Maandag 15 Julie 2019

Wie karig saai, sal karig oes


Dit is ‘n Skriftuurlike waarheid: "Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…" 2 Kor 9:6-8

            Daar is alewig debat oor: Hoeveel tiende moet ek gee, van al my inkomste of net van die deel na aftrekkings? Daar is nog talle argumente. Laat dit wees soos dit wil: Die meetinstrument... God se meetinstrument gaan oor karig saai...

            Twee studente, wat aan die Leland Stanford Universiteit studeer het, moes werk vir hulle studiegelde. Hulle fondse het gedaal en hulle moes 'n plan beraam vir groter inkomste. Hulle kry die plan om 'n konsert aan te bied waarin die Poolse pianis, Ignace Paderewski, 'n klavieruitvoering sou gee.

Die beroemde kunstenaar se bestuurder het 'n waarborg van $2 000 (R30 000) gevra. Die twee studente het voortgegaan en die konsert aangebied. Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Paderewski gestel, die volle $1 600 aan hom oorhandig en vir hom 'n skuldbewys van $400 gegee.

"Nee, manne," het Paderewski geantwoord, "dit sal nie werk nie." Hy het die skuldbewys opgeskeur en die $1 600 aan hulle teruggegee. "Trek julle onkoste af en gee vir julle elkeen 10% van die bedrag en laat ek die balans kry."

Die jare het verby gerol en die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek. Paderewski het hard gewerk om sy honger, sterwende Poolse landgenote te help voed. Paderewski het planne beraam om iemand in die buiteland om hulp te nader.

Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton voedsel instroom om die hongeres te voed. Na al die reëlings getref is om die voedsel reg uit te deel, het Paderewski Parys toe gegaan om Herbert Hoover, die skenker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonderlike hulp."

Dis alles reg, mnr. Paderewski" het Hoover geantwoord. "Ek het besef die nood is groot en ek is gelukkig in 'n posisie om te help. Buitendien, u sal dit seker nie onthou nie, maar u het eenkeer toe ek en 'n studentemaat in die moeilikheid was, ons uit ons ellende gehelp."

Wat ons vir 'n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat 'n goeie gewer liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood verkeer. "Gee, en vir julle sal gegee word: ’'n goeie maat, ingestamp, propvol…" Luk 6:37-42. Dit is God wat ons help, maar Hy gebruik 'n menslike instrument om dit te doen. – Wekroep