Wys tans plasings met die etiket Versprei die Evangelie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Versprei die Evangelie. Wys alle plasings

Maandag 16 Maart 2020

Amity druk 200 miljoenste Bybel


Die Nanjing Amity Printing Company in China, die grootste Bybeldrukpers in die wêreld, het Dinsdag die druk van sy 200 miljoenste Bybel gevier.

Chinese kerkleiers en regeringsbeamptes, verteenwoordigers van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe asook verteenwoordigers van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) het die spesiale geleentheid bygewoon.

Daar het groot opgewondenheid geheers toe 'n foto van die 200 miljoenste Bybel op die skerm verskyn het  – een van die BSA se Bybels! "Dit is vir die BSA 'n spesiale voorreg dat een van ons Bybels die 200 miljoenste Bybel is wat deur Amity gedruk is. Ons is ook oorstelp om deel te wees van die merkwaardige storie waar die Bybel in China 'n herlewing beleef. Dit is egter nie net die 200 miljoenste Bybel wat ons vier nie, maar elkeen van daardie 200 miljoen Bybels aangesien elkeen 'n saad is wat 'n oes van geloof, hoop en liefde kan lewer,” het Dirk Gevers, Uitvoerende Hoof van die BSA, gesê nadat hy 'n spesiale sertifikaat van Luke Liu, Amity se Uitvoerende Hoof, ontvang het.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika druk sedert 2007 Bybels by Amity. Tot op hede is bykans 12 miljoen Bybels gedruk om so die lewegewende boodskap van God se Woord aan Suid-Afrikaners te voorsien.

Qiu Zhonghui, raadsvoorsitter van die Amity Stigting en Amity Drukpers, het hulde gebring aan die stigters van die drukpers en die aansienlike bydrae wat hulle tot die Bybelbediening van die kerke in China en regoor die wêreld gemaak het.

"Van die 200 miljoen Bybels wat gedruk is, is meer as 85 miljoen eksemplare vir kerke in China gedruk en versprei. Dit sluit Braillebybels en Bybels in 11 inheemse minderheidstale in," het hy gesê. Inwoners van 147 lande is deur die 200 miljoen Bybels bereik.

Die Amity drukpers is in 1987 geopen, met 'n prioriteit om Bybels vir Chinese Christene en kerke te druk. Die eerste Bybel het op 14 Oktober 1987 van die drukpers afgekom. Vandag spog die pers met hipermoderne toerusting wat deur 500 personeellede beman word en wat meer as 20 miljoen Bybels per jaar kan druk, teen 'n gemiddelde van een Bybel per sekonde.

http://www.amityprinting.com/en/gsyw/info.aspx?itemid=245

Dinsdag 26 Februarie 2019

Die indrukwekkende rol van ‘n Traktaat



Dr Robert Tillman Kendall, gebore 6 Junie 1936, is ‘n geestelike skrywer van meer as 50 boeke. Hy was ook 25 jaar lank predikant in die bekende Westminster Kapel.

            Kendall is tans deel van die Woord, Gees en Krag eenheid, ‘n nie-kerklike Charismatiese bediening.

            Op 84-jarige ouderdom bring hy steeds die Woord. Hy vertel dat sy pa so graag traktate versprei het. Later het hy van die traktate in ander tale laat vertaal en verder versprei. So het hy ook traktaatjies in Duits laat vertaal en in Duitsland versprei.

Eendag het sy pa ‘n brief van iemand in Duitsland ontvang. Die persoon het geskryf: “My pa  het een van julle traktaatjies ontvang en dit gelees. Aan die einde het hy die gebed tot Wedergeboorte onderaan die traktaatjie hardop gebid en toe gesterf.”

Wanneer dit nasionale of plaaslike verkiesings is, dan maak die onderskeie partye seker elke mens in die land weet presies waaroor dit gaan. Niemand kan egter ‘n kieser dwing om te stem nie.

Net so met die Evangelie: Ons moet seker maak dat elke mens weet wat die Wedergeboorte behels. Ons mag egter nooit iemand dwing om die Wedergeboorte deelagtig te word nie. Ons moet egter die Evangeie ten alle koste versprei.

    “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

   “Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.

