Vrydag 05 Mei 2017

God se mossies


In ‘n Britse konsentrasie kamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere af.
Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vroue. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasie kamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vroue te bemoedig, want wie weet hoe lank nog…
Anette lees die woorde van Matt 10:29 – “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”
            Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal (wyfie) mossie op haar skouer. Die groepie vroue staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasie kamp in Bethulie.


Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vroue. Op 21 Mei 1902 was die oorlog verby. Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossie-boodskap, sy het dit weer oorvertel en Genl Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk, kwartpennie (oortjie) laat verskyn.
            Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die “mossie” boodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!
            Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het, hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.
            Toe hy opnklim sien hy ’n muntstuk op die vloer lê, hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand, met ’n mossie agter op. Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stil staan het, dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed sy waarborg is in hierdie stukkende wêreld.
            Vandag ’n paar jaar later, skud ek my beursie uit. Ek sit ʼn 1c neer vir my vriendin met borskanker, nog ʼn 1c vir huwelike wat sukkel, ’n 1c vir iemand na aan my hart se werksomstandighede, vir enkel ouers en weduwees, vir aangenome kinders,vir moeders wat hul bvaba’s noodgedwonge moes laat aanneem…. en ek besef die mossie boodskap is dalk net een versie in ’n dik Bybel, maar ’n Almagtige, liefdevolle God staan agter dit!
            HERE, dankie, dat daar altyd hoop is. Dankie, vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees, terwyl ons wag vir U, om op die perfekte tyd ons omstandighede te verander. Gister terwyl ek vir my kliente sit en wag en ek dieselfde boodskap vir my vrou gestuur het, het drie mossies op my voertuig se voorste bosbalk kom sit en het ek dadelik geweet ons Koning praat met my om my gerus te stel.
            Daar is niemand soos Hy nie en Hy sal altyd na ons kyk en ons versorg. Hy's net 'n gebed ver.

So gepraat van mossies:
Is jy straks ‘n ekstra?
"Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie." Luk 12:4-7
            Om te verstaan wat hierdie strofe bedoel, moet mens na die getuienis van ‘n klein Spaanse seuntjie luister.


In die King's Business word vertel van 'n Spaanse seuntjie in Vigo, wat 'n toegewyde volgeling van die Here Jesus geword het.
'n Christen Engelsman vra hom eendag, wat tot sy bekering gelei het?
Die seuntjie antwoord: "Dis die ekstra mossie wat dit bewerk het."
"Die ekstra mossie?" vra die man verwonderd.
"Sien, Senór, dit het so gewerk. 'n Man het eendag vir my 'n Bybel gegee. Ek lees toe op een plek dat Nuestro Senór Jesus (ons HERE Jesus) gesê het, twee mossies word vir een chico verkoop. Op 'n ander plek lees ek Hy sê, vyf mossies word vir twee chicos verkoop.
Toe dink ek, Nuestro Senór Jesus ken darem ons tradisie om voëls te verkoop baie goed. Senór weet mos, ons vang voëls en verkoop dit: twee vir een chico en vier vir twee chicos, maar dan gooi ons sommer 'n ekstra voëltjie, die vyfde een, by.
Hy tel nie eintlik nie. Hy word sommer net gegee.
Toe dink ek by myself: ek is so arm en nikswerd en klein, niemand tel my ooit by nie. Ek is sommer net niks. Ek is soos daardie ekstra mossie. En tog, is dit nie wonderlik nie, Nuestro Senór Jesus sê: 'nie een van hulle word deur God vergeet nie.' Ook nie die ekstra, verniet, een nie.
Ek het nog nooit so iets gehoor nie, Senór. Niemand as net Nuestro Senór Jesus sou aan so iets kon dink nie! Toe weet ek, ek tel ook by Hom en toe bid ek en ek sê: 'Nuestro Senór Jesus, vat my ook asseblief.' Toe weet ek Hy het my gevat. En nou lewe ek vir Hom."
Al voel jy soos ‘n ekstra mossie, kom, daar is plek vir jou ook.
En al lyk iemand anders vir jou soos ‘n ekstra mossie, Jesus wag vir hom, sorg dat jy hom bereik. – Sjibbolet