Dinsdag 18 Julie 2017

Die regte Voorkeure


Dr. William L. Stidger “Bill” vertel in sy boek, There are Sermons in Stories, van die meisie, Sadie Smithson, wat eintlik arm groot geword het in Johnsons Falls, Wes Virginia. Haar pa was in beheer van 'n perdestal en syself het met naaldwerk 'n inkomste probeer maak. Hulle het net bo die armlastige vlak geleef.



Sy wou graag met die hoër klas van die dorp meng. Haar plan om dit reg te kry, was om lid te word van die Laurel Literary Society, 'n organisasie wat die sosiale glans van haar dorp weerspieël het. Na sy klaar was met hoërskool het sy aansoek gedoen vir lidmaatskap. Haar aansoek is afgekeur.
Wel, het sy gedink, miskien sal hulle meer van haar dink as sy deur Europa gereis het. Sy het geld gespaar en gedroom hoe die sagte handskoenhande sal klap, as sy haar lesing van My Toer deur Europa gelewer het.
Na jare se spaar het sy haar droom verwesenlik en saam met 'n professor en sy vrou die toer aangepak.
Juis toe breek die Wêreldoorlog uit. Sadie was met die aanvang van die oorlog in België, maar slaag daarin om 'n rit na Parys toe te kry. Die bestuurder raak egter sy koers kwyt en skielik ry hulle oor 'n slagveld.
Sadie kyk af op 'n gewonde soldaat wat reg langs hulle voertuig lê. "Water!" skreeu hy. "In hemelsnaam, water!"
Sadie spring uit die bussie uit en hardloop met 'n beker na 'n nabygeleë fontein en bring vir hom water. Toe roep nog een vir water. Weer hardloop sy fontein toe.
Die bussie vertrek sonder haar. Heel nag hardloop sy heen en weer tussen die fontein en gewonde soldate. Sy skeur haar rok repe en probeer hulle wonde toebind. Sy skryf sterwende manne se boodskappe aan hulle dierbares neer. By elke man bid sy.
Dit is 'n nag van verskrikking en donkerte, en gekerm van gewonde soldate. 'n Ambulans met 'n dokter en verpleërs kom aan. Hulle is verstom om die arm jongvrou van West Virginia tussen die bloed en verwoesting van die oorlog te vind.
In William Stidger se woorde roep die dokter uit: "Who are you? What in thunder are you doing here?"
"I'm Sadie Smithson," she said, "and I've been holding hell back all night."
"Well miss Sadie Smithson," said the young doctor, "I'm glad you held some of it back, for everybody else in the world was letting it loose last night."
Terug huis toe, op die skip, vertel sy haar storie vir 'n medepassasier. "Ek het self nie kinders gehad nie, maar daardie nag was al daardie manne my kinders. Daardie nag kon ek my lewe vir hulle gee," voeg sy by.
Die passasier antwoord: "Wel, ek dink die Laurel Literary Society sal nou bly wees om jou hulle lid te maak."
Sadie antwoord, in Stidger se woorde: "Nee, ek was van aangesig tot aangesig met oorlog, dood, die hel en God, klein dingetjies soos die Laurel Literary Society maak nie meer vir my saak nie.”
"Wat maak dan wel saak,” vra die vriend.”
"Niks, het Sadie geantwoord. "Niks behalwe God en liefde en om te doen aan ander na wie Hy my stuur nie.”
Iets van die HERE Jesus se gesindheid het daardie nag in Sadie se hart wakker geword, sodat klein wêreldse weeldes en eer vir haar niksseggende waarde gekry het.
Jesus het in die donker van die nag na 'n sterwende mensdom toe gekom. Hy het ons liefgehad en Homself vir ons gegee. As Hy in ons hart kom woon, verander ons perspektief van die lewe.
  "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? ...maar julle...wie, sê julle, is Ek?" Matt 16: 14