Wys tans plasings met die etiket Afrikaans; geregtigheid; Spiritual and Regional. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaans; geregtigheid; Spiritual and Regional. Wys alle plasings

Vrydag 29 Junie 2018

God antwoord vir seker


Image result for Ps 41:2


Nood of behoefte: God antwoord vir seker


Onheil spoel soos ‘n tsoenami  oor die aarde heen. Waar sal ons skuil... tussen die armes?

            Mens verbaas jou oor die getalle gegradueerdes wat boemelaars is, mense wat seergekry het en uit die samelewing verstoot is.

En Jesus sê Hy is lief vir hulle en ek en jy moet Sy liefde aan hulle oordra.

            Gaan sit eendag tussen hulle en neem vir hulle kos en iets te drinke en ‘n geldjie en luister na hulle hartseer stories. Wys dan vir hulle wie Jesus is.

Luister: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.” Ps 41:2

            “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Ps 41:4

            Leer van Jesus. Sien hoe Hy met deernis die armes versorg, hoe die blindes sien, die verlamdes loop, die dowes hoor, die hongeres voedsel gegee word, ens.

            Daar is ook armes van gees. Ander ly aan verskillende soorte kwale en siektes. Meeste kan nie anti-depressante en sulke medikasie bekostig nie, en hulle kry baie swaar,

            Let op hoe Jesus mense se behoeftes op die daad aangespreek het.

            Wanneer Hy ‘n blinde bedelaar wat langs die pad aantref, het Jesus in die man se onmiddellike behoefte voorsien.

Onthou jy: “En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ‘n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.” Mark 19:46

Dis ook hierdie Skrif wat in 1970 tot skrywer se redding gelei het ...

Die man het uitgeroep na Jesus om hom barmhartig te wees, maar toe hy later by Jesus kom vra Jesus spesifiek vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: ‘Rabbónie, dat ek mag sien.’”

Jesus het nie gepreek nie, nie ‘n lang gesprek aangeknoop nie. Nee, Jesus voldoen aan die blinde se versoek en help hom net daar in sy onmiddellike behoefte en genees sy blindheid.

Elke keer as iemand met ‘n behoefte gekom het, het Jesus dit nie geïgnoreer of verskonings gemaak nie. Nee, Hy het die melaatses genees, die verlamdes laat loop, die demone uitgedryf, die dowes kon hoor, selfs dooies in opgewek.

Hand 10:38 gee ‘n beknopte opsomming van Jesus se bediening: “Met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag.

Jesus het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”

Inderdaad is die Ewigheid ontsettend belangrik en is die redding van ‘n mens se siel van kardinale belang. Maar ek en jy leef nog hier op aarde. Ons het behoeftes wat nóú uitskreeu om vervulling!

Ek wil jou aanmoedig om die Here Jesus nóú te vertrou met jou onmiddellike behoeftes wanner dit siekes, krankhede en watter nood ook al behels.

Ander dinge soos behoeftes, vertrou mens ook die HERE voor. Soms moet jy wag, maar niemand praat met die God van die Hemel oor ‘n behoefte en die HERE antwoord nie.

Wat is jou behoeftes: Smag jy byvoorbeeld na ‘n Hooglied man as huweliksmaat. Bd. Hy is op pad. Kyk uit vir hom.

Smag jy na jou biologiese kind wat jy destyds vir aanneming moes opgee? Kyk solank uit.

En jy wat na jou biologiese ouers soek? Jy soek dalk net verkeerd. Moet nooit moed opgee nie. Bly positief.

En terwyl jy wag, help ander net waar jy kan, al is dit ook net deur gebed en bemoediging. Bid vir mekaar Jak 5:16 en dra mekaar se laste. Gal 6:2 – Sjibbolet



Dinsdag 03 April 2018

Dis die Laaste Uur…




Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed voort na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit dalk vertoef, wag daarvoor, want alte seker sal dit kom en nie versuim nie. – Hab. 2:3



Die  Huis van Judah en Jerusalem is die Eindtyd barometer. Alles word in die stryd gewerp om soveel Joodse siele moontlik in te bring voordat Jesus kom.

            Die Amerikaanse Joodse Evangelis Sid Roth, het ‘n boek saamgestel met die getuienisse van tien vooraanstaande geredde Jode.

            In Amerika is reeds een miljoen Joodse huishoudings met die boek bereik.

Sid Roth, is besig met die tweede miljoen nadat hulle reeds meer as 600 000 Jode in Rusland bereik het. Hulle is ook druk besig in Israel. Dit word gratis by die huise afgelewer. Die HERE voorsien die astronomiese koste.

Oral oor die wêreld blaas die Jode die ramshorings met mening en meer gereeld.

 



Voordat die ramshorings geblaas word, bid hulle die volgende:

“Vanuit my smalle plek, vanuit my dieptes en beperkings, roep ek na U en U antwoord vanuit U uitgestrekte woonplek.”

Met “smalle plek”word bedoel, my plek van moeilikheid, pyn, frustrasie, verwyte, hartseer. Hulle weet die einde spoed nader, ook vir hul oorlogeteisterde land Israel.

Met die ramshoring roep hulle na God om weg te kom van hul aardsgebonde materialistiese werklikheid.

Hulle blaas vanuit hulle harte na die reinste heilige plek, die Hemel, vir ‘n stortvloed van seëninge.

            Talle Eindtydtekens is bekend wat op die tyd van die Wegraping dui, maar die Herlewing onder die Jode, is seker die grootste en belangrikste teken.

Die skille is besig om van die Jode se oë af te val en hulle neem in hulle honderde, selfs duisende, Jesus aan as Messias en Verlosser. Hier kom ‘n uitstorting van die Heilige Gees soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie. Jesus is op pad.

Roth sê die tyd loop uit, ons moet onverwyld doen wat ons kan om siele in te win.

            Roth verduidelik ons is in die tydvak wat die Bybel na verwys as “…die tye van die nasies vervul is.” Luk 21:24 en Rom 11:25

            En dan die belofte in Rom 11: 26-27 “… en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob (Israel) afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.”

            Dit beteken nie dat die tyd vir die ander volkere verstryk het nie, maar bloot dat die fokus nou op die Jode sal val. Tog dui dit aan dat ons skielik baie nader na die einde beweeg.

