Wys tans plasings met die etiket God se plan. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God se plan. Wys alle plasings

Dinsdag 28 Mei 2019

Hoe loop jou pad?



HOE tree die Vader op, wanneer ons bepaal, dat ons nie gaan doen wat Hy wil hê ons moet doen nie?

            Die antwoord hierop word vervat in ‘n besondere verhaal in die Ou Testament, die verhaal van Jona, die profeet, wat deur die Vader ‘n opdrag gegee was, maar besluit het dat hy nie die Vader se opdrag gaan uitvoer nie.

            Die optrede van die Vader tydens ons oomblikke van ons ongehoorsaamheid, is dan ook juis die hooftema van die verhaal.

            Jona se verhaal is die verhaal van elke gelowige, want ook ons het ‘n soortgelyke opdrag as Jona ontvang: dat ons die Evangelie aan die ganse mensdom moet verkondig.  Dat ons mense moet waarsku dat as hulle, hulle nie gaan bekeer en God dien nie, God sy oordele oor hulle sal laat kom.

            Jona se opdrag was: Maak jou klaar, gaan na die groot stad Nineve, en spreek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor My aangesig.”

            Daar is drie werkwoorde in die opdrag:

·       Maak jou klaar – dit beteken, ons kan nie onbepaald in die kerkbanke sit en na preke luister nie, al is die preke ook hoe interessant.

·       Gaan – dit beteken, daar is ‘n wêreld daarbuite waarheen ons moet gaan.

·       Spreek – wat beteken dat ons mondelinge getuies moet wees.



Die woord “maar” is seker die mees besonderse woord in die hele verhaal, strofe 3 begin met “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsus te gaan…

En verderaan verskyn die woord “maar” weer ‘n keer: Maar die Vader het ‘n sterk wind…

Wanneer ons na die 3e hoofstuk gaan, vind ons ‘n parallel wat betref Jona se latere gehoorsaamheid: Toe maak Jona hom klaar en gaan na Nineve… en verder:  En die manne van Nineve het geglo…

Met ander woorde, toe Jona “maar” gesê het, het die Vader ook sy eie “maar” gereed gehad. Toe Jona egter “ja” sê, was die Vader gereed met Sy eie “ja” en toe stroom die seëninge.

Die derde strofe van hoofstuk 1 leer aan ons die eerste beginsel wat betref die werking van God se voorsienigheid in menslike ongehoorsaamheid.

Dit word uitgebeeld in die herhaling van die woord  “af”. Jona het “afgegaan” na Jafo en in ‘n skip geklim. Toe die storm opkom het hy na die onderste dele van die skip “afgeklim”.

Hy is daarna oorboord, afgegooi, in die see.

Om af te gaan, na benede te gaan en selfs onder te gaan is eenvoudig die onvermydelike pad wat almal loop wat van die Here God af wegvlug.

Hierdie afganery is ‘n reël waarvolgens God in gevalle van ongehoorsaamheid optree.

Nog ‘n reël oor die voorsienigheid van God vind ons op humoristiese wyse daarin dat Jona, toe hy by die skip kom, sy eie reisgeld moes betaal.

Maar hy het nooit by Tarsus uitgekom nie. Hy is lank voor daardie tyd oorboord gegooi. Hy is nooit die ongebruikte deel van sy reiskaartjie terugbetaal nie.

Hier sien ons ‘n groot beginsel in werking. Dit is die volgende: Wanneer mens van God af wegvlug dan kom jy nooit uit waarheen jy vlug nie en jy betaal al jou rekenings self, soms ten duurste.

Maar wanneer mens God se weg volg, bereik jy elke keer jou bestemming en die Here God betaal die rekeninge.

Mens kan nie nalaat om op hierdie punt die Amerikaanse prediker Bob Mumford aan te haal nie. Hy het gese: “God puts you into a fix to fix you, but if you fix the fix before you’re fixed, He has to fix another fix to fix you!”

