Woensdag 07 Junie 2017

God het ‘n plan met elkeen van ons

https://www.youtube.com/watch?v=jsWSi0m1X1A


Soos wat ons elkeen se vingerafdrukke verskil, so verskil God se plan van uniekheid vir elkeen van ons. Ons moet in die Gees begin leef.
            “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:23-24
Die video hierby lig dit verder toe. Kyk en luister die hele video deur.
Dit verwys na ‘n heel nuwe dimensie in die Christelike leefwyse. Ons betree ‘n tydvak waar ons die geestelike en die natuurlike gaan belewe, die sienlike en die onsienlike.
“Daarop vra die HERE vir Moses: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: 'n Staf.  
“En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het 'n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.” Ex 4:2-3
Nou, 6 000 jaar later, gebeur dit weer. Gelowiges sien in die Gees Engele, beleef drome en visioene, bewandel selfs die Hemel.
God wil natuurlike dinge in ons lewens omskep in die bonatuurlike. ‘n Lidmaat skryf ‘n smeerbrief vol onwaarhede oor ‘n leraar. Toe hy die koevert toeplak, lui sy telefoon... dis die betrokke leraar en hy sê: “Broer, ek het nou net in die gees agter jou gestaan en alles gelees wat jy oor my geskryf het.”
Weldra sal ons almal in die Hemel wees waar almal alles oor almal sal weet. Dit word reeds hier op aarde ondervind. Geheime was nog nooit veilig nie.
Die spreekwoord is waar: Al gaan die leuen twee keer om die aarde, die waarheid agterhaal elke keer.
“Die waarheid hou altyd, die leuen kom gou aan die lig.” Spr 12:19
“Want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.” Matt 10:26
“Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13
God wil in my en jou lewe beweeg. Hy vra dat ons aan Hom gee dit wat ons reeds in die natuurlike het. Dis hoekom God aan Moses gesê het om sy staf op die grond te gooi, betekenende hy skei van sy staf en gee dit vir die HERE.
Met daardie staf is die Rooisee geopen, het water uit ‘n rots gevloei. Nou was dit ‘n bonatuurlike staf. Toe Moses die slang aan die stert optel had hy weer sy staf.
Vir Moses was die herderstaf sy identiteit en sy sekuriteit. Veronderstel hy wou nie die staf op die grond gooi nie, dan het hy nie die wonderwerk beleef nie.
Wat het ek en jy in ons hand. Waaraan hou ons vas. Laat los, gee dit vir die HERE sodat ek en jy wonderwerke kan beleef.
‘n Herderstaf is ‘n pragtige voorwerp, net so lank soos jyself met ‘n mooi krul aan die bokant waarmee mens ‘n skaap maklik kan vang. Dit dien ook as kierie vir ‘n ou of moeë herder. Dit kan ook as wapen gebruik word.
Mens tel ‘n slang aan sy krulpunt op, nie aan die onderkant nie. Moses moes die slang aan die stert optel, die teenoorgestelde kant van die staf. As hy die slang aan sy kop opgetel het was hy straks gepik. Hy moes dus ook nie langer aan die tradisionele vashou nie.
Niks verkeerd om ‘n staf te hê nie, maar as mens jou sekuriteit in enigiets anders vind as in Jesus Christus, het jy ‘n probleem. Daar is ook niks mee verkeerd om R10 miljoen in die bank te hê nie, maar as die R10 miljoen jou het, het jy groot probleme.
Moses het uitsonderlike wonderwerke in sy tyd belewe: Die tien plae, die oopmaak van die Rooisee, die manna in die wildernis.
As Moses aan sy staf vasgehou het, sou hy ‘n skaapwagter gebly het. Hy sou vir die res van sy lewe skape moes getel het, agter weiveld moes aangetrek het, in die veld moes geleef het.
As ek en jy gaan vashou aan wat ons het, sal ons nooit God se wonderwerke in ons lewens beleef nie.
Wanneer die Heilige Gees met ons begin praat, dan moet ons beweeg, raak ontslae van dit wat in ons hand is.
Moses het sy staf teruggekry, maar hy het dit nie langer verafgod nie. Die staf is daarna vir ‘n heel ander doel aangewend.
Wat ook al in jou pad staan, gryp hierdie geleentheid aan met albei hande. – Sjibbolet