Wys tans plasings met die etiket God genees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket God genees. Wys alle plasings

Woensdag 05 Junie 2019

Medici erken: God Genees!



Sedert die dae toe Evangeliste Rassie Erasmus, Hansie Henning en ander vir siekes gebid en mense verstommende genesings ondervind het, het die media in Suid-Afrika altyd skepties gestaan en selfs doemprofete aangehaal om ‘n vraagteken oor God se handewerk te plaas.

            Medici het ook skepties gestaan, so asof gebedsgenesing vir hulle ‘n bedreiging sou inhou.

            Al hoe meer mediese wetenskaplikes het die afgelope twee na drie dekades die wedergeboorte deelagtig geword. Een so iemand was Prof. J.C. van der Spuy wat vir meer as 28 jaar hoof van Kardio-Torakale Chirurgie aan die Pretoria Akademiese Hospitaal was.

            Prof. Van der Spuy het die volgende selfs ter boek gestel: Of genesing deur middel van gebed, chirurgie, fisioterapie of medikasie geskied, dit is en bly Jesus Christus wat genees!

            Die afgelope dekade het medici pogings aangewend om die effek van gebed op mediese resultate nagevors. Dit het op plakke algemene praktyk geword, maar is ook op plekke met polemiek begroet.

            Intussen bied groot getalle mediese skole hul toekomstige chirurge opleiding oor hoe om pasiënte se godsdienstige behoeftes aan te spreek.

            Dit is veral vir Harold Koenig, professor in psigiatrie en gedragswetenskap aan die Mediese Fakulteit by Duke Universiteit, welkome nuus want hy was nog altyd een van die wêreld se voorste medici vir die inkorporering van godsdiens  as deel van mediese behandeling.

            Koenig het in 1997 ‘n verslag uitgebring dat diegene wat gereeld kerkdienste bywoon ‘n beter funksionele immuunstelsel mag hê as diegene wat nie gereeld kerk toe gaan nie.

            In hierdie verband het prof. Van der Spuy weer vasgestel dat die na-operatiewe herstel van wedergeborenes, heelwat vinniger geskied as die van mense wat die HERE nie persoonlik ken nie.

            Koenig sê: “Ek glo dat wanneer God besluit om mense gesond te maak en mense gebed aanvra en mense begin bid, dat daar beslis ‘n verskil intree.”

            Chuck Lynch, pastoor in opvoedkunde by Lakeland Victory Kerk, sê dat in sy 20 jaar in die bediening was hy ooggetuie van vier gevalle waar mense “bonatuurlike genesing” ontvang het, so uitsonderlik dat dit as “dramaties” beskryf was.

            Lynch glo dat mense altyd baat vind by ernstige gebed. “Die eerste ding wat gebed doen, is om mense werklikwaar te verander, dit doen iets aan hulle uitkyk op die lewe en ook aan hulle houding.

“Wat ek opgelet het was dat mense wat werklik ernstig in ‘n krisis bid ‘n vrede openbaar wat ander mense eenvoudig verstom,” sê Lynch.

            Selfs ‘n vurige rasionalis soos dr. Sloan Davidson erken dat gebed vertroosting en ander godsdienstige aktiwiteite kan meebring vir mense wat ‘n gesondheidskrisis in die gesig staar.

            Hy sê hospitale moet geestelike versorging vir pasiënte aanbied, maar beklemtoon dat dit deur predikante, eerder as dokters en verpleegsters uuitgevoer moet word.

            “God doen wonderwerke            en ons geloof word daardeur versterk, het Davidson gesê.

            Die drama wat homself in die sewentiger jare in ‘n teater in HF Verwoerd Hospitaal in Pretoria afgespeel het, mag nou eers bekendgemaak word.

            Prof. JC van der Spuy het met ‘n pasiënt se oopgesnyde hart in sy hande gestaan. Behalwe snykunde om die hart te herstel, het Prof. Van der Spuy met ‘n skok besef dat ‘n klepvervanging ook nodig is.

            Die skok van die oomblik was dat daar geen klep beskikbaar was nie. Toetse vooraf het ook nie aangetoon dat ‘n klepvervanging nodig was nie.

            Hy kon die hart nie weer toemaak en terugplaas sonder om die betrokke klep te vervang nie.

            Prof. Van der Spuy het die gebeure in destyds met my gedeel op voorwaarde dat ek dit nie bekend sal maak voordat hy weg is nie. Hy het op 87-jarige ouderdom heengegaan.

            As diep gelowige mens had hy geen ander uitweg as om hom tot God te wend nie.

            Hy het ernstig begin bid vir leiding. Toe hy hom weer kom kry was sy hande besig om weefsel uit die pasiënt se bobeen te sny en het hy staan en kyk hoe sy hande 'n klep uit die weefsel vervaardig.

            Die operasie was ‘n skitterende sukses en die klep het 100 persent gewerk.

            Sowat twee jaar later het presies dieselfde situasie met ‘n ander pasiënt opgeduik.

            Weer het hy gebid en gesê: Here, dis nie of ek dit al gedoen het nie. Gryp U tog weer in.

            En dieselfde prosedure het homself herhaal.

            Sy kollegas wat alles gadegeslaan het, het in beide gevalle nie besef wat gebeur het nie.

            “Mens moet besef dit was ‘n veel groter mediese wonder as ‘n hartoorplanting. ‘n Hartoorplanting is basies die diskonnektering van ‘n ou hart en die opkoppeling van ‘n nuwe hart. Wat hier gebeur het is ‘n mediese wonderwerk uit die hand van God.