Jona is beslis ‘n illustrasie van Mumford se woorde.

Onthou jy die verhaal van Moses in die mandjie? As sy moeder aan hom vasgehou het, was hy ook vermoor.

Kort daarna word sy Moses se pleegmoeder, maar, nie voordat Farao se dogter Moses ontdek en aan sy sussie Miriam sê: “Ek sal jou loon betaal nie.”

Moses se moeder het gekry wat sy die graagste wou hê en God het boonop die loon, die koste, die rekening, om die kindjie Moses groot te maak, betaal!

Maar Jona was op pad weg van God af, buite God se Wil, en hy moes sy eie kostes betaal

As mens dus van God af wegbeweeg sal jy nooit jou bestemming bereik nie en jy gaan elke keer self die kostes moet betaal.

As die pad wat jy bewandel egter God se pad is, dan het jy boonop ‘n waarborg dat jy beslis jou bestemming sal bereik en God sal die kostes betaal.

Dit is die les wat God aan Jona begin leer het toe Jona aan boord van die skip gegaan het. God het op ‘n bonatuurlik wyse ingetree om dit wat Hy in die eerste plek gedoen wou gehad het, wel te laat plaasvind.

Laat ons almal maar die les hieruit leer: God sal Sy doelwitte bereik, selfs al is ons ongehoorsaam. Hy kan dit doen deur oordele oor ons te laat kom weens ons ongehoorsaamheid, of Hy kan dit doen deur middel van seëninge weens ons gehoorsaamheid.

Maar optree, gaan Hy optree! Vir seker!

Wanneer God praat moet ons luister. Selfs Saulus moes op ‘n traumatiese wyse sy les leer toe hy nie wou luister nie.

As God verlang dat ons ‘n besondere taak moet verrig, dan het ons nie ‘n keuse nie.

So is die opdrag aan al die kinders van God om die Evangelie van Jesus Christus reg oor die wêreld uit dra, siele in te bring, hulle te doop, hulle te onderrig in die Woord.

Dit beteken nie ons moet almal sendelinge of predikante word nie, nee, sekerlik nie. Dit word van ons verwag om daar in ons werkplek, in die kringe waarin ons daagliks beweeg, Jesus Christus uit te dra, al doen ons dit net deur ons handelswyse.

Sjibbolet voer hierdie opdrag uit. Ons waarsku Suid-Afrikaners oor hulle boosheid.  Ons bring die vrymakende Evangelie van Jesus Christus aan almal.  Maar dit is nie genoeg nie, jy moet ook betrokke raak.

Totdat hierdie opdrag vervul is, sal diegene wat nie die opdrag  uitvoer nie, van probleem tot probleem lewe en ‘n onsekere bestaan voer.

Jy het geen professionele opleiding nodig om jou getuienis uit te dra nie, en jy mag nie weier om dit uit te dra nie.

Jesus sê self: As julle My voor die mense bely, dan sal Ek julle voor die Vader bely. Bely beteken in word en of daad.

Bely ons dus nie Jesus Christus voor die mense nie, dan bely Hy ons nie voor die Vader nie, met die gevolg dat ons onsself beroof  van seëninge.

Dink weer aan die beeld van die gemeentes wat warm, lou en koud is en let op dat daar op ‘n manier voorsiening gemaak is word die wat koud is, maar daar is geen voorsiening vir diegene wat lou is nie – diesulkes sal Hy uit Sy mond uitspuug!