    “En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

    “Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.” Eseg 3:1821

Mens kan traktate self skryf, van die Internet aflaai, per e-pos en ook per hand versprei. – Wekroep

                 

Woensdag 29 Augustus 2018

Die Totale Aanslag


Image result for woord van god

Wêreldwyd is daar ‘n totale aanslag op die Christendom, pleks van die omgekeerde.

            “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die Engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Luk 15:10

Hoe kan enige Gelowige dit nie begeer om deel van so ‘n Hemelse blydskap te wees nie!

            Ons kan, as ons die volgende doen: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy Heil van dag tot dag.  Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.” Ps 96:3

            By Sjibbolet is ons ‘n paar mense wat saamwerk om die Goeie Nuus selfs oor die grense van die land uit te dra. Ons versprei die Woord meesal in gedrukte vorm, maar sommige predik ook voor groepe.

            Ons ontvang briefies en e-posse van Gelowiges wat vra: “Wat is daar wat ek vir die HERE kan dien?” Ander sê: “Ek wil ook graag iets vir die HERE doen.”

Die oes is baie groot en gereed om in te bring. Die arbeiders is min.  Dit alles kos egter geld.  As jy nog nie weet hoe die HERE jou wil gebruik in die oesveld nie, begin dan en help  ten minste vir ons en ander om die werk te kan doen en leer van ons.

VOORDELE VAN DIE GEDRUKTE WOORD

*  Dit bereik mense op die mees afgelëe plekke;

*  Dit bring die Woord aan skole, universiteite, gevangenisse, hospitale. Daar gaan meer mense deur die hospitale en gevangenisse van die wêreld as deur die kerke.

*  Dit beweeg oor taalgrense heen en is nooit bevooroordeeld nie;

*  Dit reis baie goedkoop en het nie ‘n paspoort of visum nodig nie;

*  Dit bring aan ryk en arm, bekend en onbekend, presies dieselfde boodskap;

*  Dit spreek vir so lank  as wat dit mag bestaan en herhaal sy boodskap oor en oor;

*  Dit word nooit mismoedig nie, werk 24 uur per dag, 365 dae per jaar;

*  Dit keer nooit leeg terug nie, want dit bly die Lewende Woord.

            Jare gelede het ons traktaatjies op sypaadjies en op straathoeke verspei. Mense wil dit nie langer so aanvaar nie. Versprei die boodskappe per e-pos, of maak fofostate en versprei dit in posbusse, in tydskryfte in spreekkamers, glip dit in iemand se sak of inkopies.

            Daar is plek in die Hemel vir boemelaars ook. Wanneer jy vir hulle ‘n geldjie of kos gee, gee sommer ‘n boodskap saam.

            Hou altyd boodskappe in jou motor aan, daar is baie mense langs die pad vir wie jy dit kan gee. Bid daaroor en dank die HERE dat sy Woord nooit leeg terugkeer nie.

            Moet dit nooit in motors se ruitveërs plaas nie. Ruitveërs is die sensitiefste deel van ‘n voertuig en speel ‘n belangrike rol,. Mens durf dit nie beskadig nie.

            Ons beplan  groter uitbreidings. Ons vra nooit geld nie. Mense gee soos wat die Gees van die HERE hulle lei

Ons versprei ook kos, klere, skoene en Bybels.

            Onthou: Jesus heel die gebroke Harte. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon -- Heilig is Sy naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek, maar Ek woon ook by die verbryselde en nederige van gees -- waarom?

            “Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” -- Jes. 57:15.  –  Sjibbolet.buro@gmail.com 

Dinsdag 18 Julie 2017

Die regte Voorkeure


Dr. William L. Stidger “Bill” vertel in sy boek, There are Sermons in Stories, van die meisie, Sadie Smithson, wat eintlik arm groot geword het in Johnsons Falls, Wes Virginia. Haar pa was in beheer van 'n perdestal en syself het met naaldwerk 'n inkomste probeer maak. Hulle het net bo die armlastige vlak geleef.