            “Maar ek het gesien hoe die wêreld prof. Chris Barnard vereer het. Dit wil ek nie beleef nie want God moet al die eer kry vir wat daardie dag in daardie teater gebeur het. Belowe my, dat jy eers hieroor sal skryf die dag wanneer ek weg is,” het prof. Van der Spuy versoek.

            Hy het die betrokke dag ook aan my vertel dat sy navorsing getoon het dat die na-operatiewe herstel van ‘n gelowige baie vinniger geskied as die van ‘n ongelowige.

            Om hierdie rede het hy altyd by die eerste ontmoeting van ‘n nuwe pasiënt bepaal of die pasiënt wedergebore is. As dit nie so was nie, het hy op sy besondere vaderlike en liefdevolle manier berading toegepas.

            Een keer toe hy sy siekesaal besoek het, het hy by ‘n pasiënt gekom wat die volgende dag ‘n hartoperasie moes ondergaan. Die pasiënt het plat op sy rug gelê, besig om ‘n sedebedorwenede tydskrif te lees.

            Prof. Van der Spuy het die boek sag uit die man se hande weggeneem en aan hom gesê: More-oggend haal ek jou hart uit. Jou lewe is in God se hande. Hoe kan jy op die vooraand van so ‘n groot operasie dit waag om hierdie smerige boek tussen jou en die Hemel in te druk?”

            Hierop het prof. Van der Spuy ‘n Nuwe Testament aan die pasiënt oorhandig en aan hom gesê: “Vriend, dit is wat jy nou nodig het.”

            Vir hom was die redding van ‘n siel die grootste wonderwerk in ‘n mens se lewe.

            Oor genesing het hy gesê: “Of dit geskied deur die gebruik van ‘n skalpel, of deur medikasie of deur gebed, dit bly Jesus Christus wat genees, want die mediese wetenskap kon nie bereik het wat hy vandag doen, as dit nie deur God se wysheid aan die wetenskap geskenk is nie.” - Wekroep

Vrydag 29 Junie 2018

God antwoord vir seker


Image result for Ps 41:2


Nood of behoefte: God antwoord vir seker


Onheil spoel soos ‘n tsoenami  oor die aarde heen. Waar sal ons skuil... tussen die armes?

            Mens verbaas jou oor die getalle gegradueerdes wat boemelaars is, mense wat seergekry het en uit die samelewing verstoot is.

En Jesus sê Hy is lief vir hulle en ek en jy moet Sy liefde aan hulle oordra.

            Gaan sit eendag tussen hulle en neem vir hulle kos en iets te drinke en ‘n geldjie en luister na hulle hartseer stories. Wys dan vir hulle wie Jesus is.

Luister: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.” Ps 41:2

            “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Ps 41:4

            Leer van Jesus. Sien hoe Hy met deernis die armes versorg, hoe die blindes sien, die verlamdes loop, die dowes hoor, die hongeres voedsel gegee word, ens.

            Daar is ook armes van gees. Ander ly aan verskillende soorte kwale en siektes. Meeste kan nie anti-depressante en sulke medikasie bekostig nie, en hulle kry baie swaar,

            Let op hoe Jesus mense se behoeftes op die daad aangespreek het.

            Wanneer Hy ‘n blinde bedelaar wat langs die pad aantref, het Jesus in die man se onmiddellike behoefte voorsien.

Onthou jy: “En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ‘n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel.” Mark 19:46

Dis ook hierdie Skrif wat in 1970 tot skrywer se redding gelei het ...

Die man het uitgeroep na Jesus om hom barmhartig te wees, maar toe hy later by Jesus kom vra Jesus spesifiek vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: ‘Rabbónie, dat ek mag sien.’”

Jesus het nie gepreek nie, nie ‘n lang gesprek aangeknoop nie. Nee, Jesus voldoen aan die blinde se versoek en help hom net daar in sy onmiddellike behoefte en genees sy blindheid.

Elke keer as iemand met ‘n behoefte gekom het, het Jesus dit nie geïgnoreer of verskonings gemaak nie. Nee, Hy het die melaatses genees, die verlamdes laat loop, die demone uitgedryf, die dowes kon hoor, selfs dooies in opgewek.

Hand 10:38 gee ‘n beknopte opsomming van Jesus se bediening: “Met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag.

Jesus het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”

Inderdaad is die Ewigheid ontsettend belangrik en is die redding van ‘n mens se siel van kardinale belang. Maar ek en jy leef nog hier op aarde. Ons het behoeftes wat nóú uitskreeu om vervulling!

Ek wil jou aanmoedig om die Here Jesus nóú te vertrou met jou onmiddellike behoeftes wanner dit siekes, krankhede en watter nood ook al behels.

Ander dinge soos behoeftes, vertrou mens ook die HERE voor. Soms moet jy wag, maar niemand praat met die God van die Hemel oor ‘n behoefte en die HERE antwoord nie.

Wat is jou behoeftes: Smag jy byvoorbeeld na ‘n Hooglied man as huweliksmaat. Bd. Hy is op pad. Kyk uit vir hom.

Smag jy na jou biologiese kind wat jy destyds vir aanneming moes opgee? Kyk solank uit.

En jy wat na jou biologiese ouers soek? Jy soek dalk net verkeerd. Moet nooit moed opgee nie. Bly positief.

En terwyl jy wag, help ander net waar jy kan, al is dit ook net deur gebed en bemoediging. Bid vir mekaar Jak 5:16 en dra mekaar se laste. Gal 6:2 – Sjibbolet