Sondag 02 Julie 2017

Eendragtige Gebed ‘n Dringende Noodsaak


Image result for Groep mense wat saam bid

Daar is geen groepie te gering of ‘n plekkie te klein vir Gelowiges om die HERE te dien ver bo hulle eie vermoëns nie.
“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” Matt. 18:20.
Dit is nie die grootte of sterkte van ons vermoëns wat tel nie, maar God se onbeperkte krag en genade wat ons as indiwidue, ons gesinne, ons gemeentes en ons werkplek kan transformeer tot eer van sy Koninkryk.
            Die Kerk van Christus was in ‘n stadium vol van die geloof, vol van die Heilige Gees en vol van God se krag. Daardie klein eendragtige gemeentetjie het ‘n ongeredde wêreld omgekeer sodat dit vandag die grootste beweging in die wêreld is.
            Daardie gemeentetjie se handboek, die Bybel, die Lewende Woord van God, is vandag steeds die grootste verkoper van alle boeke in die wêreld.
            Die klein gemeentetjie van destyds het in Jerusalem ontstaan. Dit was in dieselfde dorpie waar Jesus Christus net twee maande tevore gekruisig was. Volgens Hand. 1:15 was hulle net 120 mense.
            Daar was egter ‘n uitstaande kenmerk onder hulle aanwesig: Hulle was Eendragtig!
            Hulle Eendragtigheid, asook hulle geloof en liefde het daartoe gelei dat die getal van 120 op een dag toegeneem het tot 3 120!
            Hulle het almal van Galilea af gekom. Hand. 1:11; 2:7. Daar was niks geestelik belangriks van hierdie mense verwag nie. Hulle was gewone mense wat Gelowiges geword het.
            ‘n Ander uitstaande kenmerk was dat die diens in die vorm van gebede was. Al die lidmate was Eendragtig in die gebed en hulle het almal die krag van God in en om hulle beleef.
            Die waarheid en krag van Eendragtigheid is die grootste en kragtigste waarheid op hierdie aarde.
            Inderdaad was daardie gebedsdiens ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.  Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse God is!
            Dis die soort gebed en die soort reaksie wat Suid-Afrika nodig het.
            Jesus Christus het belowe: “Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die Hemele is.
            “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde. Matt. 18:19-20.
            Hoeveel mense in jou dorp of woonbuurt bid daagliks as gesin Eendragtig saam?
Die belangrikste byeenkoms van Christene, die bidure, word net deur enkeles bygewoon.
            Predikante moet dit straks oorweeg om die bidure ‘n tyd lank af te skaf en die oggend- en aanddienste op Sondae in gebedsdienste te omskep, waar daar nie gepreek word nie, net gebid word, waar daar Eendragtig tot God geroep word.
            Doen dit.  Julle word uitgedaag, doen dit!
            As ons die egskeidings wil stop, die gesinsprobleme wil oplos, die gemeente wil laat groei, die sinnelose moorde en verkragtings, asook die geweld wil stop, die broodnodige Herlewing wil aanvoer, laat ons dan in Eendrag begin saam bid sodat God se onmeetbare vermenigvuldende krag in ons gemeentes en gesinslewens in werking kan kom.
“Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!” Jes. 1:21.
            Ons kan die situasie omkeer deur by onsself te begin. As Sondag na Sondag se prediking niks oplewer nie, begin dan bid en nogmaals bid.
            Begin deur te verootmoedig:

·        Ps 69:5   o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.
·        Ps 90:8  U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.
·        Ps 32:5  My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.
·        Ps 106:6  Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel.
·        Ps 25:7  Get. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!
·        Ps 25:18  Resj. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes.
·        Ps 38:21  Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
·        Ps 38:22   Maak tog gou om my te help, Here, my heil!
·        Ps 19:13  Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding.
·        Ps 34:13   Noen. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.
·        Ps 34:14   Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.
·        Ps 38:18   Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
·        Ps 41:4   Ék het gesê: o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.
·        Ps 51:2   Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
·        Ps 51:3   Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
·        Ps 51:4   Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
·        Ps 51:9   Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
·        Ps 79:9  Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.
·        1 Joh. 1:9-10  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
·        Ps 85:2   U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
·        Ps 91:10  Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
·        Ps 103:10  Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
·        Ps 119:11  Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
·        Open. 5:13b  : Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
“As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.
“Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.” Jes. 1:18-20.
“Onthou julle van elke vorm van kwaad.
“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die Wederkoms van onse HERE Jesus Christus!
“Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” 1 Thes 22-24