Nou moet jy self besluit waarheen jy op pad is! —  Wekroep

Woensdag 07 Junie 2017

God het ‘n plan met elkeen van ons

https://www.youtube.com/watch?v=jsWSi0m1X1A


Soos wat ons elkeen se vingerafdrukke verskil, so verskil God se plan van uniekheid vir elkeen van ons. Ons moet in die Gees begin leef.
            “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:23-24
Die video hierby lig dit verder toe. Kyk en luister die hele video deur.
Dit verwys na ‘n heel nuwe dimensie in die Christelike leefwyse. Ons betree ‘n tydvak waar ons die geestelike en die natuurlike gaan belewe, die sienlike en die onsienlike.
“Daarop vra die HERE vir Moses: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: 'n Staf.  
“En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het 'n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.” Ex 4:2-3
Nou, 6 000 jaar later, gebeur dit weer. Gelowiges sien in die Gees Engele, beleef drome en visioene, bewandel selfs die Hemel.
God wil natuurlike dinge in ons lewens omskep in die bonatuurlike. ‘n Lidmaat skryf ‘n smeerbrief vol onwaarhede oor ‘n leraar. Toe hy die koevert toeplak, lui sy telefoon... dis die betrokke leraar en hy sê: “Broer, ek het nou net in die gees agter jou gestaan en alles gelees wat jy oor my geskryf het.”
Weldra sal ons almal in die Hemel wees waar almal alles oor almal sal weet. Dit word reeds hier op aarde ondervind. Geheime was nog nooit veilig nie.
Die spreekwoord is waar: Al gaan die leuen twee keer om die aarde, die waarheid agterhaal elke keer.
“Die waarheid hou altyd, die leuen kom gou aan die lig.” Spr 12:19
“Want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.” Matt 10:26
“Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13
God wil in my en jou lewe beweeg. Hy vra dat ons aan Hom gee dit wat ons reeds in die natuurlike het. Dis hoekom God aan Moses gesê het om sy staf op die grond te gooi, betekenende hy skei van sy staf en gee dit vir die HERE.
Met daardie staf is die Rooisee geopen, het water uit ‘n rots gevloei. Nou was dit ‘n bonatuurlike staf. Toe Moses die slang aan die stert optel had hy weer sy staf.
Vir Moses was die herderstaf sy identiteit en sy sekuriteit. Veronderstel hy wou nie die staf op die grond gooi nie, dan het hy nie die wonderwerk beleef nie.
Wat het ek en jy in ons hand. Waaraan hou ons vas. Laat los, gee dit vir die HERE sodat ek en jy wonderwerke kan beleef.
‘n Herderstaf is ‘n pragtige voorwerp, net so lank soos jyself met ‘n mooi krul aan die bokant waarmee mens ‘n skaap maklik kan vang. Dit dien ook as kierie vir ‘n ou of moeë herder. Dit kan ook as wapen gebruik word.
Mens tel ‘n slang aan sy krulpunt op, nie aan die onderkant nie. Moses moes die slang aan die stert optel, die teenoorgestelde kant van die staf. As hy die slang aan sy kop opgetel het was hy straks gepik. Hy moes dus ook nie langer aan die tradisionele vashou nie.
Niks verkeerd om ‘n staf te hê nie, maar as mens jou sekuriteit in enigiets anders vind as in Jesus Christus, het jy ‘n probleem. Daar is ook niks mee verkeerd om R10 miljoen in die bank te hê nie, maar as die R10 miljoen jou het, het jy groot probleme.
Moses het uitsonderlike wonderwerke in sy tyd belewe: Die tien plae, die oopmaak van die Rooisee, die manna in die wildernis.
As Moses aan sy staf vasgehou het, sou hy ‘n skaapwagter gebly het. Hy sou vir die res van sy lewe skape moes getel het, agter weiveld moes aangetrek het, in die veld moes geleef het.
As ek en jy gaan vashou aan wat ons het, sal ons nooit God se wonderwerke in ons lewens beleef nie.
Wanneer die Heilige Gees met ons begin praat, dan moet ons beweeg, raak ontslae van dit wat in ons hand is.
Moses het sy staf teruggekry, maar hy het dit nie langer verafgod nie. Die staf is daarna vir ‘n heel ander doel aangewend.
Wat ook al in jou pad staan, gryp hierdie geleentheid aan met albei hande. – Sjibbolet