Wys tans plasings met die etiket God antwoord gebede. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God antwoord gebede. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Die HERE antwoord Altyd – al duur dit 40 jaar

“En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17. Maleagi het al profeteer:

"Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die HERE kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen...." Mal 4:5-6


Carin vertel: Ek het in 1992 na my biologiese moeder begin soek. Jare later laat weet CMR my, my moeder is reeds in 1999 nie meer hier nie. Na drie weke se trane, het die HERE my een oggend gewys dat daar ‘n ouma is. Ek besef toe, dat die hele familie nie uitgesterf kan wees nie.

          Ek het ‘n lys gemaak van al die mense in Port Elizabeth met my ma se van en begin bel. Met die sewende oproep toe praat ek met my ouma. Sy was verheug om van my te hoor. Sy’t verduidelik daar was nie destyds geld om my groot te maak nie.

          Ek en my man en een seun het dadelik gaan kuier en daar het ek my pa se naam gehoor.

Dit het 40 jaar geduur, maar uiteindelik is ek en my pa verenig – nadat ek destyds as pasgeborene aangeneem is. My pa het vaderskap ontken... tot vier jaar later in Februarie 1970, toe red die HERE sy siel.

Die volgende oggend in sy kantoor was daar ‘n hoorbare stem: “Ek hou jou verantwoordelik vir jou verlore dogter se sieleheil, nie die aanneemouers nie, want mens mag nie jou verpligtinge op ander afskuif nie.”

My pa het met my ma en haar ouers gaan vrede maak en aan my oupa al sy koste betaal wat hy aan my ma se swangerskap en die geboorte bestee het. Hy het met my ma, Lorraine, ook gaan regmaak en sy het hom ook vergewe. Toe het hy saam met my ma na my begin soek.

Ek het my mamma nooit gesien nie. Sy wag vir my in die Hemel.

Ek het as kind  gedurigdeur op plekke op die plaas denkbeeldige gesprekke met my biologiese ouers gevoer. Ek het selfs as kind hulle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie. Ek wou net weet, waarom kan ek nie by hulle wees nie? Waarom was ek weggegee?

Ek het gereeld saam met huiswerkers op die plaas om die pappotte en vure gesit en my lot betreur dat ek nie by my eie ouers is nie. Hulle het altyd geduldig geluister.

Ek het baie goed grootgeword. My aanneemouers was baie lief vir my, maar iets het geskort.

Na ek die familie ontmoet het, het die soeke na my pa begin.

Ek het my sat gebel, later nie meer geweet hoe nie, want ek het net ‘n naam gehad, en so baie mense het dieselfde naam.

Een keer toe ons met vakansie in Hartenbos was, het ek die HERE gevra: Hoe lank nog voordat ek my pa sal kry... en drie seevoëls het by my verby gevlieg en ek het geweet, nog drie jaar.

Die volgende jaar op Hartenbos het twee seevoëls verby gevlieg.

November 2010 het ek ‘n diep geestelike ou oom op ons dorp gevra: “Oom, wat kan ek nog doen om my pa op te spoor? Ek het sy naam, maar kry geen spoor van hom nie.”

Die oom, wat ‘n profetiese gawe had,  het geantwoord: “Hou op met soek, die HERE gaan jou pa op die regte tyd na jou toe stuur.”

Ek het niks van profesieë en sulke goed af geweet nie, maar wat die oom gesê het, het oneindig sin gemaak.

Dit was eintlik eenvoudige woorde, maar my geloof in God, het my laat besef, dat hierdie wyse woorde was.

Net daarna het ek gaan bid: “HERE, ek is moeg gesoek, ek gee oor. Ek weet nie meer hoe nie. Kan my pa nie maar net na my toe aangestap kom nie?”

Die gebed was egter die spreekwoordelike laaste strooi – om my volle vertroue op God te plaas.

Van my kindsbeen af het ek na my biologiese ouers verlang. By tye was ek baie hartseer. Ek het my hartseer nooit met iemand gedeel nie.

Ek het ook nie vertel hoe die seunskinders op laerskool my kosblikkie uit my hande geskop het en my uitgejou het as  optelkind nie. Dit het baie seergemaak.

 Drie weke na hierdie gebed, sien ek ‘n ou oom na my toe aangestap kom terwyl ek in my kantoor sit.

Ek het nie geweet wie dit is nie en aan my gebed – “Kan my pa dan net sommer na my toe aangestap kom nie” – het ek glad nie gedink nie.

Toe die ou oom by my kom en ek sy trane en hartseer sien en hy af buk na my en deur sy trane vra: “Is jou naam Carin”, toe het my hele wese hier binne my uitgeroep: “HERE, hier is hy nou! Dis my pa! My pa het gekom!”

Ek het doodstil agter my lessenaar bly sit byna versteen. Ek kon nie praat nie, ek het net geknik.