            In en om Jerusalem is daar reeds 281 Messiaanse gemeentes. Oor die res van die wêreld is daar meer as 450 gemeentes, selfs in Suid-Afrika.

            Die vervulde profetiese lyn loop soos volg:

·       Die Jode word weer ‘n volk. Jes 11:11-12 en dit het in die 20e eeu in vervulling gegaan en duur voort;

·       Die Staat Israel word gevestig. Jes 66:7-8 & Eseg 37:21-22. Gaan op 14 Mei 1948 in vervulling;

·       Die Jode neem weer Jerusalem in. Sag 8:4-8. Is op 7 Junie 1967 vervul;

·       Israel word weer ‘n land van melk en heuning. Eseg 36:34-35. Vervul in 20e eeu en duur voort;

·       Die Hebreeuse taal sal herleef. Sef 3:9. Vervul in 19e & 20e eeu;

·       Die nasies van die wêreld neem saam standpunt in teen Israel oor Jerusalem. Sag 12:1-31. Dit gaan huidiglik in vervulling in die VN en op die grense van Israel.

·       Die Arabiese nasies wil Israel vernietig. Sag 12:6. Dit is tans aan die gang met die opbou van ‘n geallieerde mag bestaande uit weermagte van 57 Arabiese lande.

·       Israel sal sekureiteit en voorspoed geniet. Eseg 38:11;

·       ‘n Russiese geallieerde mag bestaande meesal uit Arabiese state gaan Israel binneval. Eseg 38:1-17; Hierdie aanslag sal bonatuurlik deur God self verslaan word. Eseg 38:18-23 & 39:1-8… Na verwagting sal dit plaasvind sodra die vredesverdrag wat dalk binnekort tussen Israel en die Palestyne onderteken word, in duie stort. Dan word Jesus verwag.


In1973 moes skrywer Nuwe Testamente Israel binne smokkel aan Jode en Joodse soldate tydens die Yom Kippoer Oorlog. Daar was ook die ernstige waarskuwing dat as mens betrap sou word, jy dadelik gedeporteer sou word.

Vandag word die Evangelie deur Jode in Israel verkondig. Sid Roth had bv. ‘n diens in Jerusalem wat deur 550 Jode bygewoon was. Altesame 525 Jode is in daardie diens Wedergebore.

Feit is dat daar min tyd oor is vir mense om gered te word, veral nou dat die soeklig te meer op die Jode val.

https://www.youtube.com/watch?v=dUqm_N8muT0&list=RDp5jX2G1hHtY&index=3

Luister hoe tien duisende Arabiere, die half-broer van die Jood, die HERE loof:

https://www.youtube.com/watch?v=0Aa1tmkTG8k&list=RDp5jX2G1hHtY&index=14

Maandag 12 Februarie 2018

Die rol van die Kruis

Wanneer ’n mens die spoorwegdorp, Harriman, in oostelike Tennesee, nader, trek ’n groot, verligte kruis op een van die hoë bergrante, jou aandag, skryf dr. Paul Lee Tan.

Dit was anders as met die kruis op die kloktoring van die kerk in Pittsburgh. Harriman se kruis was die idee van die vyfjarige Dan Denny.

            Dan Denny kry op ’n dag ’n kruis present. Hy hang toe die kruis elke dag by sy venster uit.

Later wil sy ma weet hoekom hy dit doen. Hy antwoord: “Dalk sien iemand dit en dink dan aan Jesus en probeer goed wees.”

Dit het vir sy ma so goed geklink, dat sy dit met haar vriendinne bespreek. Een van hulle se man is op die dorpsraad en sy vertel dit vir hom en wonder of hulle, as dorpsmense, nie op ’n goed geleë plek ’n kruis kan oprig nie. Dit kom by die onderskeie gemeentes ter sprake en nie lank nie of die besluit word geneem en die kruis word op die heuwel buite die dorp opgerig waar almal dit sou sien.

Weer leer dit ons, dat dit nie iemand se ou­der­dom, status, gawes of geleerdheid is wat die groot rol speel as ons van Christus getuig nie. Dit is ’n saadjie wat geplant word en dit is die Heilige Gees wat die getuienis (saadjie) laat ontkiem en laat groei.

            Saai die Evangeliesaad waar dit moontlik is. Jesus het in sy gelykenis van die saad gesê dat baie van die saad vergeefs gesaai word, maar God laat dit ook in goeie grond val. Ons werk is om te saai. God se deel is om die saad te laat groei.

            Ons is nie geroep om te oortuig nie, maar om te getuig.

            “...julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Hand 1:8

En dan is  daar die Kruis in Pittsburgh, Pennsilvanië

Die lughawe van Pittsburgh, skryf Earl C. Willer, is die grootste en bestoegeruste lughawe in die Amerika. Dit bring ’n groot lugverkeer na die stad toe. Slegs twee sekondes vliegtyd van die lughawe af en direk in lyn met een van die besigste aanloopbane, staan die Union Church met sy hoë toring.

 


”Vandat die aanloopbaan geopen is,” vertel eerw. William R. Ruschaput, die kerk se leraar, “dreun vliegtuie by die kloktoring verby soos bye om ’n byekorf. Dit het so erg geword dat laag vlieënde stralers ons Sondagaand dienste in bidure omskep het.”

            Die kerkraad het bekommerd geraak omdat die kerk­toring so hoog is en die vliegtuie so laag inkom p, te kan land, dat die toring raak gevlieg kan word en skade en ’n ongeluk kon veroorsaak.

’n Drie meter hoë neon ligkruis word toe bo-op die toring aangebring. Die kerk staan op die hoogste punt naby die lughawe. Dit bring toe mee dat die ligkruis snags, van sover as Ohio se grens af, vir die loodse sigbaar was. Hieroor het eerw. Ruschaput gesê: “Een van die loodse het op ‘n keer opgemerk: Meeste van ons gebruik die verligte kruis as gid na die vliegveld.’”

            Die kerk met sy hoë kloktoring, so naby die aan­loop­baan, was vir die vlieëniers toe nie meer ’n hindernis nie, maar ’n bate. Die kruis op die kerktoring was ’n letterlike hulp vir die vlieënier om ’n veilige landing op die aan­loop­baan te maak.