Sy wou graag met die hoër klas van die dorp meng. Haar plan om dit reg te kry, was om lid te word van die Laurel Literary Society, 'n organisasie wat die sosiale glans van haar dorp weerspieël het. Na sy klaar was met hoërskool het sy aansoek gedoen vir lidmaatskap. Haar aansoek is afgekeur.
Wel, het sy gedink, miskien sal hulle meer van haar dink as sy deur Europa gereis het. Sy het geld gespaar en gedroom hoe die sagte handskoenhande sal klap, as sy haar lesing van My Toer deur Europa gelewer het.
Na jare se spaar het sy haar droom verwesenlik en saam met 'n professor en sy vrou die toer aangepak.
Juis toe breek die Wêreldoorlog uit. Sadie was met die aanvang van die oorlog in België, maar slaag daarin om 'n rit na Parys toe te kry. Die bestuurder raak egter sy koers kwyt en skielik ry hulle oor 'n slagveld.
Sadie kyk af op 'n gewonde soldaat wat reg langs hulle voertuig lê. "Water!" skreeu hy. "In hemelsnaam, water!"
Sadie spring uit die bussie uit en hardloop met 'n beker na 'n nabygeleë fontein en bring vir hom water. Toe roep nog een vir water. Weer hardloop sy fontein toe.
Die bussie vertrek sonder haar. Heel nag hardloop sy heen en weer tussen die fontein en gewonde soldate. Sy skeur haar rok repe en probeer hulle wonde toebind. Sy skryf sterwende manne se boodskappe aan hulle dierbares neer. By elke man bid sy.
Dit is 'n nag van verskrikking en donkerte, en gekerm van gewonde soldate. 'n Ambulans met 'n dokter en verpleërs kom aan. Hulle is verstom om die arm jongvrou van West Virginia tussen die bloed en verwoesting van die oorlog te vind.
In William Stidger se woorde roep die dokter uit: "Who are you? What in thunder are you doing here?"
"I'm Sadie Smithson," she said, "and I've been holding hell back all night."
"Well miss Sadie Smithson," said the young doctor, "I'm glad you held some of it back, for everybody else in the world was letting it loose last night."
Terug huis toe, op die skip, vertel sy haar storie vir 'n medepassasier. "Ek het self nie kinders gehad nie, maar daardie nag was al daardie manne my kinders. Daardie nag kon ek my lewe vir hulle gee," voeg sy by.
Die passasier antwoord: "Wel, ek dink die Laurel Literary Society sal nou bly wees om jou hulle lid te maak."
Sadie antwoord, in Stidger se woorde: "Nee, ek was van aangesig tot aangesig met oorlog, dood, die hel en God, klein dingetjies soos die Laurel Literary Society maak nie meer vir my saak nie.”
"Wat maak dan wel saak,” vra die vriend.”
"Niks, het Sadie geantwoord. "Niks behalwe God en liefde en om te doen aan ander na wie Hy my stuur nie.”
Iets van die HERE Jesus se gesindheid het daardie nag in Sadie se hart wakker geword, sodat klein wêreldse weeldes en eer vir haar niksseggende waarde gekry het.
Jesus het in die donker van die nag na 'n sterwende mensdom toe gekom. Hy het ons liefgehad en Homself vir ons gegee. As Hy in ons hart kom woon, verander ons perspektief van die lewe.
  "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? ...maar julle...wie, sê julle, is Ek?" Matt 16: 14

