Wys tans plasings met die etiket Aangenome kinders en Biologiese ouers. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aangenome kinders en Biologiese ouers. Wys alle plasings

Vrydag 19 Junie 2020

Die HERE antwoord Altyd – al duur dit 40 jaar

“En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17. Maleagi het al profeteer:

"Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die HERE kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen...." Mal 4:5-6


Carin vertel: Ek het in 1992 na my biologiese moeder begin soek. Jare later laat weet CMR my, my moeder is reeds in 1999 nie meer hier nie. Na drie weke se trane, het die HERE my een oggend gewys dat daar ‘n ouma is. Ek besef toe, dat die hele familie nie uitgesterf kan wees nie.

          Ek het ‘n lys gemaak van al die mense in Port Elizabeth met my ma se van en begin bel. Met die sewende oproep toe praat ek met my ouma. Sy was verheug om van my te hoor. Sy’t verduidelik daar was nie destyds geld om my groot te maak nie.

          Ek en my man en een seun het dadelik gaan kuier en daar het ek my pa se naam gehoor.

Dit het 40 jaar geduur, maar uiteindelik is ek en my pa verenig – nadat ek destyds as pasgeborene aangeneem is. My pa het vaderskap ontken... tot vier jaar later in Februarie 1970, toe red die HERE sy siel.

Die volgende oggend in sy kantoor was daar ‘n hoorbare stem: “Ek hou jou verantwoordelik vir jou verlore dogter se sieleheil, nie die aanneemouers nie, want mens mag nie jou verpligtinge op ander afskuif nie.”

My pa het met my ma en haar ouers gaan vrede maak en aan my oupa al sy koste betaal wat hy aan my ma se swangerskap en die geboorte bestee het. Hy het met my ma, Lorraine, ook gaan regmaak en sy het hom ook vergewe. Toe het hy saam met my ma na my begin soek.

Ek het my mamma nooit gesien nie. Sy wag vir my in die Hemel.

Ek het as kind  gedurigdeur op plekke op die plaas denkbeeldige gesprekke met my biologiese ouers gevoer. Ek het selfs as kind hulle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie. Ek wou net weet, waarom kan ek nie by hulle wees nie? Waarom was ek weggegee?

Ek het gereeld saam met huiswerkers op die plaas om die pappotte en vure gesit en my lot betreur dat ek nie by my eie ouers is nie. Hulle het altyd geduldig geluister.

Ek het baie goed grootgeword. My aanneemouers was baie lief vir my, maar iets het geskort.

Na ek die familie ontmoet het, het die soeke na my pa begin.

Ek het my sat gebel, later nie meer geweet hoe nie, want ek het net ‘n naam gehad, en so baie mense het dieselfde naam.

Een keer toe ons met vakansie in Hartenbos was, het ek die HERE gevra: Hoe lank nog voordat ek my pa sal kry... en drie seevoëls het by my verby gevlieg en ek het geweet, nog drie jaar.

Die volgende jaar op Hartenbos het twee seevoëls verby gevlieg.

November 2010 het ek ‘n diep geestelike ou oom op ons dorp gevra: “Oom, wat kan ek nog doen om my pa op te spoor? Ek het sy naam, maar kry geen spoor van hom nie.”

Die oom, wat ‘n profetiese gawe had,  het geantwoord: “Hou op met soek, die HERE gaan jou pa op die regte tyd na jou toe stuur.”

Ek het niks van profesieë en sulke goed af geweet nie, maar wat die oom gesê het, het oneindig sin gemaak.

Dit was eintlik eenvoudige woorde, maar my geloof in God, het my laat besef, dat hierdie wyse woorde was.

Net daarna het ek gaan bid: “HERE, ek is moeg gesoek, ek gee oor. Ek weet nie meer hoe nie. Kan my pa nie maar net na my toe aangestap kom nie?”

Die gebed was egter die spreekwoordelike laaste strooi – om my volle vertroue op God te plaas.

Van my kindsbeen af het ek na my biologiese ouers verlang. By tye was ek baie hartseer. Ek het my hartseer nooit met iemand gedeel nie.

Ek het ook nie vertel hoe die seunskinders op laerskool my kosblikkie uit my hande geskop het en my uitgejou het as  optelkind nie. Dit het baie seergemaak.

 Drie weke na hierdie gebed, sien ek ‘n ou oom na my toe aangestap kom terwyl ek in my kantoor sit.

Ek het nie geweet wie dit is nie en aan my gebed – “Kan my pa dan net sommer na my toe aangestap kom nie” – het ek glad nie gedink nie.

Toe die ou oom by my kom en ek sy trane en hartseer sien en hy af buk na my en deur sy trane vra: “Is jou naam Carin”, toe het my hele wese hier binne my uitgeroep: “HERE, hier is hy nou! Dis my pa! My pa het gekom!”

Ek het doodstil agter my lessenaar bly sit byna versteen. Ek kon nie praat nie, ek het net geknik.

Toe sê hy die mooiste woorde wat ek ooit in my hele lewe gehoor het: “Ek is jou pa.”

