Saterdag 24 Junie 2017

“Ja, jy gaan sterf,” het die dokter gesê


Image result for frances r. havergal



"Elkeen wat na My toe kom en na My woorde luister en doen wat Ek sê...is soos 'n man wat... die fondament op die rotsbodem gelê het..." Luk 6:47-48



            Frances R. Havergal is bekend vir die geestelike liedere wat sy geskryf het. In 1878 het sy bv. die vertaalde lied geskryf: 'Neem my lewe en laat dit Heer, U gewy wees meer en meer. Rig my wil, gevoel en daad altyd na U wyse raad.' In 1879 het sy, ongesteldhede ten spyt, verskillende sangtoere onderneem en nog liedere geskryf.
Sy het reg deur Engeland skole besoek en aan elke kind, wat Jesaja 53 uit die kop geleer het, 'n Bybel gegee. Sy het betrokke geraak by 'n veldtog teen drankmisbruik. As deel van die veldtog, het sy dit haar doel gemaak om met elke jongmens in haar dorp, persoonlik oor hulle verhouding met Christus en die gevaar van drankgebruik te praat.
Op 21 Mei het swaar wolke oor die Engelse kanaal gedryf en dit het koud geword. Onderweg na 'n samekoms met 'n aantal seuns, het sy nat geword en halfverkluim by die huis aangekom. Sy het siek geword. Toe sy koorsig word is die dokter ontbied. Toe sy sieker word, het almal besef, Frances Havergal is op 42-jarige ouderdom sterwende.
Op Pinkstersondag het haar dokter haar met die hand gegroet en gesê: "Totsiens, ek sal jou nie weer sien nie." "Dink jy ek gaan sterf?" vra sy.
Hy antwoord: "Ja."
"Vandag, nog?"
"Heelwaarskynlik," antwoord hy gedemp.
"Wonderlik!" antwoord sy. "Dit klink te goed om waar te wees."
Toe hy weg is, het sy na haar familie gekyk en gesê: "Weet julle hoe wonderlik dit is, om so naby die poort van die Hemel te wees?" Sy het haar broer gevra om vir haar 'n paar liedere te sing. Na 'n rukkie fluister sy met toe oë: "Kom, HERE Jesus, kom haal my". Haar toestand het vinnig agteruit gegaan en sy het met toe oë gelê.
Robert J. Morgan beskryf die volgende oomblikke soos volg:
“Sy het ‘n paar oomblikke stil geraak, so asof sy slaap, toe word sy wakker en sê: ‘Ek is oorstelpt in verwondering.’”
            “Toe het sy saggies maar duidelik begin sing:
‘Jesus, ek sal U vertrou, vertrou met my siel;
Skuldig, verlore en hulpeloos, het U my heelgemaak;
Daar is niemand in die Hemel of op die Aarde soos U;
U het gesterf vir sondaars en daarom ook vir my.
Sy het opgekyk na die Hemel so asof sy Jesus sien. Daar was ‘n glorieryke glans op haar gesig. Ons het sowat 10min aanskou hoe sy visueel met haar Koning kontak het. Dit het geklink of sy weer wou sing, en toe is sy weg.
"Geseënd is dié wat hulle klere was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die Stad kan ingaan." Openb 22:14