Toe sê hy die mooiste woorde wat ek ooit in my hele lewe gehoor het: “Ek is jou pa.”

Die volgende oomblik was ek in sy arms.

So deur die snikke heen het ek aan hom gesê: “Pa, ek het julle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie.”

Ek het gevoel hoe my pa se rou snikke deur sy liggaam skeur, ‘n groot man, baie groter as ek, wat huil soos ‘n kind. Ek hoor hy snik: “Ag HERE Jesus, hoe lank het ek nie na haar gesoek nie.”

My blydskap was oorweldigend toe ek hoor my pa het ook na my gesoek. Deur die jare het ek by kere gewonder of hy my sou aanvaar as ek skielik eendag voor hom sou staan en vir hom sou sê: “Pa, ek is jou kind.”

Ons is nou volwaardig pa en kind en kind en pa, lief vir mekaar en onafskeidbaar, soos dit hoort. Ons seën mekaar, besiel mekaar. Glorie Halleluja.

Veertig jaar was ‘n baie lang tyd, maar dit was God se tyd. Ek bly die HERE ewig dankbaar.

Ek het nooit besef dat beide my biologiese ouers na my ook gesoek het nie. Na my ma in 1999 Huis toe is, het my pa alleen die soeke voortgesit.

Hy het op ‘n dag die familie gebel en hulle het hom van my besoek aan hulle vertel en gesê waar ek woon... net 160km uitmekaar, al vir jare.

Die volgende oggend het hy die pad gevat na my toe en my in my kantoor verras.

 Patricia King, die bekende Amerikaanse Evangelis, het geen kennis van my pa se probleme en my bestaan gedra nie. Hy het haar bloot gevra om vir hom in gebed in te tree. Hy was ook al radeloos van al die gesoek na my. Niemand het geweet hy soek na my nie.

Kort voor my pa my gevind het, het hy ‘n skrywe van Patricia King ontvang:



“Dear James,

“Last night at our Tuesday Night house Fellowship, the Lord gave me an exciting prophetic vision. This morning He told me to deliver it to you!

“I saw a vision of butterflies being released out of Heaven. Thousands of them. They were so beautiful - so free! The Lord says that it is a time of new beginnings for you. Even as a butterfly comes forth from a cocoon into a new state of being, into new freedom, new beauty, new presentation, so also will you!

“The Lord says, "Do not call to mind the former things or ponder the things of the past. Behold, I will do something new, now it will spring forth; will you be aware of it.

“The wind of the Spirit will delicately blow upon you and new fragrances of His grace will be released in and through your life.

“This is a season of new beginnings for you. A season of reward for those who have diligently sought the Lord. The things that held you back in the past will not hold you back in the days ahead.

“Any cloak of shame, humiliation, or bondage is being cast off. A robe of honor is being prepared for you because you have humbled yourself.

“Walk through the door into this new realm of blessing. It is prepared for you. All things are being made new.

“Have a great day and remember that you are a great treasure to His heart.... ours too!

Patricia King



Enkele dae nadat ek en my pa ontmoet het, is ek een oggend deur ‘n allemintige swerm skoenlappers omsingel. Skoenlappers is ‘n rare verskynsel op ons dorp. Ek het doodstil bly staan te midde van die gefladder en met trane van dankbaarheid gedink aan Patricia se profetiese woorde. Ek het God inderdaad beleef!

Kort hierna was die kerk een Sondag stampvol en te midde van baie trane van blydskap oral, het my pa my gedoop!

My storie het soveel Goddelike detail, dat dit net God self is wat dit kon bewerk en op Sy tyd.

"Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys het en Sy trou nie van my weerhou het nie." –  Ps 66:20

            My pa vertel agterna: Die nag toe hy my ma afgesê het, het sy bitterlik gehuil. Die enigste woorde wat sy by drie geleenthede daardie nag geuiter het was: “Maar jy het gesê jy is lief vir my.” Sy het dit vraend gesê, asof sy nie kon verstaan hoe kan ‘n man iemand afsê vir wie hy sy liefde verklaar het nie.

            Haar trane was ontstellend, maar haar woorde was soos ‘n dolksteek. Toe het hy besef mans sê hopeloos te gou vir ‘n vrou hulle is lief vir haar. Dis ‘n verklaring en as die meisie dit herhaal, dan is dit ‘n verbond wat hulle sluit. Die werklik implikasie van daardie woorde het my pa eers daai nag op die stoep getref.

            Vandag waarsku hy: “Sê enigiets vir ‘n meisie... dat jy van haar hou, dat sy pragtig is, of wat ook al, maar verklaar nie jou liefde voordat jy nie erns met haar het en weet dat jy weet dat jy met haar wil en gaan trou nie.

            Uit die Skrif is dit duidelik: Elia kom nie terug aarde toe nie maar wel sy Gees en Krag en dat God besig is om dit te gebruik om vaders en kinders mee te versoen.

