Donderdag 09 April 2020

Skaakmat...



Jare gelede, in die beroemde Louvre Museum in Parys was daar ‘n skildery met die titel "Skaakmat". Dit het die satan uitgebeeld wat smalend oor sy skaak -opponent uittroon, omdat hy sy opponent se siel gewen het omdat hy die spel gewen het.

Die opponent word uitgebeeld as 'n jong man, sy kop gebuig in vernedering –  hy's verslaan en verslae. Sy gesig is vertrek van pyn – en die satan grynslag oorwinnend. Daar's 'n paar stukkies oor op die skaakbord en die woord "Skaakmat" dui aan die spel is verby want die koning is vasgekeer en kan nie meer gered word nie.

            Die skildery is geskilder deur Friedrich Moritz August Retzch. Dit is vandag in privaat handee nadat dit in 1999 deur Christie’s op ‘n veiling verkoop is.

            ‘n Skaakkampioen stap eendag deur die Louvre en stop by die sataniese skaakspel. Doodstil staan hy ‘n ruk en bekyk die prent, toe hy skielik uitroep: "Dit is 'n leuen, dit is 'n leuen!" Ander mense in die galery het kom kyk wat aangaan. “Wat is die leuen?” vra hulle.

            Die Kurator van die museum daag op. "Meneer, is hier 'n probleem, kan ek help?"

            Die man kyk die kurator in die oë en sê: "Ek is die Franse skaakkampioen, ek sê vir jou dit is 'n leuen!" Die kurator was nog steeds verward - wat is 'n leuen? Die man wys na die skaakbord en sê: "Die skilder sal die skildery moet verander, of hy sal die titel moet verander. Kyk, die spel is nie oor nie. Dit is 'n leuen, dit is nie skaakmat nie, die koning het nog 'n skuif!"

·        ‘n Klein seuntjie met 2 vissies en 5 broodjies en duisende mense wat gevoed moet word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif, en hulle tel 12 mandjies kos na die tyd op.

·       'n Man met die naam Daniël word gegooi in 'n kuil vol honger leeus. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif oor!

·       Jesus kom by die graf van Lasarus. Hy's al vier dae dood. Die graf ruik al. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen want die Koning het nog 'n skuif oor!

·       Die vrou by die put, moet deur mans met klippe dood gegooi word. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen want die Koning het nog 'n skuif oor. "Gaan en moenie langer sondig nie!"

·       Die moordenaars saam met Jesus aan die kruis. Dit lyk soos skaakmat, maar dit is 'n leuen, want die Koning het nog 'n skuif oor. “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees”.

·       Op die Paasfees word die Lam geslag. Die mense skreeu veroordelend - "Kruisig Hom, kruisig Hom”. Hulle spot Hom en slaan Hom. Hulle spoeg hom en kap Hom met spykers vas aan 'n kruis. Jesus skreeu met 'n hortende asemteug en gebarste lippe dit uit:  “Eloi, Eloi lama sabagtani - my God, my God waarom het U my verlaat". Eenkant staan mense en sê: “Ja, ander kon Hy red, maar Homself kan Hy nie red nie”. Dit is verby, skaakmat, gaan maar huis toe...  satan leun smalend oor die skouer van die mens, alles is verby, maar dan kom Opstanding Sondag en ek en jy weet. Dit het gelyk soos skaakmat, maar dit was 'n leuen, want die Koning had nog 'n skuif oor!

·       Ons land is in 'n gemors. Moorde vind oral plaas. Vroue en kinders word wreed vermoor en verkrag.  Mense verloor hul werk, huise, huwelike, lewens, selfrespek, morele waardes, harte en verstand... Jou lewe is 'n gemors. Jy soek, jy klop, jy roep... Jy huil, jy raak kwaad... Jy voel leeg. Jy voel verlore. Jy soek jou voetspore, maar vind verdwaalde paaie. satan staan en lag. Dis verby. Sluk daai pil, trek die sneller, gee daai tree oor die rand... Vrees is aan die orde van die dag. Vrees bepaal jou kom en jou gaan. Vrees vir jou plaas, vir jou vee. Vrees vir jou lewe, vrees vir jou medemens, vrees vir jouself, vrees vir jou gedagtes, vrees vir jou omstandighede, vrees vir môre, vrees vir die herinnering van gister, vrees vir die omstandighede van vandag.

·       Christene bel en vertel hoe hulle vrees vir die Koronavirus... VREES... Maar luister, die spel is nie oor nie!

·       Op alle terreine lyk dit soos ‘n skaakmat situasie... Maar die Koning, ons Koning, het nog 'n skuif oor!

Sien met rykhalse daarna uit. – Wekroep