Woensdag 28 Junie 2017

Die Belofte kom almal toe...


·  Image result for beautiful nature  

Suid-Afrika wag op die vervulling van Joël se Profesie

Polities word hoog opgegee oor die Afrika renaissance, maar op watter fondament sal daar gebou word?
“Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
“En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels —
“elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
“As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
“as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.” 1 Kor. 3:11-15.
         Reg deur Afrika, ook in Suid-Afrika, verrys gebedswake in toenemende maat wat om herlewing bid. Hulle doen dit op grond van Joël se profesie:
          “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
“En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.
“En Ek sal wonders gee bo in die Hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp.
“Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.
“En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Hand. 2:16-21.
          Die verspreiding van die Evangelie in Afrika neem daagliks toe soos wat sendelinge van oorsese lande af aankom en voertuie vanaf verskeie Suid-Afrikaanse kerke gereeld sendingreise na Afrika onderneem en vestig.
          In Suid-afrika word selfs spesiale opleidingskursusse aangebied voordat Christene Afrika aandurf.
“En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
“Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
“En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.” (Hand. 2:38-40).
          Hierby ook die vermaning en uitnodiging: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom.” Hand. 3:19.
          Oral word in toenemende maat gebid vir herlewing en gewag op die vervulling van die belofte — ‘n belofte wat ons toekom, want ons is dit belowe!
          Meer as 32 miljoen Suid-Afrikaners het op hulle sensusvorms verklaar dat hulle Christene is, maar hulle het nog nie die belofte ontvang waarop hulle geregtig is nie. Nou soek, bid en wag al hoe meer angstiglik op die vervulling van die belofte.
          Dr J. Edwin Orr, ‘n teoloog,  sê ‘n Evangeliese ontwaking is ‘n beweging van die Heilige Gees wat ‘n Nuwe Testamentiese herlewing in die Christendom, en ook onder verwante Christen gemeenskappe, tot gevolg het.
          So ‘n ontwaking mag op besondere wyse ‘n idiwidu verander, maar dit kan ook ‘n groter groep gelowiges beinvloed. Dit kan ook verandering bring in gemeentes, in kerke, onder volke, ja, selfs deur ‘n hele kontinent.
          So ‘n ontwaking kan wêreldwyd versprei. Dit lei daartoe dat al hoe meer mense by Evangelisasie, lering en sosiale aksie, betrokke raak.            
          Dr. J. I. Packer, nog ‘n bekende teoloog, sê hy beskou herlewing as die werk van God deur die Heilige Gees en sy Woord.  Herlewing beteken diegene wat geestelik dood is ontwaak tot ‘n lewende geloof in Christus en word vernuwe.
          “In ‘n herlewing maak God alle ou dinge nuut, gee Hy nuwe krag en ‘n nuwe geestelike insig aan diegene wat so lank blind, hard en koud was. Herlewing dring Christene om ‘n impak op die lewe rondom hulle te maak.”
          Prof. C. Ortlund, Ou Testamentikus:  “Wanneer God die hemele skeur en Sy Gees op die mensdom neerdaal, dan bereik Sy Goddelike krag iets wat menslik onmoontlik is. Dan is God se kinders honger vir die Woord en lering en ontvang hulle dit in teerheid van die siel.
          “Die greep van die sonde word verbreek. Versoening tussen gelowiges word gesoek en vind plaas.  Geestelike dinge in plaas van materiële dinge gryp die mens se hart en verstand aan. ‘n Gemeente vol van vrees word getransformeer in ‘n leërmag vol vertroue.
          “Herlewing bring mee dat Christene meer bruikbaar vir God is teenoor hulle belangstelling in loopbane. Gemeenskap met God geniet voorrang.
          “Kerke en Christelike organisasies verander van uitkyk en insig en wysig hulle beleid en prosedures. ‘n Herlewing betrek groot getalle mense. ‘n  Golf van Goddelike genade spoel oor almal.”
          Volgens die Bybel vind herlewings by herhaling plaas. Kerkhistorikus Dr. Richard Lovelace sê God se wil neig tot herlewing, die herstel van die afvalliges.
          Kenneth Scott Latourette van Yale, in sy sewende volume oor die geskiedenis van die Christendom beskryf hoe dat daar “eb” en “vloed” getye die afgelope 2 000 jaar voorgekom het.
          Die Bybel bevat verhale van herlewings, herlewingsgebede,  herlewingsvoorspellings en herlewingsbeginsels. Duisende strofes handel oor die beloftes van God vir Herlewing, die weë en manifestasies van God tydens herlewings, die impak van God op Sy volk tydens en na herlewings, ook oor die korporatiewe dimensies en uiteindelik die hoofrol wat Christus regdeur herlewings vertolk.
          Alhoewel hierdie temas in beide die Ou- en Nuwe Tstamente voorkom is dit duidelik dat herlewings ‘n groter impak in die Nuwe Testament het, juis van wee die taak wat Christus op aarde vervul het.
          Die laaste twee hoofstukke van Openbaring beskryf wat sommige noem “die finale herlewing”. Intussen is alle voorafgaande herlewings ’n substantiewe demonstrering van die Koninkryk van Christus in al sy glorie!
          Hierdie voorafgaande herlewings is byna soos ‘n kleedrepetisie, ‘n gereedmaak vir die hernuwing van alle dinge wat Hemel en Aarde sal transformeer met die Wederkoms van Christus!
          Deur al die herlewings heen het sekere terme en metafore in gebruik gekom, soos: Vernuwing, Reformasie, Ontwaking, Besoekings, Ontboeseming, Uitstorting van die Heilige Gees, Doping met die Heilige Gees, Vervulling met die Heilige Gees, Opwekking, Restourasie, Tye van Verkwikking, Jubileums en
Manifestasies van Christus
          Die metafore sluit onder meer die volgende in: Wakker word, Laatreëns, Die Vuur val, Woestyne blom van rose, Riviere van herlewing, Winde van herlewing, Omverwerping van die status quo, Geestelike revolusie, Seisoene van lente en Oestyd.
          Dit maak nie saak watter term of metafoor mens gebruik nie, feit is dat herlewings tye is wanneer God genadiglik sy oordele vanaf ons wegneem en Sy volk restoureer. Sy oordele is geregverdig vanweë ons louheid en ongehoorsaamheid, maar tydens herlewings bring God genesing en vertroosting.
          Latourette se metafoor beskryf herlewings as golwe van die see wat op die strande breek soos wat die gety inkom. Nogtans kan ons God nie in ‘n soort van herlewingskassie plaas nie. Die Heilige Gees word immers met die wind vergelyk wat waai waar hy wil. Maar dit is so dat herlewings in siklusse voorkom.
          Mense beleef van tyd tot tyd persoonlike herlewings, maar dis die massa herlewings wat die oes inbring en die volk vernuwe. Dit is ook moontlik en gebeur wel, dat sommige Christene ‘n konstante herlewing beleef, en dit ten spyte daarvan dat die Christendom in sy geheel in reses is.
          Alle Christene behoort ‘n permanente lewe van herlewing en oorwinning te beleef. Jy sal beslis probleme hê wanneer jy van hierdie aarde af weggeneem word terwyl jy in ‘n staat van “reses” is.
          Wat massa herlewings betref is daar vyf  bekende redes voor:
·                    Geestelike vakuums soos wat ‘n nuwe geslag opkom wat God nie in diepte ken nie
·                    Vorige seëninge wat oor die tyd ‘n vals sin van selfbevrediging geskep het.
·                    Teologiese verwaarlosing wat tot ongebalanseerdheid, wanpersepsies en wanpraktyke begin lei het.
·                    Dat die Christendom te lank stagnant bly en God nodig het om herlewing te stuur sodat die Koninkryk kan uitbrei.
·                    God se soewereiniteit – soms is daar geen ander rede nie as dat God herlewing stuur tot glorie van sy Seun en omdat hy God is.

