Dinsdag 13 Junie 2017

Weier om moed op te gee...


Image result for ps 66:20

Dit was ‘n stormnag en niemand was seker wie vir Bybelstudie sou opdaag nie. Uiteindelik was almal daar... ‘n ‘n rukkie later... nog klop aan die deur.

            Keiser Joseph II het in 1781 onherkenbaar as 'n gewone burger deur sy ryk gereis om te sien wat onder sy mense aangaan, vertel William Lang in Walter Baxendale se Dictionary of Illustrations.
In die dorpie Lakenstein in Oostenryk,  gaan hy as Graaf Falkenstein in 'n herberg tuis. Die aand hoor hy die mense praat van geheimsinnige samekomste in 'n huis net buite die dorp. Die opwinding bou op toe iemand nuus bring van geheimsinnige figure wat een-een met donker lanterns en kopdoeke oor hulle gesigte getrek juis nou besig is om daar aan te kom.

Hulle besluit dat 'n paar van hulle ondersoek moet gaan instel. Die keiser, aan hulle bekend as Graaf Falkenstein, wil graag self gaan kyk wat aangaan. Hy word as leier aangewys.

Terwyl die ander wagstaan klop hy aan die huis se deur. Die inwoner, Senitz, maak die deur oop. "Wat soek jy hierdie tyd van die aand by 'n eerlike man se huis?" vra hy vir sy onbekende besoeker.
"As jy regtig 'n eerlike man is," antwoord die keiser, "het jy niks te vrees nie." Met dié woorde stap die keiser ook sommer in. In die voorkamer sit 'n groepie mense om 'n tafel. Op die tafel lê 'n boek oop. Die keiser neem op 'n bankie plaas. "Gaan voort met wat julle besig is om te doen," sê hy vir Senitz.

Senitz gaan sit op sy plek by die oop boek en almal om die tafel draai na hom toe, om met aandag te luister wat hy lees.

"Ek lees verder," sê Senitz, en gaan dan voort" "God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het nie Sy seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te oordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie." Joh 3:16-18

Terwyl Senitz lees, verduidelik hy sommige strofes en van die ander, wat om die tafel sit, spreek ook gedagtes oor die Skrif uit. Na 'n kort rukkie onderbreek die keiser Senitz.

Met trane in sy oë sê hy: "Om te dink dat ek op hierdie vreemde manier vir die eerste keer deel kon word van mense wat weet hoe om die Bybel te lees en te verstaan!"

Toe hy van hulle afskeid neem, vra hy Senitz dringend om op sy eerste besoek aan Weenen by die paleis vir graaf Falkenstein te vra. Hy beloof om in te tree vir hierdie verdrukte mense wat so in die geheim die HERE moet dien.

Senitz het gou daarna Weenen toe gegaan. Daar ontdek hy graaf Falkenstein is niemand anders as keiser Joseph II self nie. Die keiser het hom met groot hartlikheid ontvang. Hy oorhandig aan  Senitz 'n perkamentrol waarop hy die Dekreet van Verdraagsaamheid geskryf het.

https://en.wikipedia.org/wiki/Toleration

Toe Senitz dit ooprol om beter daarna te kyk, kry hy 'n som geld met 'n briefie by: "Vir die oprigting van 'n kerk".

            Op die gewel bokant die ingang van Die Protestantse Kerk in Lakenstein kan steeds gelees word: "Die Gawe van die Keiser."

Met hul volhardende getrouheid aan die Evangelie van die HERE Jesus Christus het Senitz en sy medegelowiges, godsdienstige en burgerlike vryheid gewin vir die protestante, wat vir een en 'n half eeu onder verdrukking geleef en aanbid het.

            Getrouheid aan die HERE, al kos dit 'n prys, het groot beloning. Dit is Heb 11 se boodskap: volhard om God te vertrou en te gehoorsaam. Abraham, Jakob, Josef, Moses, almal het bedreigde vooruitsigte gehad.

"Die smaad ter wille van Christus het hy (Moses) 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte omdat hy na die beloning uitgesien het. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien." Heb 11:26,27

      Gee nooit moed op nie en agterna sal jy ook kan sê: "Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys en Sy trou nie van my weerhou het nie" ....Ps 66:20