So moet ons as Gelowiges in ‘n geestelike sin ’n seën wees vir mense om hulle veilige landing op die aanloopbaan van die Ewigheid te maak. En ons slaag daarin omdat Jesus so hoog verhef word.

As die Here Je­sus Christus en sy verlossingswerk die Gelowiges se middelpunt van getuienis en aandag is, wek die Hei­lige Gees in mense se harte die verligting van geloof, wat ’n veilige aankoms in die Ewigheid verseker.

            “…maar ons verkondig Christus wat gekruisig is….vir dié wat deur God geroep is…is Christus die krag van God en die wysheid van God.” 1 Kor 1:18-31.

Maandag 27 November 2017

Die Nag is op ons!


Image result for 2 Sam. 22:30.


‘Julle (ek en jy) sal Sy getuies wees…’ -- Is ons?

Gegroet in die naam van Jesus Christus wat ons geroep het om knegte van die Allerhoogste te wees!
            Julle sal my getuies wees tot aan die uiterste van die aarde. Hand 1:8 Christus sê as ek en jy Hom voor die mense bely, dan bely Hy ons voor die Vader. Getuig, bely ons nie, kan ons geestelike lewe ook nie beweeg of groei nie en beroof ons onsself van ryke seëninge.
            Die tyd raak min. Om te getuig, is die voorreg van elke Wedergebore Gelowige, maar baie Gelowiges word koud of onverskillig deur die koue ontvangs van hul getuienis.
            Die boodskap van verlossing is vir beide siel en liggaam bedoel en God wat ons verordineer het om getuies te wees, het belowe om Sy Woord aan ons te vervul en te bevestig.  Heb  2:3-4
            “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot Saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die HERE verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedelinge van die Heilige Gees volgens Sy wil?”
            “Hy het vir hulle gesê:  Gaan die wêreld in en verkondig die Evangelie en maak siekes gesond.”  Daar is sommige wat vir God wil werk, maar wat vrees dat Hy nie Sy beloftes sal vervul nie.  Ai!
            Hulle is huiwerig om vir ‘n sieke te bid want netnou gebeur daar niks! Die onus om te genees berus nie by my en jou nie, maar by God. Dis Sy belofte, nie myne en joune nie. Al wat ons moet doen is om die hande op te lê. Daardie oomblik is ons hande bloot die verlengstuk van Jesus Christus se hande.
            Dit is net omdat jy nie in die geloof uitgestap het nie, omdat jy nie ‘n vaste vertroue in die Woord van God het nie, omdat jy God se Almag misken.
Sy Woord is onfeilbaar. Hy het gesê ons is die instrument en die uitbou en onderhou van Sy Koninkryk wat deur Sy krag en genade bewerk word. Die onus is op Hom, nie op my en jou nie. Al wat ons moet doen is om te gaan vertel en te doen.
Ons kan geen siel red nie, net Jesus Christus kan. Al wat ons moet doen is om tyding van Heil te bring. Niks kan groei as die saad nie gesaai word nie.
            Jesus Christus het in die arena van wêreld se godsdienste gestap as Uitdager.  As die Seun van God het Hy hulle uitgedaag.
            Die Hemelse uitdaging staan nog.  Baie godsdienste, illusies en dwalinge, het die wêreld se belangstelling gewek, maar kon nooit werklik bevredig nie.
            So lank as wat God se Woord vasstaan, sal daardie uitdaging bly staan. Ander godsdienste was reeds oud en verbygaande toe Jesus in die wêreld as ‘n hulpelose babatjie gebore is.  Selfs die godsdiens wat reiniging van sondes deur vuur voorgestaan het, dit is die aanbidding van die son, die vuurgod, kon die natuur aan die mens nie verander nie.
            Die stemme van die stigters van vele anti-Christiese godsdienste is nog nooit weer van anderkant die graf gehoor nie. Hulle dood het ‘n volslae einde aan hulle lewens gebring.
            Die Seun van God, beklee met glorieryke Heiligheid, Goddelike geregtigheid, Hemelse reinheid, het in hierdie bose wêreld gekom en die Ewige Lewe, die opstanding uit die dode, gemeenskap met God, kom aankondig. Jesus Christus het ons waarlik vrygemaak van sonde en siekte.  Halleluja!
            Jesus Christus het nie in die wêreld gekom om apologie vir Sy bestaan aan te teken nie, of om ‘n woonplek te vra nie;  Hy het as die vervulling van die Belofte gekom.
            Die lewe van Jesus Christus word in elke gelowige gebore wanneer hy die Wedergeboorte ontvang, deur die bloed wat op Golgota gestort was.  Deur die wedergeboorte word hierdie mens nou ‘n werktuig in die hand van God, ‘n Getuie van God se Genade en Liefde.
            “Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.” 1 Joh  4:17
            In ons dag is daar baie mense wat nie ware gelowiges is nie, maar slegs nominale Christene, papier Christene, wat die hele week hulle eie gang gaan, maar op Sondae probeer om die Tien Gebooie te gehoorsaam.
            Hierdie mens probeer deur ‘n uiterlike vorm van vroomheid God te dien, maar hulle godsdiens is tevergeefs.  Jesus Christus en die Heilige Gees in aksie ontbreek in hulle lewens.
            Jesus Christus het nie gekom om goeie sedes te bewerkstellig nie, maar onsterflikheid aan die mens te skenk. Hy belowe:  “Ek sal hom opwek op die laaste dag, Ek sal hom die Ewige Lewe gee.  Die dode in Christus sal eerste opstaan.”
            Geen ander godsdiens behalwe die Christelike Godsdiens, belowe en verseker die Ewige Lewe nie.  Wie kon ooit die Ewige Lewe belowe voordat Jesus Christus gekom het?  Watter sterfling kon?  Dit was net die Seun van God self, uit die Hemel, met die kennis van onsterflikheid en die Ewige Lewe wat kon waag om so ‘n klimaks vir die mens voor te hou.
            Want in Hom was LEWE, en die Lewe was die lig van die mense.  Hy het ook gesê:  “Hy wat leef en in My glo, sal nooit sterf nie.”
            Vandag is Jesus Christus die mens se enigste hoop. Geen duiwelse mag op aarde kan die mag weerstaan wat Jesus Christus as ‘n erfenis aan die weergeborene nagelaat het nie.
            Baie sogenaamde Christene het hulle vertroue in God en ook in die Woord van God verloor! Dis soos die saad wat op die rotsagtige plekke geval het.
            Die saligheid bestaan dus daarin dat God die sondige mens tot ‘n nuwe mens herskape, alleen maar daarin dat God die wêreld liefhet. Joh 3:16
            God se hele verlossingsplan is reeds voor die grondlegging van die wêreld vasgestel.  En aan elke verloste mens gee God deur Jesus Christus mag (gesag) om die duiwel te weerstaan.
            Jesus Christus het die sonde-vraagstuk opgelos deur Homself as ons Bloed-offer op Golgota te offer.
            Nou word ek en jy as vrygekooptes geroep om te getuig aangaande dié heerlike feit, dat daar deur die gestorte Bloed vergifnis van sondes is, en dat deur Sy wonde daar genesing vir ons gees, siel en liggame gekom het.
