Woensdag 03 Mei 2017

Triomf!


Image result for worm

Hoekom langer ‘n wurm wil wees?


Hoekom langer 'n wurm wees? 

Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob …. Ek maak van jou ‘n skerp dorsslee wat baie tande het. – Jes. 41:14-16.

Watter groter kontras kan daar wees tussen ‘n wurmpie en ‘n harde staal dorsslee?
          Die nietige wurmpie kan op velerlei wyses eensklaps vernietig word, terwyl die staalharde dorsslee vele dinge kan vernietig sonder om self vernietig te word.
En die Almagtige GOD kan die een in die ander verander!
          Hy kan een persoon ‘n volk maak en albei dus deel van die geskiedenis, terwyl van die wurmpie nooit weer gesien of gehoor sal word nie.
          Wanneer GOD aan ons ‘n wil van staal gee, sny ons ‘n pad deur enige weerstand, deur enige wildernis.
          “Ek maak jou…”  sê Hy, en inderdaad, Hy wil en sal dit doen!
          GOD is besig om Sy Koninkryk te bou. Hiervoor gebruik Hy die gebroke dinge. Die mens wil alles aanpak alleen met die sterkes, die suksesvolles, die triomfantelikes, die ongebroke, die helde, om hul koninkryke mee te bou.
          GOD het nie Skrifgeleerdes, professore en doktore gebruik nie – nie dat hy hulle nie ook kan gebruik nie – maar eenvoudige ongeredde vistermanne, stamelaars, veewagters.
          Jesus sê Hy heel die gebroke harte. Die Hemel loop vol van die aarde se gebroke lewens.  Maar daar is geen geknakte riet wat Hy sal verbreek nie.
          Hy neem die lewens gekneus van pyn, verdriet en ellende en verander dit in Hemelse harmonieuse musiek vol lof.  Hy kan die aarde se mislukking ophef na ‘n glorieryke Hemel.
          Die HERE sê Hy woon in die hoogte en in die Heilige Plek, maar
Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Jes. 56:15.
          Mens moet dus nie na jouself kyk as bloot ‘n wurmpie nie. Kyk na wat GOD van jou wil maak!