Dinsdag 06 Junie 2017

Ek en jy moet die getal volmaak


Image result for hoe lyk 'n slangbyt

Skrywer droom verskillende slangsoorte val ‘n groep mense aan. Sodra iemand gepik word verander die pikplek onmiddellik in ‘n lelike oop sweer vanweë die diepe boosheid.
            My werk is om die teengif voor te berei sodat dokters en verpleegsusters die slagoffers met die onderskeie entstowwe teen die onderskeie slangbyte kan inspuit.          
            Later moet ander ook help inspuit. Die toneel lyk soos ‘n slagveld. Daar is baie pyn, ‘n geween en ‘n gekners van tande. Sommige mense is reeds bewusteloos.
            Ons is op ‘n dorp wat ek glad nie ken nie. Ons werk onverpoosd maar die taak word al hoe groter.
            Ek besef ons gaan mense begin verloor. Hulp is dringend nodig. Ek vra of daar ‘n predikant op die dorp is. Daar is een. Ek vra hulle moet die predikant onmiddellik na ons toe bring.
            Die predikant laat weet terug ek moet ‘n boodskap stuur waarin ek verduidelik hoekom ek hom ontbied.
            Ek word kwaad en sê: “Sê vir die predikant hy moet onmiddellik na die toneel toe kom, Mense gaan sterf. Tyd is teen ons. Hier is nie nou tyd vir ego’s en ‘n eie-ek nie”
            Die predikant daag op maar is onwillig om te help toe hy gevra word om alle ersntige bidders op die dorp te kontak en te versoek hulle moet dringend en aanhouidend begin bid dat die HERE en sy Engele moet ingryp om die slange te keer.
            Die predikant wil nog teenstribbel oor wie ek dink ek is ek dat ek vir hom opdragte kan gee. Ek verhef weer my stem en verduidelik in kort dat die bid en werke saamgaan, die een kan nie sonder die ander nie. Die predikant loop. Ons het nooit weer van hom of enige bidders gehoor nie.
            Die toneel word ‘n warboel en ek word wakker met ernstige kommer oor die pad vorentoe, behalwe om aan te hou red wat te redde is, en aan te hou om ander te bemoedig om te kom help.
            Tyd is teen ons en die getal moet volgemaak word.
            Die boodskap uit die droom is dat die oes groot is en die arbeiders min. “Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die HEREere van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.” Matt 9:37-38
            Wie moet hierdie bidwerk doen en wie is hierdie arbeiders? Dis ek en jy. "… verkondig die woord … tydig en ontydig …" 2 Tim 1-8
            Een van die wêreld se voorste predikers, John Wesley, het een aand laat, te perd teruggekeer van 'n diens af. Hy moes oor die Honslow Heath bergpas. Die bergpas was bekend vir sy struikrowers.
Dit was 'n donker nag, maar Wesley was nie bang nie. Hy het met 'n hart vol blydskap oor die diens wat hy met vrug kon hou, een van sy geliefkoosde liedere gesit en sing, terwyl die perd ritmies voort gallop.
"Halt!" kom dit skielik uit die donker en sy perd se teuels word stewig vasgegryp. "Jou geld of jou lewe!"
Wesley het die voorval as heeltemal grappig beskou en sy sakke, wat net 'n paar muntstukkies bevat het, omgedop. Daarna het hy die rower toegelaat om sy saalsakke te deursoek. Daarin was net geestelike boeke.
Die rower het teleurgesteld weggedraai. Wesley roep hom terug: "Wag, ek het nog iets vir jou." Die rower kom behoedsaam nader.
"My vriend," sê Wesley ernstig, terwyl hy na hom toe oorleuen. "Daar mag 'n dag aanbreek dat jy berou sal hê oor die soort lewe wat jy nou lei. As dit gebeur, onthou dan: 'Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde.'"
            Jare later was mnr. Wesley al 'n gryse ou prediker, toe 'n welgeklede man hom een aand na 'n diens voorkeer. Dit was die struikrower van Honslow Heath. Nou 'n vooraanstaande sakeman in die stad, en, nog beter, 'n kind van God.
Die woord wat Wesley daardie aand so ernstig en met soveel liefde tot hom gerig het, het hom bygebly en tot sy redding gelei.
            Ons moet nooit vrees nie. God bewaar ons as ons, ons op Sy weg bevind. En ons moet gereed wees om onder enige omstandigheid die Evangelie aan ander oor te dra - deur woorde of deur 'n blaadjie. Die Evangelie word deur die Heilige Gees, 'n onweerstaanbare, innerlike krag wat soos smeulende kole voortbrand in 'n hart, selfs lank na dit gehoor is.
            Die saad wat jy saai is vrugbaar en sal vir seker opkom.
            Dit is deesdase polities korrek om te aanvaar dat alle godsdienste na die Hemel lei. Jesus Christus vernietig daardie denke summier: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.” Joh 10:9
            Die oes is groot, die tyd is min, bring die Evangelie met die gesag van Jesus Christus… Tydig en Ontydig.