Saterdag 03 Junie 2017

Jy word uitgedaag...


Image result for Jesus is calling you


SEDERT die skepping van die mens het die Almagtige God deur die eeue bewys gelewer oor watter waarde Hy heg aan ‘n enkele persoon, EEN MAN, EEN VROU op hierdie aarde.
            Aan EEN man, Adam, word die mag gegee om al die diere van die aarde te noem soos hy wil. Die invloed van die val van dieselfde Adam word vandag nog oor die ganse aarde deur die ganse mensdom gevoel.
            EEN man, Noag, word verkies om die ark te bou, om sodoende ‘n spruit vir die menslike geslag aan die lewe te hou.
            EEN man, Abraham, word geroep uit Ur van die Galdeërs om die vader  van  alle gelowiges te word en die vader van die geslag waaruit Jesus Christus gebore sou word. So is Abraham ons voorvader en al sy seëninge behoort vandag ook aan ons.
            EEN man, die hakkelende Moses, word geroep om die hele volk Israel, uit Egipte uit te lei en vir veertig jaar deur die woestyn te neem. Hy tree op as skakel tussen God en die volk.
            “En ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie, maar Ek het niemand gevind nie.” – Eseg. 22-30
            Toe God die volk wou verdelg, tree Moses  –  EEN MAN  –  op as voorbidder dat die  volk gespaar sou word.
            Na hom volg weer  EEN  man, Josua, en dan elkeen van die Rigters op hul beurt, die profete  Nehemia, Daniël  en andere  wat  as  EENLINGE opgetree het tussen God en die volk, en wat het hulle nie alles uitgerig nie!
            Die Nuwe Testament begin met die optrede van Johannes die doper, as voorloper van Christus.
            Toe was daar Jesus Christus, die grootste leraar, prediker, profeet en hervormer wat die wêreld ooit geken het, en dit bo en behalwe Sy liefdevolle Middelaars- en Versoeningswerk.
            Na Jesus volg die apostels waaronder Petrus a toe weer Paulus  –  EEN man na die ander.
            En verder deur die geskiedenis van die Kerk het God van tyd tot tyd die EEN man gebruik om Sy doel te bereik. Daar was manne soos Luther, Calvyn,  Wesley, Murray, Moody, Hudson Taylor, Billy Graham, George Fuller,   Torrey,  Finney, John Lake  en andere wat as EENLINGE opgetree het en uitgeblink het in die werk van God en wonderlike getuienisse vir Hom op aarde geskep het. Nou moet ons voortbou!
            Wat van die behoefte in hierdie tyd waarin ons, ons bevind? Ons het nou, soos seker nog nooit tevore nie, die hulp en beskerming van die Allerhoogste aan alle kante nodig. En Hy het ons nodig.
            Wat van jou, jy wat nou hier lees? Al gewonder waarom jy juis hierdie boodskap nou moet lees?  Is dit blote toeval dat jy hierdie artikel lees? God soek ‘n man! (toevallig – toe val die lig)
            En Hy soek ook ‘n VROU. Vroue het ook groot rolle in die bou van die Christelike Kerk vertolk. Gemeentes is in hulle huise gestig. Meer as 180 vroue het leidende rolle in die Bybel vertolk, meer as 30 van hulle in die Nuwe Testament.
            Van hulle was en is vroue soos Marilyn Hicks, Paula White, Patricia King, Kathryn Kuhlman, Cathrine Booth, Joyce Meyer, Jennifer LeClair, Rachel Oakes en talle ander
            Dit is nodig dat manne en vroue VANDAG na die stem van die HERE luister en sonder verdere versuim na vore tree en aanmeld vir diens –  heldediens – waardeur hierdie volk gered en vrygekoop sal word!
            Christene is besig om in toenemende maat by die geledere van verskeie  gebedsforums en verootmoedigingsbyeenkomste in te skakel. Hulle reageer op die stem van EEN, die Heilige Gees.
            Hulle het Sy stem gehoor. Hulle het reageer. Hulle is nou voorbidders vir die volk. Hulle tree in vir die volk, vir ons kinders, vir ons toekoms, vir die bou van die Koninkryk van God en die uitbreiding daarvan.
            Na 22 April 2017, soek God manne en vroue wat ‘n bres vir Hom kan slaan, ‘n bres vir die Volk kan slaan. Manne en vroue met durf en daad, wat soos Koning Dawid sal sê: “Met my God spring ek oor ‘n muur.”
            Sal God so ‘n man, so ‘n vrou, ook in jou vind? Sal jy gehoorsaam wees aan Sy roepstem? Ons het op 22 April gebid en God gaan beslis antwoord, maar hy gaan baie van ons nodig hê om Sy reddingsplan in aksie stel. Ons is egter nie alleen nie. Die Engele staan ons in alles by.
            Nee, dis nie die werk van die predikante (herders) nie. Herder kry nie lammers nie, net skape kry lammers. Herders se taak is om die skape so goed te voed (op te lei) dat hulle selfs twee-, drie- en vierlinge aanbring!
            Moenie dink aan hoe ver jy tekort skiet nie. Abraham het ‘n voorspoedige en vol lewe gelei toe die HERE hom die opdrag gegee het dat hy moes oppak en trek, en dit boonop deur die woestyn, die vreemde in.
            Waar hy en sy mense gewoon het, het dit baie goed met hulle gegaan. En toe die opdrag om met alles – vroue, kinders, babas, diere, groot en klein, deur die woestyn te trek sonder dat hy geweet het waarheen.
            Abraham het gladnie geweet waarheen by moes trek nie, maar hy het  geweet saam met Wie hy trek!
            Jy sal nie in jou eie krag optree nie. God sal jou  toerus met krag. Hy het dit met almal voor jou gedoen en Hy gaan dit weer met almal van ons doen.
            “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here van die leërskare.” –  Mal. 4:6
            God soek ‘n MAN en ‘n VROU wat die muur van gebed sal bou  “wat gedurig die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie… en Hom nie met rus sal laat nie, tot Hy Jerusalem (Sy gemeente)  bevestig en maak tot ‘n lofoffer op die aarde.” – Jes. 62:6,7, “want die Here – Sy oë deurloop die aarde(hoekom?) om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…..”. – 2 Kron. 16:9
            God soek na ‘n Man, ‘n Vrou.  Is jy bereid om aan te meld? – Sjibbolet
·       As jy raad soek, straks worstel met wat jy moet doen, nie seker is of jy die HRERE se stem hoor nie, skryf aan ons. Ons help graag.