Woensdag 03 Mei 2017

Komaan, bring die Gerwe in!


"Nou al ontvang die man wat oes, sy loon... en samel hy die oes in vir die Ewige Lewe." Joh 4:36
            'n Siek Sondagskoolonderwyser, mnr. Kimball van Boston VSA, sou binne afsienbare tyd sterf. Hy het sy klaslede een vir een na die HERE gelei. Dit was in 1858. Een van hulle was 'n seun, wat in 'n skoenwinkel gewerk het, Dwight L. Moody.
            D. L. Moody het een van die wêreld se grootste Evangeliste geword. In 1878 hou hy dienste in Londen. 'n Predikant wat in sy klein gemeentetjie 'n moedelose stryd voer, gaan luister na D. L. Moody.
'n Nuwe vuur van toewyding ontbrand in hom. Dit was die begin van die vrugbare skrywerbediening van dr. F.B. Meyer.
            Op uitnodiging preek dr. F.B. Meyer op 'n Amerikaanse kampus. 'n Man met die naam van J. Wilbur Chapman, kom tot bekering. Chapman word een van die baanbrekers van die YMCA.
            Deur Chapman se belangstelling en aanmoediging, besluit Billy Sunday, 'n gewilde bofbalspeler, wat 'n tyd tevore by 'n opelugdiens tot bekering gekom het en 'n vurige getuie vir die HERE geword het, om evangelis te word. Hy was so 'n kragtige prediker en het met sy bofbal-sleng tot die mánne se harte gespreek, stede se morele lewe het na sy veldtogte verander.
            Billy Sunday het in 'n stad Charlotte 'n veldtog gehou. Dit het 'n plaaslike groep sakemanne geïnspireer. Hulle het 'n opvolgveldtog gehou. Hulle het Mordecai Hamm as hulle veldtogprediker ingebring. Onder Hamm se prediking kom die jongman, Billy Graham, tot bekering.
Tot 'n dekade of twee gelede was Billy Graham – nou 96 jaar oud –  een van die invloedrykste Evangeliste en Christenleiers in die wêreld.
Sommige van ons het in 1973 Billy Graham se saamtrek op Ellispark bygewoon, waar die pawiljoene gevul was met mense wat na die Evangelie kom luister het en drie duisend mense die HERE aangeneem het.


Ellispark. Billy Graham preek, 1973. Foto: Billy Graham Evangelisasie Assosiasie.

            Onder al hierdie groot manne se prediking en boeke het baie duisende mense die Here gevind of beter leer volg. Dit het begin met 'n Sondagskoolonderwyser wat toegewyd en getrou genoeg was, om sy klaslede na die HERE te lei.
            "Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die HERE aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir Sy oes. Gaan nou!" Luk 10:2
Ons kan nie soos die groot evangeliste na die duisende gaan om te preek nie. Ons verantwoordelikheid is die een of twee of meer, wie se pad ons kruis en teenoor wie ons vir die HERE iets kan sê of doen. Of vir wie ons oor Jesus se redding iets te lees gee.
Onthou, ons is geroep om te getuig, nie te oortuig nie. Die Heilige Gees oortuig.
Ons was verlede Saterdag meer as ‘n Miljoen Gelowiges by Oom Angus Buchan se Nasionale Biddag in Bloemfontein. Honderde duisende het die Heilige Gees beleef en die trane het vryelik gevloei. Almal teenwoordig was van oral oor SA. Al bereik jy nou hoe min mense met die Evangelie, jy is ‘n Evangelis. Bring die siele in. Maak die getal vol.