            Toe Jesus uit die graf opgestaan het, het hy in Sy opstandingskrag te voorskyn gekom.  Hy wat bo alle owerheid en mag en krag is en wat alle dinge onder Sy voete onderwerp en Hom as Hoof  bo alle dinge aan die gemeente gegee het.  Hy gee aan my en jou hierdie mag, hierdie gesag, om die werke van die duiwel te verbreek.
            Staan op in die Geloof! Gaan en verkondig die werke van God!  Hy sal dit bevestig waar die voorwaardes nagekom word. Die HERE wil en sal Sy Woord bevestig.
            Hy sê in Jes 50: 2-3: “Is my hand werklik te kort om te verlos of is daar in my geen krag om uit te red nie?  Kyk, deur My dreiging maak Ek die see droog... Ek beklee die Hemel met swartheid.”
            Ons is dus geroep om getuies van die Evangelie te wees, waarin die mag van Jesus Christus en die Volle Raad van die Godheid uiteengesit word.
            Neem die bonatuurlike uit ons godsdiens en jy kry ‘n godsdiens so dood soos die heidense godsdienste.
            Neem die Evangelie van Jesus Christus uit hierdie wêreld en ons sal spoedig ook ‘n volk van kannibale, seksuele kranksinniges en moordenaars wees.
            Die mense veroordeel wonderwerke en genesings, en verwater so die Christen se getuienis:  Hulle leef sogenaamd in ‘n tyd waar wonderwerke geëindig het.
            Loof die HERE, ons ondervind meer en meer elke dag, die bevestiging van die Woord van God;  die waarheid dat Hy Sy Woord gestuur het om te genees, word elke keer bevestig.
            Die HERE sal altyd ‘n getuienis eer.  Kyk na Henog.  Hy het met God gewandel en is deur God weggeneem om by Hom te wees.
            En daar is Elia wat 450 heidense priesters uitgedaag en oorwin het. En Daniël wat geweier het om voor mense te buig wat sy getuienis sou beskadig het.  God het die bekke van die leeus gesluit sodat sy getuienis nog indrukwekkender kon wees.
            Alhoewel ons geroep is om die lydingsdoop te deurloop, mag ons nie die mens of ‘n gesag gehoorsaam wat vereis dat ons God se insettinge moet oortree nie.
            Op Golgota is daar voorsiening vir Goddelike genesing gemaak.  Watter soort Evangelie sou ons sonder die Groot Geneesheer, Jesus Christus, gehad het?
            Ons getuienis behoort in die eerste plek so te wees dat Christus deur ons lewens te voorskyn kom, sodat die getuienis van ons wedergeboorte mense tot sonde oortuiging sal bring.
            In die tweede plek moet ons nie bang wees om die beloftes van God in ons bediening te gebruik nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat ons deur die gestorte bloed van Christus, verlossing van sonde het en dat ons deur Sy wonde genees is.
            Hy belowe ook dat as ons hande op die siekes lê, hulle gesond sal word.  Hy het dit belowe. Hy sê Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord. Waarom sou ek en jy dan twyfel.
            In Jak. 1:6-7 sê die HERE dat iemand wat twyfel … “moenie dink dat iets, van die HERE kan ontvang nie.”  Ja, nie eers  “iets” nie.
            Dus, weier om te twyfel. Twyfel is nie van die Hemel nie. Die duiwel saai twyfel. Verdryf hom van jou af in die kragtige naam van Jesus Christus, staan vas, en weier om te twyfel.
            Toe Jesus Christus op Golgota gesterf het, het Hy elke sondaar verseker dat hy ‘n geleentheid gebied word om ‘n kind van God te word.
            John Lake het die opstanding van Christus so beskryf:  Een dag het Dawid op die berg gesit en sy skape opgepas, toe Sy gees hom weggevoer het na die ruimtes van God.  Hy sien die toekomstige gebeure en roep uit: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke onder die mense geneem, ja ook wederstrewiges om daar te woon, o, HERE God.” Ps 68:19
            En toe met ‘n triomfantelike geroep sê hy:  “Hef op julle hoofde, o poorte, ja verhef julle ewige deure dat die Ere-Koning kan ingaan.” Ps 24:7
            Toe Christus daardie handskoen in die arena gewerp het, het ‘n oorlog tussen twee koninkryke ontstaan.  Dit was ‘n stryd tussen lig en duisternis in die Hemel en op die aarde.  Jesus Christus het aan die hele wêreld getoon dat Hy waarlik die Oorwinnaar is.
            Die môre van Sy opstanding het Hy as Held, Oorwinnaar oor Satan, dood en hel, sonde en siekte, opgestaan.
            Daar is mense wat twis oor wie Christus sou doodgemaak het. Die waarheid is dat niemand Hom doodgemaak het nie. Golgotha is God se  meesterstuk. Jesus Christus het self besluit  op watter oomblik Hy sou sterf, Sy laaste asem sou uitblaas.
            Die Hoofman oor  Honderd wat in daardie stadium nog reg voor die kruis gestaan het, het homself boeglam geskrik toe hy sien wat gebeur – dat hierdie man aan die kruis nie ure lank soos ander aan die kruis gaan hang en natuurlik gaan sterf nie.
            Die Hoofman word ook die eerste mens om na die kruisiging openlik te bely: “Waarlik, dit was die Seun van God!”
            Kind van God, jy het ‘n getuienis.  Satan sou jou graag daarvan wou beroof.  Staan op, roep dit uit.  Staan op, en laat jou lig skyn want die Lig het gekom en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op!  Want kyk die duisternis kom, maar die HERE sal oor jou skyn en Sy heerlikheid sal oor u gesien word.
            Daar staan geskrywe dat terwille van Sy naam, jy vervolg sal word. Ons herhaal: dit is ‘n belofte, nie ‘n waarskuwing nie. Jy het uit die koninkryk van die Satan oorgestap na die Koninkryk van God. Jy het daardie oomblik ‘n vyand van die Satan en Sy Koninkryk geword. Hy besef ook dat as jy begin getuig, jy verdere en groter skade aan sy koninkryk gaan aanrig.
            Sy grootste verweer is om bindinge in ons gees te bring sodat ons nie kan getuig nie, sodat ons getuienis nie sy koninkryk verdere skade kan berokken nie.
            Daarom  het die (oorlogs)lied “Voorwaarts Christen-stryders, voorwaarts om te stry…” asook die lied “Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die Kruis!” sulke geweldige impak.
            As dit ooit vir jou voel jy is iewers besig om ‘n ronde te verloor, sing dan luidkeels hierdie liedere want inderdaad is ons in ‘n stryd gewikkel, maar  met die groot verskil, dat dit uit en uit ‘n oorwinnaarstryd is. Ons weet reeds dat ons gewen het.
            Is jy siek, voel jy ellendig, het jy probleme: Wel, as jy jou dan nie daar kan uit bid nie, sing jouself daar uit! Moet jou deur niks laat onderkry nie. Lewe bo die omstandighede en weier om onder die omstandighede te lewe.
            God het getuies dwarsdeur die eeue benodig.  Daar is die bekende geval van Jona.  God het hom beveel om in Ninevé die Evangelie te verkondig, maar hy het na die see gevlug.  God het vir hom gesê:  “Maak jou klaar, gaan na die groot stad Ninevé en preek vir hulle want hul boosheid het voor my aangesig opgestyg.”
