Wys tans plasings met die etiket wat jy saai sal jy maai. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket wat jy saai sal jy maai. Wys alle plasings

Maandag 15 Julie 2019

Wie karig saai, sal karig oes


Dit is ‘n Skriftuurlike waarheid: "Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…" 2 Kor 9:6-8

            Daar is alewig debat oor: Hoeveel tiende moet ek gee, van al my inkomste of net van die deel na aftrekkings? Daar is nog talle argumente. Laat dit wees soos dit wil: Die meetinstrument... God se meetinstrument gaan oor karig saai...

            Twee studente, wat aan die Leland Stanford Universiteit studeer het, moes werk vir hulle studiegelde. Hulle fondse het gedaal en hulle moes 'n plan beraam vir groter inkomste. Hulle kry die plan om 'n konsert aan te bied waarin die Poolse pianis, Ignace Paderewski, 'n klavieruitvoering sou gee.

Die beroemde kunstenaar se bestuurder het 'n waarborg van $2 000 (R30 000) gevra. Die twee studente het voortgegaan en die konsert aangebied. Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Paderewski gestel, die volle $1 600 aan hom oorhandig en vir hom 'n skuldbewys van $400 gegee.

"Nee, manne," het Paderewski geantwoord, "dit sal nie werk nie." Hy het die skuldbewys opgeskeur en die $1 600 aan hulle teruggegee. "Trek julle onkoste af en gee vir julle elkeen 10% van die bedrag en laat ek die balans kry."

Die jare het verby gerol en die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek. Paderewski het hard gewerk om sy honger, sterwende Poolse landgenote te help voed. Paderewski het planne beraam om iemand in die buiteland om hulp te nader.

Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton voedsel instroom om die hongeres te voed. Na al die reëlings getref is om die voedsel reg uit te deel, het Paderewski Parys toe gegaan om Herbert Hoover, die skenker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonderlike hulp."

Dis alles reg, mnr. Paderewski" het Hoover geantwoord. "Ek het besef die nood is groot en ek is gelukkig in 'n posisie om te help. Buitendien, u sal dit seker nie onthou nie, maar u het eenkeer toe ek en 'n studentemaat in die moeilikheid was, ons uit ons ellende gehelp."

Wat ons vir 'n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat 'n goeie gewer liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood verkeer. "Gee, en vir julle sal gegee word: ’'n goeie maat, ingestamp, propvol…" Luk 6:37-42. Dit is God wat ons help, maar Hy gebruik 'n menslike instrument om dit te doen. – Wekroep


Woensdag 29 Augustus 2018

Die Totale Aanslag


Image result for woord van god

Wêreldwyd is daar ‘n totale aanslag op die Christendom, pleks van die omgekeerde.

            “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die Engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Luk 15:10

Hoe kan enige Gelowige dit nie begeer om deel van so ‘n Hemelse blydskap te wees nie!

            Ons kan, as ons die volgende doen: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy Heil van dag tot dag.  Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.” Ps 96:3

            By Sjibbolet is ons ‘n paar mense wat saamwerk om die Goeie Nuus selfs oor die grense van die land uit te dra. Ons versprei die Woord meesal in gedrukte vorm, maar sommige predik ook voor groepe.

            Ons ontvang briefies en e-posse van Gelowiges wat vra: “Wat is daar wat ek vir die HERE kan dien?” Ander sê: “Ek wil ook graag iets vir die HERE doen.”

Die oes is baie groot en gereed om in te bring. Die arbeiders is min.  Dit alles kos egter geld.  As jy nog nie weet hoe die HERE jou wil gebruik in die oesveld nie, begin dan en help  ten minste vir ons en ander om die werk te kan doen en leer van ons.

VOORDELE VAN DIE GEDRUKTE WOORD

*  Dit bereik mense op die mees afgelëe plekke;

*  Dit bring die Woord aan skole, universiteite, gevangenisse, hospitale. Daar gaan meer mense deur die hospitale en gevangenisse van die wêreld as deur die kerke.

