Dinsdag 07 Augustus 2018

‘Wanneer my skip inkom…’


Image result for wat jy saai sal jy maai


In elke vrug wat jy oopsny sal jy die sade kan tel. Maar jy sal nie kan tel hoeveel vrugte in elke saad is nie. Dis soos met die broodjies en die vissies… God se vermenigvulde krag is en bly in werking.

            Saad is deur God geskep om ‘n opbrengs, ‘n oes, te kan voortbring. Dit is die hele doel van saad. In baie gevalle is vandag se somtotaal van mense se lewens, dit wat hulle deur die ewe gesaai het.

            Iemand sê in reaksie: “Die dag as my skip inkom, dan sal alles verander.” Maar hy het nie eers ‘n skip uitgestuur nie.

            As jou lewe ‘n teleurstelling is, en jy wil dit graag omkeer, begin dan die vuilgoed uit jou lewe uitskoffel, maak reg met die HERE, dolwe jou lewe van vooraf om en begin saai… sommer in die droogte, so te midde van die hongersnood, so te midde van al die tekortkominge. In Israel is ‘n enkele saad van ‘n olyfboom na 2 000 jaar geplant en die boom dra lywig aan al die olywe.

            Let op: Jou gedagtes is saad, jou woorde is saad, jou gasvryheid is saad,  so ook jou optredes, jou reaksies,  jou geld, jou talente, jou gawes, selfs jou glimlag… dit alles en meer is jou saad. Hierdie keer  sorg jy dat jy net goeie saad saai.

            Let weer op: “Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.” Job 4:8

            En…“Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.” Ps 126:5

            “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.” Hos 10:12

            “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” 2 Kor 9:6

            “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.” 2 Kor 9:7

            “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

“Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die Ewige Lewe maai.” Gal 6:7-8

As ‘n boer ooit waag om in sy saaiery te verslap, is hy gou in groot moeilikheid. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” Gal 6:9

Saai is ‘n voltydse taak, maar dis geen moeisame taak nie. Mens doen dit met blymoedigheid.

Ons moet mildelik saai want ons moet siele inwin vir die Koninkryk.

Al is jy net ‘n karwag, straks wel ‘n boemelaar, saai en hou nooit op om te saai nie.  Dis al manier om ‘n oes in te bring. – Sjibbolet