            In Sy groot liefde en genade wou God deur Sy getuie die stad waarsku, maar treurig om te sê, Jona het weggevlug.  Op die see het ‘n sterk wind opgekom en die skip het water geskep.  Die lot is toe gewerp om te bepaal wie vir die storm verantwoordelik was en die lot het op Jona geval.
            Die bevelvoerder het bevel gegee dat die bemanning hom in die see moes gooi en ‘n groot vis het Jona ingesluk.  Jona het uit die ingewande van die vis tot sy God gebid:  “Ek is weggestoot uit U oë, tog sal ek weer U heilige tempel aanskou... toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink... Ek sal aan U offer met ‘n stem van lof.  Wat ek beloof het sal ek betaal.  Die heil behoort aan die HERE.”
            Moet  ek en jy dan ook eers die ingewande van ‘n groot vis smaak, voordat ons gaan luister en die boodskap begin uitdra!
            Daarna het die vis Jona op die strand uitgespuug. Daarna het hy aan Ninevé se inwoners gaan sê dat die stad binne 40 dae verwoes sou word.  Maar die koning en die inwoners het berou gehad en God het die stad gespaar.
            Ja, hierdie ontsettende werklikheid kan in ons dag ook plaasvind. As ons soos Ninevé  se inwoners ook onsself verootmoedig en in gees en in waarheid na God terugkeer, dan kan die profesieë van ons tyd ook deur die HERE omgekeer word. Maar dis ek en jy wat die volk moet waarsku.
            Dan kan ons die Satan en sy demone se uitdaging weerstaan, want ons is met die Heilige Gees gevul en het krag van omhoog ontvang. Ons is meer as oorwinnaars!
            Omdat Jesus in ons plek gesterf het, het God wettiglik gelas dat geen sonde of siekte ooit oor ons sal heers nie. Maar God benodig die getuienis van Sy volgelinge om andere van Sy groot program van liefde vir die mensdom te vertel.
            Die groot waarheid oor die kwessie van getuig, word deur  miljoene Christene reg oor die wêreld bevestig, en dit is: Hoe meer ons getuig, hoe sterker word ons geestelik, hoe meer Lig is daar om die duisternis te verdryf.
            Sal jy nou die uitdaging aanvaar?  Sal jy uit ‘n slawerny van sonde en siekte en van ongeloof en twyfel uitstap?
            Sal jy die uitdaging aanvaar en in die lewens-arena in die Naam van Jesus Christus instap om die magte van die hel en die duiwel op vlug te jaag?
            Sal jy as held, opstaan vir Jesus?
            Glo, in die Naam van Jesus Christus dat jy ‘n heerser oor die Satan en sy demone is.  Glo dat jy vry is omdat Christus het jou vrygemaak het.
            Verban die demone van onheil, siekte en depressie in jou eie lewe, in die lewe van jou gesin, van jou familie, ja, verban hierdie onheile uit die Liggaam van Jesus Christus.
            Aanvaar die uitdaging en word soldaat in God se Weermag!
            Hou die Bloedbevlekte Banier van die Oorwinnaar van Golgota op.
            Kom uit die duisternis in die lig in.
            Trek  die hele wapenrusting van God aan!
            Mense het baie verskonings waarom hulle nie sogenaamd kan getuig nie. Die Skrif trek egter ‘n finale streep deur alle verskonings.
            Eseg. 3:18-19 lees: “As Ek aan die Goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy (Christen) waarsku hom nie en spreek nie om die Goddelose vir sy Goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die Goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar, sy bloed sal  Ek van jou hand eis!
            “Maar as jy die Goddelose waarsku, en hy hom nie van sy Goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy, jy het jou siel gered!”
            Getuig, getuig, getuig, waarsku die Goddelose en red jou eie siel! Wees soos Paulus wat  in Rom. 1 vers 16 sê: “Want ek skaam my nie oor die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.” Daardie redding beteken vrymaking, veiligheid en genesing.
            Paulus sê: “…vir elkeen wat glo.” Wat beteken dit in die praktyk? Eenvoudig die volgende: Petrus kom by die man by die poort en sê aan die verlamde  “… staan op en loop.” As die man nie probeer opstaan het nie sou hy nooit geloop het nie.
            Die blinde man moes die speeksel-modder wat Jesus aan sy oë gesmeer het in die bad van Siloam gaan was. Hy het dit gedoen en gesien.
As hy begin twyfel het en gesê het: nee wat, dis sommer twak. Waar het mens nou gehoor iemand smeer speeksel-modder aan jou oë? Maar dan sou hy nie begin sien het nie. As hy sy oë op ‘n ander plek gaan was en as die plek waarheen hy gesê was om te gaan (ongehoorsaamheid) dan sou hy ook nie gesien het nie.
            Geloof vra dus gehoorsaamheid en handeling. Nadat Jesus die brode en die vissies aan die dissipels gegee het om uit te deel, het die dissipels tot by die voorste ry mense moes stap en dit begin uitdeel. Veronderstel hulle sou net daar bly staan het en gesê het: Nou hoe op aarde kan ons vyf duisend man, hul vroue en hul kinders met die bietjie kos voed? Dan sou daar niks gebeur het nie.
            Geloof vra daardie vaste vertroue, daardie gehoorsaamheid om te stap na die eerste ry mense en te begin uitdeel, en toe kom God se vermenigvuldende krag in werking en nie net is almal gevoed nie, daar bly toe nog brokstukke ook oor. Geloof sê soos Dawid: Met U loop en ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur!” 2 Sam. 22:30.
            Toe jy ‘n nuwe motor gekoop het, het die verkoopsman aan jou ‘n bossie sleutels van die motor oorhandig. Jy het nie gevra  of dit wel die betrokke motor se sleutels was nie, jy het in die geloof die verkoopsman se woord aanvaar, soveel-so dat jy selfs die sleutel in die aansitter gedruk en gedraai het en vir geen oomblik gewonder het of die motor aan die gang sou kom nie.
            Jy gaan sit elke Sondag op ‘n stoel in die kerkdiens, sonder om eers die stoel deur te kyk of dit nie dalk sal meegee wanneer jy daarop gaan sit nie. So moet ons geloofslewe ook wees, ‘n totale aanvaarding, ‘n totale vertroue op God se Almag.
            Die verhaal word vertel van die man wat  vir ‘n omstander gevra het of die omstander glo dat hy ‘n kruiwa op ‘n kabel oor die Niagra-waterval kon stoot. Die omstander het  gesê nee, sy glo nie hy sal dit kan doen nie.
            Die man het die kruiwa toe tot by die oorkant oor die kabel gestoot en weer terug, waarna hy  weer vra of die vrou nou glo hy kan dit doen.
Sy het ja geantwoord. Die man sê toe: “Nou maar klim dan in die kruiwa dat ek  dit weer doen,” en sy wou nie. Die een oomblik het sy geglo en die volgende oomblik gewantrou.
            Wanneer jy dus getuig, getuig jy van die onfeilbare Almagtige God. Plaas jou volle vertroue in Hom. Hy is die waarmaker van Sy Woord. Glo dit. Verkondig dit. Getuig!
Lees asseblief Dawid se lof en danklied in 2 Sam. 22. Lees dit hardop en maak dit jou eie lof en danklied. —  Sjibbolet