Maandag 09 November 2015

Die Evangelie van die Boggelrug


Image result for hunchback


In 1972 bid skrywer vir die eerste keer in sy lewe vir iemand met ‘n gebrek...  ‘n man met ‘n groot boggelrug. Dit was omtrent ‘n ondervinding om vir die eerste keer in jou lewe vir iemand te bid en dan boonop vir ‘n boggelrug.
            Hy was ‘n onverwagte besoeker wat hulp kom soek het.
            Waar sou mens die geloof vandaan haal om vir 'n boggelrug te bid? ‘n Klein opmerking van ‘n prediker het die moed verskaf... wanneer ons vir iemand bid, dan is dit in die eerste plek nie ons nie, maar Jesus self wat genees.
            By handoplegging word ons hande maar net die verlengstuk van Jesus se hande... want ons is geroep om Jesus se werke op aarde voort te sit.
            Die groot besef was, as ek vir iemand die hande oplê en bid, dan is die onus op Jesus wat die genesing betref want ekself kan niemand genees nie.
            Dit was ‘n vreemde gevoel, gewaarwording, belewenis... om jou hande op ‘n boggelrug te lê.
            Maar toe mens begin bid, verander die hele situasie. Jy bid en jy weet dat dit weet, God genees want Hy is ‘n Waarmaker van Sy woord.
            Daar is vir die arm gehawende werklose man gebid nadat hy Jesus Christus as Saligmaker aangeneem het.... wonderwerk nommer een.
            Voordat hy opgewonde gegroet en uitgestap het, boggelrug en al, is hy van geld, kos, klere en ‘n Bybel voorsien.
            Die volgende dag en weke en maande daarna het verby gegaan sonder taal of tyding van die onverwagte besoeker van anderdag.
            In die vierde maand stap nog ‘n onverwagte besoeker by my kantoor in. Die man had die mooiste glimlag, netjies aangetrek, skoon en geskeer, fier en regop.
            Ek stel myself voor en bied hom ‘n sitplek aan. Hy kyk my stil aan en vra toe: “Onthou meneer my dan nie?”
Ek vra om verskoning, want ek het hom nie geken of erken nie.
            Hy sê triomfantelik: “Kyk meneer, by boggelrug is weg, Jesus het my genees...  ek het net kom dankiesê.” Hy het intussen ook ‘n goeiewerk gekry.
            En ek kyk en soos ‘n ongelowige Thomas voel ek... dis inderdaad die verslonste man wat die boggel had. Ons het mekaar vasgegryp en die HERE geloof.
            Toe dink ek aan aan Sondag 5 September 1971, toe Pastoor  Ray Stedman van die Peninsula Bible Church in Palo Alto, Kalifornië, sy preek “The Way To Wholeness” wou toelig.
            Hy vertel: 'n Klein boggelrugseuntjie het saam met al sy maats 'n paar Bybelverse gememoriseer. By 'n aanddiens kry die kinders geleentheid om hul tekse voor te dra.
Die Boggelruggie wou soos die ander, ook op die verhogie voor die preekstoel klim, om sy tekse voor te dra. Hy struikel op die verhoog.
Een van die seuns in die gehoor sien dit en skreeu: “Hi kreupel, hoekom kry jy nie daai vrag van jou rug af nie”
Mens kon 'n speld hoor val, toe die seuntjie stop en in trane uitbars. 'n Man staan in die middel van die gehoor op en stap na die verhoog toe. Hy sit sy arms om die seun.
Hy sê: "Ek weet nie watter soort mens so iets sou sê nie, maar ék wil net sê, die dapperste persoon in hierdie saal vanaand, is hierdie seuntjie. Hy is my seun en ek is trots op hom."
Met daardie woorde buig hy af en tel die seuntjie op en dra hom na sy sitplek toe.
Pastoor Stedman sluit af met hierdie woorde: “Dit is presies wat God vir ons doen. Ten spyte van ons gekneusde boggelrug gebroke lewens, doen ons steeds ons bes, maar wanneer ons in die proses struikel en selfs val, sê die HERE Jesus: “Jy is myne, Ek is trots op jou en baie lief vir jou.”
            Die Here se Woord bevestig hierdie beskerming van die Here vir almal wat Hom wil dien. "Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?" Jes 50:9.
"Daarom kan ons met vertroue sê: 'Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen?” Hebr 13:6. Laat ons met ons gebreke en al die HERE dien en Sy werk doen.
            Sê soos Dawid: "Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied." Ps 28:7.
            Die HERE is ook gereed om alle soorte boggelrue, versperrings, siektes, kneusings, ens.,  te genees en mense vry te maak:
            “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Jes 53:5 – Sjibbolet

Vrydag 09 Oktober 2015

Die Evangelie van Jesus Christus


Image result for evangelie




Hierdie Blog word moontlik gemaak deur gelowiges wat as medewerkers (1 Kor. 3:9) graag hulle deel bydra tot die verspreiding van die Evangelie van Jesus Christus. Halleluja-lied 234 vra: Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet? Nie een dag aan Hom gewy nie, niks te offer aan Sy voet? Nee, jy hoef nie met leë hande te gaan nie.

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb. 12:12-15

Kom, raak betrokke by die verkondiging van die Evangelie en help ons om dit te doen. Word ‘n medewerker soos vervat in 1 Kor. 3:9. Ons beplan om dit ook as gedrukte Woord te versprei in die vorm van traktaatjies, pamflette en boekies.  Ons bankbesonderhede net op aanvraag beskikbaar.