Woensdag 03 Mei 2017

Ons vlieg na die einde toe – Koop die Tyd uit!


Image result for church bells


Kerkklokke


Wel, dis hoe dit beskryf word in Ps 90:10 “Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”
            Strofe 9 noem dat ons jare soos ‘n gedagte verbygaan.
            Op Steynsrust in die Vrystaat is ‘n kerkklok met die eerste strofe van ‘n gedig deur A.G. Visser daarop gegraveer:

Na korte Dag -
Die lange Nag.
Na weinig Tyd -
Die Ewigheid.

            Die tweede strofe wat nie op die kerklok gegraveer is nie, lees soos volg:
   
Vas staan en sterk
Gods Heiligdom:
Waak, bid en werk
Totdat Hy kom.

In ons snelle vaart na die einde van 2017 toe, is ons opnuut bewus van hoe kort die tyd is en hoe vinnig dit verbygaan. 'n Grysaard het een keer gese: “My lewe het soos 'n droom verby gegaan. Ek wou nog leef, toe is dit verby."
'n Hooggeplaasde man, prokureur en politikus, begaafd, in al sy onderneminge suksesvol, het skielik siek geword en onverwags by sy einde gekom.
Om hom op te beur, deur hom oor sy prestasies te laat praat, vra 'n vriend hom, hoe hy oor sy lewe voel, as hy oor sy briljante loopbaan terugkyk?
Sy antwoord, as komende van 'n denkende man, in die volle aangesig van die Ewigheid, was treffend en onvergeetlik: "My suksesse ten spyt, voel ek nou dat my lewe 'n mislukking was. Ek het nie een van die groot doeleindes waarvoor die lewe eintlik gegee is, bereik nie. Nou is dit te laat."
Ongelukkig het hy nie gesê oor watter lewenswaardes hy toe gedink het nie. Maar wat hy gesê het, kom hierop neer: 'n Lewe net op die aardse bestaan gefokus, is 'n lewe misgelewe. Dis 'n droewige verhaal, met ‘n droewige einde.
            Jesus het gesê: "...wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?" Mar 8:36
Elke mens maak sy eie lewenskeuse en die keuse van sy lewenseinde en ewigheidsbestemming. Gelukkig is dit nooit te laat om 'n koersverandering te maak nie.
Vir die misdadiger aan die kruis was dit 'n laat uur, maar gelukkig het hy met sy vuil, mislukte verlede langs Jesus gehang. En gelukkig het hy volle gebruik van sy goeie kans gemaak.
"Jesus, dink aan my wanneer U in u Koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees." Luk 23:42,43
Jesus voeg by: "…Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie." Joh 6:37
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;  en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;  en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15
            “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;  en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Efes 5:15-16