Woensdag 21 Junie 2017

‘n Skuilnaam kan nie red nie


In die maandblad van die Pacific Garden Mission vertel Carl Henry van die jongman, William James Taylor, alias Bill Hennessy, alias Ed Lynch, alias Tom O'Brien.
Hierdie jongman, met die baie skuilname, was 'n permanente vlugteling vir die gereg.
As 3-jarige seuntjie het hy in die agterplaas van sy pa se kroeg sy vingertjies in gebreekte glase en bottels gesteek en 'n smaak vir drank ontwikkel. Op 12-jarige ouderdom was hy 'n besope, drankverslaafde straatkind.
Na twee jaar in 'n verbeteringskool, het hy doelloos rondgeslenter, totdat 'n tweede arrestasie hom in 'n nywerheidinstituut laat beland het.
Die opheffingswerk daar, het hom nie verbeter nie. Dobbel, dwelms en drank was sy lewenspatroon. Hy was gedurig vlugtend vir die gereg en moes daarom altyd onder 'n skuilnaam rondbeweeg.
Die aand toe hy in Chicago aanland, het hy dadelik na die Pacific Garden Mission toe gevlug, want 'n polisieman in die straat het hom dopgehou en gevolg.
Die volgende aand het hy teruggekeer Pacific Garden Mission toe. Hy het geluister na getuienisse van mense soos hy, oor wat God in hulle lewens vermag het. Hy het by een van die werkers van die sending hulp gevra en hartroerend, Jesus aangeneem met: "HERE, wees my sondaar genadig. Jesus, red my ook asseblief."
            Agterna het hy getuig: "Ek kan nie alles vertel wat Jesus Christus vir my gedoen het nie. Maar een ding kan ek doen, en dit is om ander van Hom te vertel.
“Daar is baie dinge oor God wat ek nie weet nie en nie verstaan nie, maar één ding kan ek sê: 'God kies en keur nie.’  Elkeen wat, hoe sleg ook al, God se genade vra en by Jesus redding soek, vind 'n lewende Redder.
Genl William Booth was ‘n predikant. Hy het drommels op straat so jammer gekry, dat hy sy amp bedank het en met die Evangelie tussen die verlorenes op straat beweeg het. Hy het elke boemelaar, werklose, dwelmverslaafde, prostituut, dronkaard, hulpeloses, en hopeloses, na die HERE toe gelei.
Ander het hulle by hom kom aansluit en gehelp. Die straatwerk het so gegroei dat hy die Heilsleer (Salvation Army) gestig het. Kos en klere is ook uitgedeel en werk is aangebied.  Kraaminrigtings vir ongehudes, tehuise, ander soorte inrigtings is gebou om die haweloses woning en kos te bied.
Tussen Kaapstad en die Paarl is selfs die plaas Muldersvlei waar sulke verdwaaldes gehelp word, ook elders in Suid-Afrika.
By Booth se begrafnis in Londen in 1912 het 250 000 van sy volgelinge te voet deur die strate agter die begrafnisstoet aan beweeg om hulde aan hom te bring.
Jesus kies en keur nie, ons moet net uitgaan en die verlorenes gaan haal.
            "Saggeus… het Jesus met blydskap ontvang. Almal... het beswaar gemaak en gesê: 'Hy gaan by 'n sondige man tuis.'" Luk 19:7