Die volgende oomblik was ek in sy arms.

So deur die snikke heen het ek aan hom gesê: “Pa, ek het julle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie.”

Ek het gevoel hoe my pa se rou snikke deur sy liggaam skeur, ‘n groot man, baie groter as ek, wat huil soos ‘n kind. Ek hoor hy snik: “Ag HERE Jesus, hoe lank het ek nie na haar gesoek nie.”

My blydskap was oorweldigend toe ek hoor my pa het ook na my gesoek. Deur die jare het ek by kere gewonder of hy my sou aanvaar as ek skielik eendag voor hom sou staan en vir hom sou sê: “Pa, ek is jou kind.”

Ons is nou volwaardig pa en kind en kind en pa, lief vir mekaar en onafskeidbaar, soos dit hoort. Ons seën mekaar, besiel mekaar. Glorie Halleluja.

Veertig jaar was ‘n baie lang tyd, maar dit was God se tyd. Ek bly die HERE ewig dankbaar.

Ek het nooit besef dat beide my biologiese ouers na my ook gesoek het nie. Na my ma in 1999 Huis toe is, het my pa alleen die soeke voortgesit.

Hy het op ‘n dag die familie gebel en hulle het hom van my besoek aan hulle vertel en gesê waar ek woon... net 160km uitmekaar, al vir jare.

Die volgende oggend het hy die pad gevat na my toe en my in my kantoor verras.

 Patricia King, die bekende Amerikaanse Evangelis, het geen kennis van my pa se probleme en my bestaan gedra nie. Hy het haar bloot gevra om vir hom in gebed in te tree. Hy was ook al radeloos van al die gesoek na my. Niemand het geweet hy soek na my nie.

Kort voor my pa my gevind het, het hy ‘n skrywe van Patricia King ontvang:



“Dear James,

“Last night at our Tuesday Night house Fellowship, the Lord gave me an exciting prophetic vision. This morning He told me to deliver it to you!

“I saw a vision of butterflies being released out of Heaven. Thousands of them. They were so beautiful - so free! The Lord says that it is a time of new beginnings for you. Even as a butterfly comes forth from a cocoon into a new state of being, into new freedom, new beauty, new presentation, so also will you!

“The Lord says, "Do not call to mind the former things or ponder the things of the past. Behold, I will do something new, now it will spring forth; will you be aware of it.

“The wind of the Spirit will delicately blow upon you and new fragrances of His grace will be released in and through your life.

“This is a season of new beginnings for you. A season of reward for those who have diligently sought the Lord. The things that held you back in the past will not hold you back in the days ahead.

“Any cloak of shame, humiliation, or bondage is being cast off. A robe of honor is being prepared for you because you have humbled yourself.

“Walk through the door into this new realm of blessing. It is prepared for you. All things are being made new.

“Have a great day and remember that you are a great treasure to His heart.... ours too!

Patricia King



Enkele dae nadat ek en my pa ontmoet het, is ek een oggend deur ‘n allemintige swerm skoenlappers omsingel. Skoenlappers is ‘n rare verskynsel op ons dorp. Ek het doodstil bly staan te midde van die gefladder en met trane van dankbaarheid gedink aan Patricia se profetiese woorde. Ek het God inderdaad beleef!

Kort hierna was die kerk een Sondag stampvol en te midde van baie trane van blydskap oral, het my pa my gedoop!

My storie het soveel Goddelike detail, dat dit net God self is wat dit kon bewerk en op Sy tyd.

"Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys het en Sy trou nie van my weerhou het nie." –  Ps 66:20

            My pa vertel agterna: Die nag toe hy my ma afgesê het, het sy bitterlik gehuil. Die enigste woorde wat sy by drie geleenthede daardie nag geuiter het was: “Maar jy het gesê jy is lief vir my.” Sy het dit vraend gesê, asof sy nie kon verstaan hoe kan ‘n man iemand afsê vir wie hy sy liefde verklaar het nie.

            Haar trane was ontstellend, maar haar woorde was soos ‘n dolksteek. Toe het hy besef mans sê hopeloos te gou vir ‘n vrou hulle is lief vir haar. Dis ‘n verklaring en as die meisie dit herhaal, dan is dit ‘n verbond wat hulle sluit. Die werklik implikasie van daardie woorde het my pa eers daai nag op die stoep getref.

            Vandag waarsku hy: “Sê enigiets vir ‘n meisie... dat jy van haar hou, dat sy pragtig is, of wat ook al, maar verklaar nie jou liefde voordat jy nie erns met haar het en weet dat jy weet dat jy met haar wil en gaan trou nie.

            Uit die Skrif is dit duidelik: Elia kom nie terug aarde toe nie maar wel sy Gees en Krag en dat God besig is om dit te gebruik om vaders en kinders mee te versoen.

            Die derduisende kinders wat half wees groot word, weet dit, dit is deel van God se Raadsplan voordat die Messias kom, om Vaders en kinders te versoen.

