Dinsdag 21 Augustus 2018

Hoop op Hoop


Image result for bybel


Ek klop, soos so baie keer, aan ‘n vreemde deur. ‘n Vrou maak oop.

  Ek, Bybel in die hand: “Goeiemiddag mevrou, ek is op pad Hemel toe. Ek kom net hoor, as dit vanmiddag sou wees, gaan u saam met my...”

  Met vrees antwoord sy bang: “Nee meneer.”

  Ek: “Maar waarom nie...

  Sy: “Ek hoop ek kan saamgaan, maar ek het te veel sonde meneer.”

  Ek kry haar innig jammer. Sy lyk skielik so beteuterd.

  Op my vraag of ek kan inkom, nooi sy my binne en ons begin gesels...

Ek verduidelik dat “hoop” in die Bybel beteken toekomsfeit. “Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Hebr 11-1

Hoop beteken nie “dalk” nie. Hoop beteken “verwagting, begeerte en opwinding.”

“En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees.” Rom 15:13

God IS die HOOP – soos wat Hy die Liefde is.

“'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom. Spr 13:12

Hoe kragtig is dit! Hoop wat uitgestel is, is maar net vertraag. Dit beteken eintlik. dit is op pad.   Dit Kom! EN DAN....wanneer dit kom sal dit soos ‘n Lewensboom wees! Hoe kragtig is dit!                                                                                                                                                                                     

Die  vertraging is net ‘n toets, nie ‘n versoeking nie.

God toets ons nie op ons swakhede nie – die duiwel doen dit. God toets ons sterkpunte juis om dit sterker te maak!

  En as jy straks in versoeking sou val, kwel jou nie daaroor nie, maar: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val... Jak 1:2

  As Jesus alle toetse kon slaag, kan ons ook want ons het dieselfde Gees as Jesus.

”Want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smorens is daar gejuig.” Ps 30:6

  Ons lewe in ‘n tyd waar ‘n mens maklik van jou hoop beroof kan word. Moet dit nie toelaat nie.

Hoop het nog nooit iemand beskaam nie. Staan vas want jy weet aan God se beloftes dat Hy ‘n waarmaker van sy Woord is.

  Sarah had geen hoop nie en later kry wel hoop en uiteindelik baar sy toe tog. Vir hoeveel kinderlose vroue is nie al in ons tyd die hande opgelê en dan het hulle gebaar nie.

  Net soos wat mens jou spiere oefen, moet mens ook jou geloof oefen.

  Luister: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” Num 23:19

              Nogtans verval ons soms in wanhoop en word ons mismoedig.  Mismoedigheid  is veronderstel om vir die Christen ‘n kortstondige moment te wees op pad terug na hoop.

  Ons het hoop as integrale deel van ons bestaan nodig want ons kan nie sonder hoop lewe nie.

  Sonder hoop voel dit vir ons of die lewe nie die moeite werd is nie.

  Wanneer ons hoop het, dan voel ons soos wat God ons gemaak het. Sonder hoop voel ons soos ‘n regte ou nikswerd – totdat ons besef, daar is hoop!

  Daar IS hoop! Dit maak nie saak wat jou omstandighede is en watter probleme jy in die gesig staar nie: Daar is beslis hoop. Solank jy nog lewe en asemhaal is daar hoop.

  Omstandighede kan verander.  “Want solank iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop.” Pred. 9:4.- Sjibbolet