Voorwaarts Christenstryders. Booth se begrafnisstoet beweeg by die Londense Stadsaal verby.
            Ons is nie almal ‘n William Booth nie, maar ons elkeen, sonder uitsondering, se opdrag is om die Koninkryk te bou, die siele in te bring, die Evangelie uit te dra.
            Hoeveel siele het jy al ingebring of gehelp in bring? Jy moet ten minste iets doen, want jy mag nie niks doen nie. As jy nie iets doen nie, help dan diegene wat besig is om die gerwe in te bring. Laat die HERE, wanneer Hy kom, jou met jou hand aan die ploeg vind.


https://www.youtube.com/watch?v=u67Lb1RyXTU

Attachments area
Preview YouTube video Bringing In The Sheaves

Bringing In The Sheaves

Woensdag 07 Junie 2017

Kyk, die HERE is dalk in die onderste laai…


Image result for black bible

Op 'n Septemberdag in 1963, is June Mullins vir die soveelste keer in 'n psigiatriese inrigting opgeneem. Agter haar was 10 jaar van magtelose stryd teen verdowingsmiddels. Elke moontlike vorm van rehabilitasie wat die samelewing kon bied, het misluk.
            Nadat die staaldeur agter haar toegesluit is, kyk June in die kamer rond. Daar is 'n klein vensterjie, met 'n staal skerm daarvoor, 'n bed en 'n laaikas met vier laaie. En 'n swart boek, wat sy dadelik as die Bybel herken, op die kas.
"Ag, nee, nie dít nie! Wat doen ek daarmee?" Sy kan dit nie uitgooi nie. Die deur en die venster is gesluit. Die laaikas! Sy trek die onderste laai oop en gooi die boek in die laai. Sy stof haar hande af asof sy van 'n las ontslae is. June gaan op haar bed lê.
Kort-kort betrap sy haarself dat sy na daardie vierde laai lê en kyk. Dit is asof die laai twee oë het wat haar aanstaar. Teen die vierde dag kan sy dit nie meer verduur nie. Sy dink: "Miskien moet ek dit uithaal en bietjie daarin lees. Dan sal my siel miskien rus kry."
            June voel 'n benoudheid in haar toe sy oorstap na die laaikas toe en die Bybel uithaal. Dit is soos 'n lewende ding in haar hande en sy weet nie wat om daarmee te doen nie. Sy erg haar vir haarself oor haar gewaarwording.
Waar moet sy lees? Vir baie, baie jare het sy nooit die Bybel gelees nie. Vir haar is die Bybel net 'n kerkboek met 'n klomp hoofstukke en klompe onverstaanbare en onsamehangende verse.
            Sy gaan sit op haar bed en maak die Bybel half in die middel oop. Waar sy oopmaak, begin sy lees. Sy het by Psalm 40 oopgemaak.
Dit is haar eie lewensverhaal wat sy begin lees: "Ek het die HERE lank verwag en Hy het Hom na my toe neegebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak."
Sy hou aan lee, hoofstuk na hoofstuk. Ses dae later word sy uit die inrigting ontslaan. Genoeg gestabiliseer om huis toe te gaan.
            Sy het uitgegaan, met die Woord van God en die belofte van Psalm 40 by haar. 'n Week later het sy die HERE Jesus Christus as haar Verlosser aangeneem. Nege jaar later getuig sy:, "Komende September, sal dit elf jaar wees vandat ek daardie middag God se belofte van redding gelees het.
“Wat in my begin is, word steed sterker en beter."
            Inderdaad: "U het my 'n nuwe lied in die mond gelê." Ps 40:4
 Waar is jou Bybel? – Sjibbolet

Maandag 10 Oktober 2016

Wees vir elke goeie werk, volkome toegerus...


