie meer gered word nie.

            Die skildery is geskilder deur Friedrich Moritz August Retzch. Dit is vandag in privaat handee nadat dit in 1999 deur Christie’s op ‘n veiling verkoop is.

            ‘n Skaakkampioen stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Doodstil staan hy ‘n ruk en bekyk die prent, toe hy skielik uitroep: "Dit is 'n leuen, dit is 'n leuen!" Ander mense in die galery het kom kyk wat aangaan. “Wat is die leuen?” vra hulle.

            Die Kurator van die museum daag op. "Meneer, is hier 'n probleem, kan ek help?"

            Die man kyk die kurator in die oë en sê: "Ek is die Franse skaakkampioen, ek sê vir jou dit is 'n leuen!" Die kurator was nog steeds verward - wat is 'n leuen? Die man wys na die skaakbord en sê: "Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie. Dit is 'n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog 'n skuif!"

·        ‘n Klein seuntjie met 2 vissies en 5 broodjies en duisende mense wat gevoed moet word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif, en hulle tel 12 mandjies kos na die tyd op.

·       'n Man met die naam Daniël word gegooi in 'n kuil vol honger leeus. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif oor!

·       Jesus kom by die graf van Lasarus. Hy's al vier dae dood. Die graf ruik al. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen want die Koning het nog 'n skuif oor!

·       Die vrou by die put, moet deur mans met klippe dood gegooi word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen want die Koning het nog 'n skuif oor. "Gaan en moenie langer sondig nie!"

·       Die moordenaars saam met Jesus aan die kruis. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif oor. “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”.

·       Op die Paasfees word die Lam geslag. Die mense skreeu veroordelend - "Kruisig Hom, kruisig Hom”. Hulle spot Hom en slaan Hom. Hulle spoeg hom en kap Hom met spykers vas aan 'n kruis. Jesus skreeu met 'n hortende asemteug en gebarste lippe dit uit:  “Eloi, Eloi lama sabagtani - my God, my God waarom het U my verlaat". Eenkant staan mense en sê: “Ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”. Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe...  satan leun smalend oor die skouer van die mens, alles is verby, maar dan kom Opstanding Sondag en ek en jy weet. Dit het gelyk soos skaakmat, maar dit was 'n leuen, want die Koning had nog 'n skuif oor!

·       Ons land is in 'n gemors. Moorde vind oral plaas. Vroue en kinders word wreed vermoor en verkrag.  Mense verloor hul werk, huise, huwelike, lewens, selfrespek, morele waardes, harte en verstand... Jou lewe is 'n gemors. Jy soek, jy klop, jy roep... Jy huil, jy raak kwaad... Jy voel leeg. Jy voel verlore. Jy soek jou voetspore, maar vind verdwaalde paaie. satan staan en lag. Dis verby. Sluk daai pil, trek die sneller, gee daai tree oor die rand... Vrees is aan die orde van die dag. Vrees bepaal jou kom en jou gaan. Vrees vir jou plaas, vir jou vee. Vrees vir jou lewe, vrees vir jou medemens, vrees vir jouself, vrees vir jou gedagtes, vrees vir jou omstandighede, vrees vir môre, vrees vir die herinnering van gister, vrees vir die omstandighede van vandag.

·       Christene bel en vertel hoe hulle vrees vir die Koronavirus... VREES... Maar luister, die spel is nie oor nie!

·       Op alle terreine lyk dit soos ‘n skaakmat situasie... Maar die Koning, ons Koning, het nog 'n skuif oor!

Sien met rykhalse daarna uit. – Wekroep




Sondag 01 Desember 2019

Sy moes kies: Lewe of Dood

Die 12-jarige Lianna lê in die gras langs die pad en veg verbete om die lewe. Sy is brutaal vermink en verkrag deur twee mans en langs die pad gelaat vir dood.

Kort na die grusame aanval is ontdek dat sy swanger is. Toe dokters voorstel dat sy die swangerskap beëindig het hierdie dapper meisietjie dit geweier. Op 12-jarige ouderdom het sy begryp hoe waardevol ‘n lewe is.


Liana kus haar pragtge dogter. Foto Life Action News

Sy het die dokter net een vraag gevra: “Sal ‘n aborsie my pyn verlig en my help om van die verkragting te vergeet?” Die dokter het “nee” geantwoord.  Liana het geweet, sy sal die baba behou. Sy het gesê: “Die baba het my nodig en ek het die baba nodig,

Lianna se dogter is nou 23 jaar oud en ma en dogter is ontsettend lief vir mekaar. Hulle reis nou saam oor die wêreld heen  en tree op as motiveringsprekers en verkondig Lewe. Liana het ook haar eie organisasie genaamd:Lief vir Lewe. Hulle staan ook vroue by wat mishandel en misbruik is.