            My pa moes baie worstel met negatiewe gedagtes, maar het uiteindelik besluit, kom wat wil, hy sal nie ophou soek tot die dag wat hy voor my staan om jammer te sê en vergifnis te vra, of dat hy by my graf staan nie.

            In Luk 11:5-10 het my pa ‘n groot openbaring gekry. Dit het hom laat dink aan kere wat hy aan ‘n deur geklop het en geloop het omdat daar nie antwoord was nie. Wanneer hy die mense later die dag raakloop, sê hulle: “Maar jy moes net langer geklop het, ons was die heeltyd daar, maar besig in die agterplaas.”

            Daarna het hy altyd teen iets soos sy lessenaar of die vloer geklop en gebid: “HERE, dis weer ek, maar ek wil U nie irriteer nie, sê tog asseblief wanneer sal ek my verlore kind opspoor.” Byna 40 jaar lank was daar geen reaksie nie, tot eendag toe hoor hy dieselfde stem as 40 jaar vroeë in sy kantoor: “Hou op met soek, sy is nader aan jou as wat jy dink.”

            Drie weke later toe is hulle in mekaar se arms.

Vrydag 18 Mei 2018

Biologiese ouers soek hulle kinders



Vaders word in hierdie tyd deur die Gees van Elia opgewek om terug te keer na hulle kinders. So lui hulle die Koms van Christus binne. Die Gees van Elia moet in die Kerk aanwesig wees, toegelaat word, verwelkom word.

            “En hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Elía (hoekom?), om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17

            Maleagi het al profeteer: "Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen...." Mal 4:5-6

            Die Gees van Elia sal die morele verval in en om die Kerk omkeer en die  Gees van Isebel en ook Agab, wat alles verniel, teenstaan. Die Kerk maak gereed vir die Wederkoms... sonder vlek of rimpel.

            Reg oor die wêreld verbrokkel huwelike in toenemende maat die afgelope 50 jaar en in Suid-Afrika loop een uit elke drie huwelike op die rotse. Soms is dit een uit elke twee huwelike. Buite-egtelike kinders word in toenemende maat die afgelope 50 jaar gebore.

            Vaders ontken vaderskap. Die Gees van Isebel verwoes predikante, gemeentes, huwelike huisgesinne, laat selfs staatspresidente en konings tuimel. In Italië is 90% van alle mans en vroue ontrou. Dit het ‘n aanvaarde kultuur geword. Dié toestand kom reg oor die wêreld voor, ook erg in SA.

            God se oplossing vir die Eindtyd, is die herstel van vaderlose volke, die herstel van Sy vaderlose Kerk. Die Gees van Elia sorg vir vrymaking van die Gees van Isebel se onheile.

            Hier is ‘n nuwe ontwaking en ‘n vars bries van Herlewing vir die volke. Kinders het die liefde en aandag van ‘n vader broodnodig.

            Op die Internet wêreldwyd, maar ook in SA is tienduisende aangenome kinders wat hul biologiese ouers soek. Biologiese ouers soek ook. In kinderhuise sit hulpelose kinders met verlange langs die heiningdrade: Wanneer kom hulle mammas en pappas hulle haal?

            Oplaas moet hulle in pyn aanvaar: Hulle is alleen.

Die HERE het ‘n reuse omgee vir kinders. Almal wat na kinders omsien, kan weet dat die HERE na hulle sal omsien. Matt 7:11. Hy berei vir Homself lof uit die mond van kinders en suigelinge. Matt 21:16

            Mens wonder hoekom die profesie juis klem lê op die vaders wat met die kinders moet versoen. Die antwoord is die volgende...

            Navorsing is in 21 lande wêreldwyd gedoen:

·       63% van selfmoorde kom van huise met afwesige pa’s

·       80% van verkragting wat uit woede en frustrasie gepleeg word, kom van huise met afwesige pa’s

·       70% van jeugdiges in institusionele inrigtings wat deur die staat bestuur word, kom uit huise met afwesi-ge pa’s.

·       85% van kinders met gedragsprobleme kom van huise met afwesige pa’s.

·       90% van kinders wat rondswerf sonder vaste huisvesting, kom van huise met afwesige pa’s.

·       71% van kinders wat nie hul skoolloopbaan voltooi nie, kom van huise met afwesige pa’s

Wanneer mans eienaarskap neem om hul lewe en prioriteite te verander en hul verantwoordelikheid en Goddelike gesag beoefen soos God dit bedoel het, kan dit ʼn reuse verandering en impak in ʼn gemeenskap bring.



Help ons asseblief om die volgende gesinne te herenig:

·       As jy as seun op 25 Augustus 1983 in Johannesburg (Boksburg/Benoni) gebore is en jou biologiese ouers soek, het ons straks baie goeie nuus vir jou.

·       As jy as meisie op 13 Julie 1974 in Johannesburg gebore is, en jou biologiese ouers soek, het ons straks vir jou ook baie goeie nuus.

·       Kontak ons by sjibbolet.buro@gmail.com  of beindapaar@gmail.com