Image result for Oop Bybel

“Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom – 2 Tim. 3:1, skryf Paulus aan Timotheus, en noem dan in die daarop volgende strofes verskeie voorbeelde van hoe die swaar tye daar sal uitsien.
            Hierdie swaar tye gaan gepaard met spanning wat in ons tyd in meeste gevalle aan uiterstes grens. Die 680 000 arm-blankes in kampe in die Transvaal is tekenend hiervan.
            Daar is oorlog in 67 lande van die wêreld. Oral sterf onskuldige mense.
            Hierdie spanning vernietig gesinne, huwelike, gemeenskappe, en dwing van die grootste maatskappye in die wêreld om spesiale maatreëls te tref om hul werknemers te beskerm en daarvoor te laat behandel. In sommige gevalle lei dit tot gesinsmoorde.
            Die steeds toenemende spanning van uiterstes raak meer mense se lewens as pandemies. Hospitale en mediese spreekkamers loop oor van mense wat aan spanning verwante siektes ly.
            In sommige opsigte reeds, is strofe 12 ook besig om in vervulling te gaan:  En almal wat ook Godvrugtig wil lewe, sal vervolg word! Christene word tans in 50 lande van die wêreld wreed vervolg.
            Vervolging in watter vorm ook al, bring sy eie soort spanning en meesal ook erge spanning. Spertye bring spanning. Perfeksionisme bring spanning.  Om iemand geestelik te dra bring spanning. Ondraaglike werksituasies bring spanning. Droogte bring spanning.
            Skuld bring spanning, so ook onvergewensgesindheid, leuens, bedrog, dit alles veroorsaak ‘n binding in ‘n mens se gees. Jou lewensbestaan is abnormaal.
            In 2 Kor. 11:27-28 praat Paulus oor spanning wat hy persoonlik beleef het en verwys hy onder meer na slapelose nagte en daaglikse bekommernis.
            Ons het almal al dae van druk en uitsonderlike hoë druk beleef, maar Paulus gaan voort en vertel dat hy vasgestaan het en GOD hom daarvan verlos het... 2 Tim. 3:11 lees: “Watter vervolginge het ek nie al almal verdra nie!  En die HERE het my uit almal verlos!”
            As Paulus kon vasgestaan het, dan kan ons ook. Maar dit sal dieselfde onwankelbare geloof van ons vereis as wat ons by Paulus sien – aldus 2 Tim. 4:7: “Ek het die Goeie stryd gestry...”
            Deurbrake kom nie altyd maklik nie, maar wanneer mens aanhou vertrou, aanhou met klop, dan kom die deurbraak die een of ander tyd wel.
            Dit bring ook (onnodige) spanning wanneer ons meen dat ons nie genoeg het nie. Ons vrees tekorte.
Ons gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis en dit omdat ons nie moeite maak om ons Bybels te bestudeer nie. Gaan met ‘n notaboek en pen kerk toe en maak aantekeninge. Word ‘n Skrifstudent.
            As ons wel die kennis opdoen, dan is die volgende aan uit Ps 37:18-19, 25 baie betekenisvol:
            “Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word. Ek was jonk, ook het ek oud geword (let op), maar nooit het ek die regverdige verlate gesien nie, of dat sy nageslag brood soek nie.”
            Koning Dawid sou nie die bogenoemde geskrywe het, as hy nie self getuie daarvan was nie.
            GOD sal ons nie verlaat nie. Hy sal Hom ook nie aan ons onttrek nie. Sy Liefde, Genade en Guns, skenk Hy aan ons.
            Een keer was Dawid onseker oor sy verhouding met GOD en toe vra hy in Psalm 8:5 “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”
            Dis ‘n vraag wat ons ook kan vra: “Wie is ons (ek en jy) as nietige mens, as gras van die veld, dat die Almagtige GOD aan ons sou dink?
            1 Petrus 5:7 lees: “Werp al julle bekommernisse op Hom (hoekom?) want Hy sorg vir julle!”
            Asook Ps 55:23: “Werp jou sorg op die HERE en Hy sal jou onderhou;  Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”
            En dan is daar Ps 9:10: “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”
            En strofe 11: “En hulle wat U Naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ HERE!”
            GOD behoed en bewaar ons. Hy dra ons, wat die omstandighede ook al mag wees. Al wat dit vra is dat ons dit sal erken, bely en glo en Hom daarvoor eer – in Gees en in Waarheid aanbid, Sy Naam grootmaak! Bid jy in Gees en in Waarheid?
            Dan maak dit nie saak hoe hoog die prys van wat ook al word nie, GOD sal die inkomste voorsien. Hy sal ons nooit verlaat nie.
            Lees asseblief al 17 strofes van die hele 2 Tim 3. Die onheil is ook rondom ons, maar GOD belowe: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid (hoekom?), sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
            Wat sê onse GOD vandag aan ons? Eenvoudig: Moet julle nie bekommer nie. Ek die HERE GOD is in beheer! – Sjibbolet

Woensdag 18 November 2015

Laat God jou Min vermenigvuldig


Image result for gideon bible warrior



Jonathan het in 1 Sam 14:1-23, vir die dienaar wat sy wapens dra gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want vir die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie. – 1 Sam. 14:6.

Israel was in ‘n benarde posisie. Die Filistyne het teen Israel opgeruk met 30 000 strydwaens, 6 000 perderuiters en soldate soos die sand van die see (1 Sam. 13:5).

Israel se eie soldate was so vol vrees dat hulle in gate weggekruip het. Net 600 man uit Salomo se ganse leër het by hom gebly.

Maar Jonathan, Saul se seun, was nie bevrees nie. Hy het sy wapendraer saam met hom geneem en die Filistyne uitgedaag. Dit was net hulle twee teen honderde duisende, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle was bereid om hulle lewens te waag in God se veldslae.      

Hulle het sowat 20 man om die lewe gebring, maar dit was genoeg. God het dit gebruik om vrees in die harte van die Filistyne plant en dit wil voorkom dat die Filistyne mekaar toe ook begin doodmaak het, weens ‘n totale verwarring wat onder hulle ontstaan het.

“En daar kom ‘n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja die land het gebewe, sodat dit ‘n skrik van God geword het.”

Jonathan het nie tyd gehad om die hele leërmag uit te delg nie. Al wat hy gedoen het was om 20 manskappe van die vyand te verslaan. God het dit egter geneem en vermenigvuldig tot ‘n reuse oorwinning.

Ons hoef nie die hele ding met een slag te doen nie. Soms moet ons net daardie stap in die geloof neem en God sal ons poging vermenigvuldig.

Neem ‘n stap in die geloof in dit wat God jou geroep het om te doen en sien hoe God dit dan gaan vermenigvuldig, presies soos wat Jesus Christus met die vissies en die broodjies gedoen het.

Die dissipels kon geredeneer het dat dit tog onmoontlik sou wees om 5 000 man en hulle vroue en kinders met daardie paar broodjies en vissies te kon voed, maar toe hulle die eerste tree in die geloof gee en begin uitdeel, het God se vermenigvuldende krag in werking gekom.

            In Rigters 6 en 7 is Gideon vol vrees vir die vyand. Hy wan sy koring onder in ‘n wynpers uit. En die HERE praat met hom en gee hom ‘n opdrag. Gideon antwoord dat die HERE eintlik met die verkeerde man praat want sy stam is die swakste van al die stamme en hy is op sy beurt die swakste in sy stam.

            Die HERE sê dis reg so want as ek die swakste gebruik dan sal die volk weet dat net God die vyand kon verslaan. Gideon kry uiteindelik 10 000 man gereed vir die veldslag en die HERE sê nee, dis hopeloos te veel en skaal Gideon se mannekrag af na net 300.

           Reg deur die Bybel het God nog altyd die min gebruik om die baie mee te doen.

Hoe min het jy?
           Dit maak nie saak hoe min jy het nie. Kom staan met jou min en al saam in gebed vir die grootste Herlewing ooit. Herlewing begin met gebed. Moedig ook ander aan om hulle min te bring en 'n gebedsvuur aan te pak. -- Sjibbolet