Sy het dit nie maklik gehad met die swangerskap nie. Die verkragting het bly spook. Nou sê sy: “Ek het my dogter se lewe gered en sy het my lewe gered. Sy het nuwe betekenis aan my lewe gegee.”

Waar iemand se lewe gebroke is soos ’n riet wat geknak is, sal Hy dit nie verbreek nie, en waar dit swak is soos ’n lamppit wat rook, sal Hy dit nie beskadig nie. Mat 12:20.

Die offerande wat U wil hê, is berou; o God, U sal nooit ’n mens verwerp wat opreg berou het en nederig is nie. Ps.51:19

Ma (links) na sy gewig verloor het, en dogter. Foto: LovingLife.org

Hy heel die gebroke harte en verbind hulle wonde. Ps 147:3. My naam is Die Heilige God. Ek woon in ’n hoë, heilige plek, maar Ek woon ook by mense wat hulle sonde erken en nederig is, want Ek gee sulke mense weer nuwe krag Jes 57:15,16

Die verdwaaldes sal Ek opsoek en die wat oraloor versprei was, sal Ek terugbring. Die wat seer gekry het, sal Ek verbind en die wat siek is, sal Ek weer gesond maak. Ek sal die wat sterk en gesond is ook oppas soos dit hoort Es 34:16. Hou moed, moenie bang wees nie, want julle God kom… julle red. Jes.35:4 – Wekroep

Woensdag 10 Julie 2019

Jesus doen ‘n hartoorplanting



‘n Negejarige seuntjie het 12 ure lank per bus na Mexikostad gereis vir ‘n nuwe hart. Hy moes ‘n hartoorplanting kry.

            Hy verkoop toe plantjies om die reisgeld te bekom. Met sy vertrek  het hy aan sy moeder gesê: “Moenie bekommer nie, ek sal my wonderwerk ontvang wanneer ek die hoofstad van Mexiko bereik. 

            Toe hy die stad binnekom is hy deur booswigte van sy  oorblywende geldjies beroof. Dit het nie sy moed of geloof geknak nie. Hy was op pad na sy antwoord  en hy sou nie rus voordat hy saam met 20 000 ander mense die groot diens in die reuse ouditorium bywoon nie.

            Toe Guillermo Maldonado, Evangelis van Florida in die VSA, die ouditorium in Mexikostad binnestap het die heerlikheid van die HERE binnegekom. Vooraf het die HERE vir  Guillermo gesê: “Jy sal vir niemand bid nie, kyk, aanskou hoe Ek, die HERE God Jahweh, dit doen.”  

Lof- en aanbiddingsliedere het vyf ure lank aangehou....  Guillermo het niks gedoen nie, behalwe om saam die naam van die HERE groot te maak.

Tydens die lof en aanbidding het 10 mense uit hulle rystoele uit opgestaan, blakend gesond. Dowes het gehoor, blindes het gesien...

Toe bring hulle die 9-jarige seuntjie na die verhoog... en die seuntjie het in trane vertel: ”Toe die heerlikheid van Jesus oor my kom was daar ‘n brand gevoel in my bors en nou het ek ‘n nuwe hart.”

Twintig mediese dokters wat in die diens aanwesig was, het almal na die seuntjie se nuwe hart geluister en getuig, sy nuwe hartjie klop foutloos.

            Guillermo sê dit het nou in ‘n paar van sy dienste gebeur dat die Heerlikheid van die HERE net op die mense val sonder dat hy preek.

Hy is oortuig daarvan dat genesings en wonderwerke wêreldwyd op groot skaal gaan plaasvind waar Gelowiges op die HERE wag.

            Dit laat mens wonder oor SA. Is ons so behep met die daaglikse lewe, dat ons, ons oë van die HERE afhaal?

            Om vyf ure lank die HERE te loof en te aanbid in gebed en sang, is ongehoord. Gelowiges wat ‘n intieme verhouding met die HERE het, moet dit gerus doen.