            Die derduisende kinders wat half wees groot word, weet dit, dit is deel van God se Raadsplan voordat die Messias kom, om Vaders en kinders te versoen.

            My pa moes baie worstel met negatiewe gedagtes, maar het uiteindelik besluit, kom wat wil, hy sal nie ophou soek tot die dag wat hy voor my staan om jammer te sê en vergifnis te vra, of dat hy by my graf staan nie.

            In Luk 11:5-10 het my pa ‘n groot openbaring gekry. Dit het hom laat dink aan kere wat hy aan ‘n deur geklop het en geloop het omdat daar nie antwoord was nie. Wanneer hy die mense later die dag raakloop, sê hulle: “Maar jy moes net langer geklop het, ons was die heeltyd daar, maar besig in die agterplaas.”

            Daarna het hy altyd teen iets soos sy lessenaar of die vloer geklop en gebid: “HERE, dis weer ek, maar ek wil U nie irriteer nie, sê tog asseblief wanneer sal ek my verlore kind opspoor.” Byna 40 jaar lank was daar geen reaksie nie, tot eendag toe hoor hy dieselfde stem as 40 jaar vroeë in sy kantoor: “Hou op met soek, sy is nader aan jou as wat jy dink.”

            Drie weke later toe is hulle in mekaar se arms.

Vrydag 29 Junie 2018

God antwoord vir seker


Image result for Ps 41:2


Nood of behoefte: God antwoord vir seker


Onheil spoel soos ‘n tsoenami  oor die aarde heen. Waar sal ons skuil... tussen die armes?

            Mens verbaas jou oor die getalle gegradueerdes wat boemelaars is, mense wat seergekry het en uit die samelewing verstoot is.

En Jesus sê Hy is lief vir hulle en ek en jy moet Sy liefde aan hulle oordra.

            Gaan sit eendag tussen hulle en neem vir hulle kos en iets te drinke en ‘n geldjie en luister na hulle hartseer stories. Wys dan vir hulle wie Jesus is.

Luister: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.” Ps 41:2

            “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Ps 41:4

            Leer van Jesus. Sien hoe Hy met deernis die armes versorg, hoe die blindes sien, die verlamdes loop, die dowes hoor, die hongeres voedsel gegee word, ens.

            Daar is ook armes van gees. Ander ly aan verskillende soorte kwale en siektes. Meeste kan nie anti-depressante en sulke medikasie bekostig nie, en hulle kry baie swaar,

            Let op hoe Jesus mense se behoeftes op die daad aangespreek het.

            Wanneer Hy ‘n blinde bedelaar wat langs die pad aantref, het Jesus in die man se onmiddellike behoefte voorsien.

Onthou jy: “En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ‘n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.” Mark 19:46

Dis ook hierdie Skrif wat in 1970 tot skrywer se redding gelei het ...

Die man het uitgeroep na Jesus om hom barmhartig te wees, maar toe hy later by Jesus kom vra Jesus spesifiek vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: ‘Rabbónie, dat ek mag sien.’”

Jesus het nie gepreek nie, nie ‘n lang gesprek aangeknoop nie. Nee, Jesus voldoen aan die blinde se versoek en help hom net daar in sy onmiddellike behoefte en genees sy blindheid.

Elke keer as iemand met ‘n behoefte gekom het, het Jesus dit nie geïgnoreer of verskonings gemaak nie. Nee, Hy het die melaatses genees, die verlamdes laat loop, die demone uitgedryf, die dowes kon hoor, selfs dooies in opgewek.

Hand 10:38 gee ‘n beknopte opsomming van Jesus se bediening: “Met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag.

Jesus het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”

Inderdaad is die Ewigheid ontsettend belangrik en is die redding van ‘n mens se siel van kardinale belang. Maar ek en jy leef nog hier op aarde. Ons het behoeftes wat nóú uitskreeu om vervulling!

Ek wil jou aanmoedig om die Here Jesus nóú te vertrou met jou onmiddellike behoeftes wanner dit siekes, krankhede en watter nood ook al behels.

Ander dinge soos behoeftes, vertrou mens ook die HERE voor. Soms moet jy wag, maar niemand praat met die God van die Hemel oor ‘n behoefte en die HERE antwoord nie.

Wat is jou behoeftes: Smag jy byvoorbeeld na ‘n Hooglied man as huweliksmaat. Bd. Hy is op pad. Kyk uit vir hom.

Smag jy na jou biologiese kind wat jy destyds vir aanneming moes opgee? Kyk solank uit.

En jy wat na jou biologiese ouers soek? Jy soek dalk net verkeerd. Moet nooit moed opgee nie. Bly positief.

En terwyl jy wag, help ander net waar jy kan, al is dit ook net deur gebed en bemoediging. Bid vir mekaar Jak 5:16 en dra mekaar se laste. Gal 6:2 – Sjibbolet