Sondag 18 Junie 2017

Die Nuwe Jerusalem ‘Ek was daar’– het sy gesê…


Image result for old lady speaking on a phone


My telefoon lui.  Die oumens-stemmetjie vra: “Is dit die munisipaliteit meneer?”
Ek:  Nee, hierdie is ‘n Sending.
Sy lag vir haarself wanneer sy afgemeet sê: “Ai meneer, ek is tagtig jaar oud, ek probeer net my kragrekening se deposito by die munisipaliteit terugkry.  Ek sal maar weer in die telefoongids kyk.  Ek is jammer ek het meneer gepla.”
Ek:  “Glad nie, dis vir my aangenaam om so ‘n rukkie in die skaduwee van so ‘n ou boom te sit.”
Sy:  “Ek moes my huis verkoop, ek kon nie langer vir myself sorg nie.  Ek woon nou in die ouetehuis.  Die kragrekening van my huis is deurmekaar, maar dit sal die nuwe eienares wel regkry.  Maar ek het gehoor ek kan my deposito terugkry. Dit was maar min daardie jare, maar ek sal bly wees as ek dit kan terugkry.”
Ek:  “Jy is tagtig jaar oud, maar jou kop het jou nog nie gelos nie.”
Sy:  “O meneer, dank die Heiland daarvoor.  Ek ly al jare aan diabetes en osteoporose.  Ek kan nie meer sonder hulp loop nie, maar mens klou tog so aan die lewe…”
Ek:  “Nee glad nie, ons moenie aan hierdie lewe klou nie, ons is op pad na die Nuwe Jerusalem.”
Sy:  “Ek was daar meneer!”
Toe  los my eie kop my amper.  Wat sou sy nou bedoel het?  Het sy dalk bedoel sy was iewers in haar leeftyd in Israel?  Het sy my dalk verkeerd verstaan?
Terwyl ek wonder, gaan sy voort: “Dit is pragtig daar meneer.  Ek het nie die woorde om vir jou te kan verduidelik hoe pragtig dit is nie.
“Daar is ‘n wonderlike lig, onbeskryflik mooi. ‘n Engel het my nader gewink.  Daar is baie kindertjies wat sing. Hulle sing tog te mooi.
“Die musiek is soos die van Beethoven, so sag en strelend.  Daar is ‘n groot vrede en liefde, ag, verskoon tog meneer, ek het tog nie die woorde om te vertel hoe pragtig en wonderlik dit alles is nie.”
Ek:  “Wanneer was jy daar?”
Sy:  “Ek het in ‘n koma ingegaan en toe het ek oorgegaan. Die dokters het met masjiene om my lewe geveg en my teruggebring. Ek wou nie terugkom nie.  Ek was teleurgesteld toe ek besef ek is weer in ‘n bed. Ek sou liewer daar wou gebly het...”
            Inderdaad, dit was aangenaam om so ‘n rukkie in die skaduwee van hierdie ou boom te kon sit… Wat ‘n besielende lafenis na ‘n moeilike dag.