Tydens die bekende charismatiese Herlewing vanaf 1970 tot 1980, het Gelowiges dag en nag gebid, en soms sommer hande gevat op sypaadjies om te bid. Sommige het 3vm opgestaan om ander in motorhuise, kerksale en elders te ontmoet vir gebed. Groot en klein het daaraan deelgeneem en getuienisse het soos waterstrome Nuwe Lewe voortgebring. Ere sy die Lam van God. – Wekroep

Vrydag 08 September 2017

Die deure is toe, maar die Hemel was oop


Image result for hemel

Eerw. F.H.Pickering vertel van 'n man wat so deur angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is.
Snags kon hy nie slaap nie. Op 'n keer vra 'n Christenvriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy 'n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar 'n Bybel wees.
Die vriend skryf 'n teksvers op 'n strokie papier. "Gaan lees dit en doen dan so," sê sy vriend.
Moeg na siel en liggaam was hy gereed vir enige raad. Hy het sy Bybel gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebr 4:14-16, opgespoor: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."
Hierdie Hoëpriester na wie verwys word, is dieselfde Vredevors wat nou anderdag op ‘n esel se rug Jerusalem binnegery het,
Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy probleme vir die HERE vertel.
Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker geword. Verkwik in sy gees, het hy geweet hy het sielsgenesing gevind.
Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy Verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. "Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in Sy hande," verduidelik hy.
Die dokter antwoord: "As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit."
Let op na Hanna: Dit was Haar geheim toe sy met haar hartseer tempel toe gegaan het. 1 Sam 1
Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die HERE gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Vir priester Eli sê sy: 'Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is... Ek het my hart uitgestort voor die HERE... dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het...' en sy was nie meer bedruk nie.
Die HERE Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons Hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwagting al ons probleme vir Hom vertel.
Die Heilige Gees help ons om te bid: "Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is..." Rom 8:26
Inderdaad, as al die deure toe is, staan die Hemel oop.
Die dag kom egter vining nader dat die Hemel ook toe sal wees, so maak gereed. Sorg dat jy genoeg olie het… en strykdeur moet jy weet dat jy weet: Jesus is bitterlik lief vir jou!

Donderdag 18 Mei 2017

Jesus, die werklike veilige Skuiling


Op plekke langs die kusstrook van die “Isle of Wight” is heelwat grotte en spelonke. 'n Man se geraamte is in een van hierdie grotte gevind. Hy was 'n prisonier wat ontsnap het.
Hy het in die grot geskuil in die hoop dat hy saam met ‘n verbygaande skip verder sou kon vlug.
 

Helaas, die goeie geleentheid het nooit gekom nie. Hy kon nie waag om uit te kom nie. Word hy weer arresteer sou ‘n swaarder tronkstraf op hom wag.
Sy liggaamskragte het al hoe minder geword. Sy lot was aaklig. Hy het in absolute eensaamheid gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was 'n bedrieglike en noodlottige skuiling.
Mense verlaat hulle soms ook op 'n bedrieglike en tydelike skuiling. Tydens berading word die skuiling oopgevlek. Die een vrou vloek ontsettend om mense van haar af weg te hou. Haar seerkry vroeër was te groot. Sy gaan nie nog iemand toelaat om haar seer te maak nie, selfs ‘n skewe woord vir haar te sê nie. Vloek is deel van haar daaglikse gesprek.
Die volgende een skuil agter drank, nog een agter leuens, ‘n ander agter bedrog en ‘n ander weer agter werklike toe deure.
'n Kosbare lewe word geslyt in die gevaarlike skuiling van oneerlikheid. 'n Bedroewende skuiling is ook die oneerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie.
Nog 'n gevaarlike wegkruipplek is nuwe godsdiensbeskouinge, omdat dit 'n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondige praktyke.
Die bedrieglikste skuilplek is onkunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in gevaar.
Terloops, ons het voor die vloekende vrou gaan staan en vir haar gesê: “Jy kan maar ophou vloek, Jesus weet van jou en Hy is hartsogtelik lief vir jou,” en toe loop die trane.  Ons het net één betroubare, blywende, ware skuiling: Die kruisdood van Jesus Christus vir ons, en, ás 'n mens by daardie skuiling ingegaan het, kan jy saam met die Psalmskrywer sê:
“Maar laat hulle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.
“Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met 'n skild.” Ps 5:12-13 

Dinsdag 28 Julie 2015

Skitter jy soos die Sterre...?


Image result for the stars

 "...dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre." Dan 12:3
Daar is uiteenlopende reaksie op vandag se artikel. Een Koningsdogter skryf: “Baie dankie, dit was so n kragtige en noodsaaklike oproep!”

‘n Ander skryf: “Dis onmoontlik om by elke Nagmaal nuwe siele te hê wat mens na die HERE toe gelei het.”


Ons reaksie:

“Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee;
“Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
“Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
“En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
“En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
“En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:35-40