Dinsdag 23 Mei 2017

Soek jy ook vrede op hierdie aarde?


Image result for john 16 33

Na 'n man se aftrede in die 1980's, het hy en sy vrou, uit vrees vir 'n kernoorlog, 'n plek van vrede en sekuriteit en ook gerief gesoek. Nuwe bronne geraadpleeg en weer gaan kyk. Uiteindelik het hulle DIE PLEK gekry.

Hulle het van hulle nuwe veilige tuiste in die Falklandeilande vir hulle vriende kaartjies gestuur. Hulle het te gou gepraat.
Nie lank na hulle intrek daar nie, het die Falkland Oorlog tussen Engeland en Argentinië oor beheer van die eilande, uitgebreek.
Hulle vredesoord het 'n oorlogsterrein geword. Eerw. David A. Sargent, wat hierdie storie vertel, merk op: "Daar is geen plek op hierdie aarde waar iemand perfekte vrede sal vind nie.”

Daar mag lande of streke wees waar daar nie huidig oorlog gevoer word nie, maar oral is dreigende spanning en botsings – tussen rassegroepe, in die werkplek, met die bank, met skuldeisers, met bure, met familielede en ook in 'n mens se eie hart met jouself.
Niemand kan vir ons vrede op die aarde waarborg nie, behalwe die HERE GOD JAWEH... en Hy belowe dit vir ons op skrif in sy Woord:

"Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin." Joh 16:33

David Sargent skryf: “’n Perfekte vrede is ons sin nie weens die afwesigheid van moeilikheid nie, maar weens die aanwesigheid van die teenwoordigheid van God. Nie oor die afwesigheid van konflik buite nie, maar ‘n innerlike kalmte binne die individu.”

Vrede te midde van die storm. "Dit is gegrondves op die vertroue in ‘n God wat vir Sy kinders omge en voorsien.”

In Lukas 12:22-32 belowe Jesus beskerming en versorging, wat God soos 'n Vader aan Sy kinders gee: "Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie…julle moenie besorg wees nie… julle het 'n Vader wat weet dat julle dit nodig het."

David Sargent voeg by: "Jesus Christus het aan die Kruis op Golgota gesterf juis sodat en jy daardie vrede kan smaak.”

            Die geheim van vrede? God se nabyheid. Dit was Moses se wysheid om te weier om 'n voet te versit tensy hy die versekering van God se nabyheid had. Ons ervaar God se nabyheid deur Jesus se Koningskap in die hart. Jesus se Koningskap volg as ons nie die Heilige Gees weerstaan nie, maar Sy werking in ons soek deur gebed en Bybelstudie en omgang met ander kinders van God.

            "Toe het die Here gevra: 'Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?' Toe het Moses vir Hom gesê: 'As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.' Exs 33:12-17