Woensdag 21 Junie 2017

‘n Skuilnaam kan nie red nie


In die maandblad van die Pacific Garden Mission vertel Carl Henry van die jongman, William James Taylor, alias Bill Hennessy, alias Ed Lynch, alias Tom O'Brien.
Hierdie jongman, met die baie skuilname, was 'n permanente vlugteling vir die gereg.
As 3-jarige seuntjie het hy in die agterplaas van sy pa se kroeg sy vingertjies in gebreekte glase en bottels gesteek en 'n smaak vir drank ontwikkel. Op 12-jarige ouderdom was hy 'n besope, drankverslaafde straatkind.
Na twee jaar in 'n verbeteringskool, het hy doelloos rondgeslenter, totdat 'n tweede arrestasie hom in 'n nywerheidinstituut laat beland het.
Die opheffingswerk daar, het hom nie verbeter nie. Dobbel, dwelms en drank was sy lewenspatroon. Hy was gedurig vlugtend vir die gereg en moes daarom altyd onder 'n skuilnaam rondbeweeg.
Die aand toe hy in Chicago aanland, het hy dadelik na die Pacific Garden Mission toe gevlug, want 'n polisieman in die straat het hom dopgehou en gevolg.
Die volgende aand het hy teruggekeer Pacific Garden Mission toe. Hy het geluister na getuienisse van mense soos hy, oor wat God in hulle lewens vermag het. Hy het by een van die werkers van die sending hulp gevra en hartroerend, Jesus aangeneem met: "HERE, wees my sondaar genadig. Jesus, red my ook asseblief."
            Agterna het hy getuig: "Ek kan nie alles vertel wat Jesus Christus vir my gedoen het nie. Maar een ding kan ek doen, en dit is om ander van Hom te vertel.
“Daar is baie dinge oor God wat ek nie weet nie en nie verstaan nie, maar één ding kan ek sê: 'God kies en keur nie.’  Elkeen wat, hoe sleg ook al, God se genade vra en by Jesus redding soek, vind 'n lewende Redder.
Genl William Booth was ‘n predikant. Hy het drommels op straat so jammer gekry, dat hy sy amp bedank het en met die Evangelie tussen die verlorenes op straat beweeg het. Hy het elke boemelaar, werklose, dwelmverslaafde, prostituut, dronkaard, hulpeloses, en hopeloses, na die HERE toe gelei.
Ander het hulle by hom kom aansluit en gehelp. Die straatwerk het so gegroei dat hy die Heilsleer (Salvation Army) gestig het. Kos en klere is ook uitgedeel en werk is aangebied.  Kraaminrigtings vir ongehudes, tehuise, ander soorte inrigtings is gebou om die haweloses woning en kos te bied.
Tussen Kaapstad en die Paarl is selfs die plaas Muldersvlei waar sulke verdwaaldes gehelp word, ook elders in Suid-Afrika.
By Booth se begrafnis in Londen in 1912 het 250 000 van sy volgelinge te voet deur die strate agter die begrafnisstoet aan beweeg om hulde aan hom te bring.
Jesus kies en keur nie, ons moet net uitgaan en die verlorenes gaan haal.
            "Saggeus… het Jesus met blydskap ontvang. Almal... het beswaar gemaak en gesê: 'Hy gaan by 'n sondige man tuis.'" Luk 19:7


Voorwaarts Christenstryders. Booth se begrafnisstoet beweeg by die Londense Stadsaal verby.
            Ons is nie almal ‘n William Booth nie, maar ons elkeen, sonder uitsondering, se opdrag is om die Koninkryk te bou, die siele in te bring, die Evangelie uit te dra.
            Hoeveel siele het jy al ingebring of gehelp in bring? Jy moet ten minste iets doen, want jy mag nie niks doen nie. As jy nie iets doen nie, help dan diegene wat besig is om die gerwe in te bring. Laat die HERE, wanneer Hy kom, jou met jou hand aan die ploeg vind.


https://www.youtube.com/watch?v=u67Lb1RyXTU

Attachments area
Preview YouTube video Bringing In The Sheaves

Bringing In The Sheaves