Donderdag 18 Mei 2017

Jesus, die werklike veilige Skuiling


Op plekke langs die kusstrook van die “Isle of Wight” is heelwat grotte en spelonke. 'n Man se geraamte is in een van hierdie grotte gevind. Hy was 'n prisonier wat ontsnap het.
Hy het in die grot geskuil in die hoop dat hy saam met ‘n verbygaande skip verder sou kon vlug.
 

Helaas, die goeie geleentheid het nooit gekom nie. Hy kon nie waag om uit te kom nie. Word hy weer arresteer sou ‘n swaarder tronkstraf op hom wag.
Sy liggaamskragte het al hoe minder geword. Sy lot was aaklig. Hy het in absolute eensaamheid gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was 'n bedrieglike en noodlottige skuiling.
Mense verlaat hulle soms ook op 'n bedrieglike en tydelike skuiling. Tydens berading word die skuiling oopgevlek. Die een vrou vloek ontsettend om mense van haar af weg te hou. Haar seerkry vroeër was te groot. Sy gaan nie nog iemand toelaat om haar seer te maak nie, selfs ‘n skewe woord vir haar te sê nie. Vloek is deel van haar daaglikse gesprek.
Die volgende een skuil agter drank, nog een agter leuens, ‘n ander agter bedrog en ‘n ander weer agter werklike toe deure.
'n Kosbare lewe word geslyt in die gevaarlike skuiling van oneerlikheid. 'n Bedroewende skuiling is ook die oneerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie.
Nog 'n gevaarlike wegkruipplek is nuwe godsdiensbeskouinge, omdat dit 'n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondige praktyke.
Die bedrieglikste skuilplek is onkunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in gevaar.
Terloops, ons het voor die vloekende vrou gaan staan en vir haar gesê: “Jy kan maar ophou vloek, Jesus weet van jou en Hy is hartsogtelik lief vir jou,” en toe loop die trane.  Ons het net één betroubare, blywende, ware skuiling: Die kruisdood van Jesus Christus vir ons, en, ás 'n mens by daardie skuiling ingegaan het, kan jy saam met die Psalmskrywer sê:
“Maar laat hulle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.
“Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met 'n skild.” Ps 5:12-13