*  Dit beweeg oor taalgrense heen en is nooit bevooroordeeld nie;

*  Dit reis baie goedkoop en het nie ‘n paspoort of visum nodig nie;

*  Dit bring aan ryk en arm, bekend en onbekend, presies dieselfde boodskap;

*  Dit spreek vir so lank  as wat dit mag bestaan en herhaal sy boodskap oor en oor;

*  Dit word nooit mismoedig nie, werk 24 uur per dag, 365 dae per jaar;

*  Dit keer nooit leeg terug nie, want dit bly die Lewende Woord.

            Jare gelede het ons traktaatjies op sypaadjies en op straathoeke verspei. Mense wil dit nie langer so aanvaar nie. Versprei die boodskappe per e-pos, of maak fofostate en versprei dit in posbusse, in tydskryfte in spreekkamers, glip dit in iemand se sak of inkopies.

            Daar is plek in die Hemel vir boemelaars ook. Wanneer jy vir hulle ‘n geldjie of kos gee, gee sommer ‘n boodskap saam.

            Hou altyd boodskappe in jou motor aan, daar is baie mense langs die pad vir wie jy dit kan gee. Bid daaroor en dank die HERE dat sy Woord nooit leeg terugkeer nie.

            Moet dit nooit in motors se ruitveërs plaas nie. Ruitveërs is die sensitiefste deel van ‘n voertuig en speel ‘n belangrike rol,. Mens durf dit nie beskadig nie.

            Ons beplan  groter uitbreidings. Ons vra nooit geld nie. Mense gee soos wat die Gees van die HERE hulle lei

Ons versprei ook kos, klere, skoene en Bybels.

            Onthou: Jesus heel die gebroke Harte. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon -- Heilig is Sy naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek, maar Ek woon ook by die verbryselde en nederige van gees -- waarom?

            “Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” -- Jes. 57:15.  –  Sjibbolet.buro@gmail.com 

Dinsdag 07 Augustus 2018

‘Wanneer my skip inkom…’


Image result for wat jy saai sal jy maai


In elke vrug wat jy oopsny sal jy die sade kan tel. Maar jy sal nie kan tel hoeveel vrugte in elke saad is nie. Dis soos met die broodjies en die vissies… God se vermenigvulde krag is en bly in werking.

            Saad is deur God geskep om ‘n opbrengs, ‘n oes, te kan voortbring. Dit is die hele doel van saad. In baie gevalle is vandag se somtotaal van mense se lewens, dit wat hulle deur die ewe gesaai het.

            Iemand sê in reaksie: “Die dag as my skip inkom, dan sal alles verander.” Maar hy het nie eers ‘n skip uitgestuur nie.

            As jou lewe ‘n teleurstelling is, en jy wil dit graag omkeer, begin dan die vuilgoed uit jou lewe uitskoffel, maak reg met die HERE, dolwe jou lewe van vooraf om en begin saai… sommer in die droogte, so te midde van die hongersnood, so te midde van al die tekortkominge. In Israel is ‘n enkele saad van ‘n olyfboom na 2 000 jaar geplant en die boom dra lywig aan al die olywe.

            Let op: Jou gedagtes is saad, jou woorde is saad, jou gasvryheid is saad,  so ook jou optredes, jou reaksies,  jou geld, jou talente, jou gawes, selfs jou glimlag… dit alles en meer is jou saad. Hierdie keer  sorg jy dat jy net goeie saad saai.

            Let weer op: “Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.” Job 4:8

            En…“Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.” Ps 126:5

            “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.” Hos 10:12

            “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” 2 Kor 9:6

            “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.” 2 Kor 9:7

            “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

“Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die Ewige Lewe maai.” Gal 6:7-8

As ‘n boer ooit waag om in sy saaiery te verslap, is hy gou in groot moeilikheid. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” Gal 6:9

Saai is ‘n voltydse taak, maar dis geen moeisame taak nie. Mens doen dit met blymoedigheid.

Ons moet mildelik saai want ons moet siele inwin vir die Koninkryk.

Al is jy net ‘n karwag, straks wel ‘n boemelaar, saai en hou nooit op om te saai nie.  Dis al manier om ‘n oes in te bring. – Sjibbolet