Woensdag 10 Julie 2019

Jesus doen ‘n hartoorplanting



‘n Negejarige seuntjie het 12 ure lank per bus na Mexikostad gereis vir ‘n nuwe hart. Hy moes ‘n hartoorplanting kry.

            Hy verkoop toe plantjies om die reisgeld te bekom. Met sy vertrek  het hy aan sy moeder gesê: “Moenie bekommer nie, ek sal my wonderwerk ontvang wanneer ek die hoofstad van Mexiko bereik. 

            Toe hy die stad binnekom is hy deur booswigte van sy  oorblywende geldjies beroof. Dit het nie sy moed of geloof geknak nie. Hy was op pad na sy antwoord  en hy sou nie rus voordat hy saam met 20 000 ander mense die groot diens in die reuse ouditorium bywoon nie.

            Toe Guillermo Maldonado, Evangelis van Florida in die VSA, die ouditorium in Mexikostad binnestap het die heerlikheid van die HERE binnegekom. Vooraf het die HERE vir  Guillermo gesê: “Jy sal vir niemand bid nie, kyk, aanskou hoe Ek, die HERE God Jahweh, dit doen.”  

Lof- en aanbiddingsliedere het vyf ure lank aangehou....  Guillermo het niks gedoen nie, behalwe om saam die naam van die HERE groot te maak.

Tydens die lof en aanbidding het 10 mense uit hulle rystoele uit opgestaan, blakend gesond. Dowes het gehoor, blindes het gesien...

Toe bring hulle die 9-jarige seuntjie na die verhoog... en die seuntjie het in trane vertel: ”Toe die heerlikheid van Jesus oor my kom was daar ‘n brand gevoel in my bors en nou het ek ‘n nuwe hart.”

Twintig mediese dokters wat in die diens aanwesig was, het almal na die seuntjie se nuwe hart geluister en getuig, sy nuwe hartjie klop foutloos.

            Guillermo sê dit het nou in ‘n paar van sy dienste gebeur dat die Heerlikheid van die HERE net op die mense val sonder dat hy preek.

Hy is oortuig daarvan dat genesings en wonderwerke wêreldwyd op groot skaal gaan plaasvind waar Gelowiges op die HERE wag.

            Dit laat mens wonder oor SA. Is ons so behep met die daaglikse lewe, dat ons, ons oë van die HERE afhaal?

            Om vyf ure lank die HERE te loof en te aanbid in gebed en sang, is ongehoord. Gelowiges wat ‘n intieme verhouding met die HERE het, moet dit gerus doen.

Tydens die bekende charismatiese Herlewing vanaf 1970 tot 1980, het Gelowiges dag en nag gebid, en soms sommer hande gevat op sypaadjies om te bid. Sommige het 3vm opgestaan om ander in motorhuise, kerksale en elders te ontmoet vir gebed. Groot en klein het daaraan deelgeneem en getuienisse het soos waterstrome Nuwe Lewe voortgebring. Ere sy die Lam van God. – Wekroep