Herlewings het al uitgebreek omdat ‘n deel van die Christendom met reikhalsende verlange daarna uitsien.  Twee mense kan vir herlewing begin bid. Tans is daar ‘n ontelbare menigte wat daarvoor bid en steeds neem dit toe.
Christene kan by sulke gebedswake inskakel, of begin julle eie gebedswake in julle huise. As jy begin moet aanhou want alleen hy wat aanhou klop sal voor oopgemaak word. Dis ook ‘n belofte van God.
‘n Kernvraag wat altoos opduik:  Is die Belofte werklik vir alles mense?
Beslis ja!
          “En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd vier en veertig duisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel
“uit die stam van Juda twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalf duisend verseëldes;
“uit die stam van Aser twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalf duisend verseëldes;
“uit die stam van Símeon twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Issaskar twaalf duisend verseëldes;
“uit die stam van Sébulon twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalf duisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalf duisend verseëldes.
“Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;
“en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam! Openb. 7:4-10.
Die Huis van Israel se 12 stamme sal elk voor die Troon verteenwoordig word deur 12 000 verseëldes. Dit is die 144 000.
Maar daar staan ook voor die Troon, ‘n “ontelbare menigte” uit elke nasie, stam, volk en taal. Die Evangelie is dus vir alle mense.