Maandag 12 Februarie 2018

Die rol van die Kruis

Wanneer ’n mens die spoorwegdorp, Harriman, in oostelike Tennesee, nader, trek ’n groot, verligte kruis op een van die hoë bergrante, jou aandag, skryf dr. Paul Lee Tan.

Dit was anders as met die kruis op die kloktoring van die kerk in Pittsburgh. Harriman se kruis was die idee van die vyfjarige Dan Denny.

            Dan Denny kry op ’n dag ’n kruis present. Hy hang toe die kruis elke dag by sy venster uit.

Later wil sy ma weet hoekom hy dit doen. Hy antwoord: “Dalk sien iemand dit en dink dan aan Jesus en probeer goed wees.”

Dit het vir sy ma so goed geklink, dat sy dit met haar vriendinne bespreek. Een van hulle se man is op die dorpsraad en sy vertel dit vir hom en wonder of hulle, as dorpsmense, nie op ’n goed geleë plek ’n kruis kan oprig nie. Dit kom by die onderskeie gemeentes ter sprake en nie lank nie of die besluit word geneem en die kruis word op die heuwel buite die dorp opgerig waar almal dit sou sien.

Weer leer dit ons, dat dit nie iemand se ou­der­dom, status, gawes of geleerdheid is wat die groot rol speel as ons van Christus getuig nie. Dit is ’n saadjie wat geplant word en dit is die Heilige Gees wat die getuienis (saadjie) laat ontkiem en laat groei.

            Saai die Evangeliesaad waar dit moontlik is. Jesus het in sy gelykenis van die saad gesê dat baie van die saad vergeefs gesaai word, maar God laat dit ook in goeie grond val. Ons werk is om te saai. God se deel is om die saad te laat groei.

            Ons is nie geroep om te oortuig nie, maar om te getuig.

            “...julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Hand 1:8

En dan is  daar die Kruis in Pittsburgh, Pennsilvanië

Die lughawe van Pittsburgh, skryf Earl C. Willer, is die grootste en bestoegeruste lughawe in die Amerika. Dit bring ’n groot lugverkeer na die stad toe. Slegs twee sekondes vliegtyd van die lughawe af en direk in lyn met een van die besigste aanloopbane, staan die Union Church met sy hoë toring.

 


”Vandat die aanloopbaan geopen is,” vertel eerw. William R. Ruschaput, die kerk se leraar, “dreun vliegtuie by die kloktoring verby soos bye om ’n byekorf. Dit het so erg geword dat laag vlieënde stralers ons Sondagaand dienste in bidure omskep het.”

            Die kerkraad het bekommerd geraak omdat die kerk­toring so hoog is en die vliegtuie so laag inkom p, te kan land, dat die toring raak gevlieg kan word en skade en ’n ongeluk kon veroorsaak.

’n Drie meter hoë neon ligkruis word toe bo-op die toring aangebring. Die kerk staan op die hoogste punt naby die lughawe. Dit bring toe mee dat die ligkruis snags, van sover as Ohio se grens af, vir die loodse sigbaar was. Hieroor het eerw. Ruschaput gesê: “Een van die loodse het op ‘n keer opgemerk: Meeste van ons gebruik die verligte kruis as gid na die vliegveld.’”

            Die kerk met sy hoë kloktoring, so naby die aan­loop­baan, was vir die vlieëniers toe nie meer ’n hindernis nie, maar ’n bate. Die kruis op die kerktoring was ’n letterlike hulp vir die vlieënier om ’n veilige landing op die aan­loop­baan te maak.

So moet ons as Gelowiges in ‘n geestelike sin ’n seën wees vir mense om hulle veilige landing op die aanloopbaan van die Ewigheid te maak. En ons slaag daarin omdat Jesus so hoog verhef word.

As die Here Je­sus Christus en sy verlossingswerk die Gelowiges se middelpunt van getuienis en aandag is, wek die Hei­lige Gees in mense se harte die verligting van geloof, wat ’n veilige aankoms in die Ewigheid verseker.

            “…maar ons verkondig Christus wat gekruisig is….vir dié wat deur God geroep is…is Christus die krag van God en die wysheid van God.” 1 Kor 1:18-31.