Saterdag 03 Februarie 2018

Ons is die Heiligdom


Image result for 1 Pet 2.5


Is ons ‘n “Geestelike Huis gebou met Lewende boustene?”


“En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis.” 1 Pet 2.5

            Jesus Christus het nie aan die Kruis gesterf sodat ons derduisende kerke moes stig elk met sy eie kamstig suiwer leer nie, die een verskillend van die ander nie.

            Dat daar gemeentes sou wees, ja beslis, maar nie kerkgenootskappe nie... met die gepaardgaande harwar “Hier is die Christus, nee, daar is die Christus” nie.

            Elkeen het sy eie vertolking van wat reg is, netjies gebind in grondwette en ordonnansies en allerlei fatsoenlike name... die grootste verwarring op aarde.

            En daar is haas liefde tussen die spul.

Die liefde is ‘n Koninklike Wet. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

            Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Matt 5:17

Hoe het Jesus toe die Wet vervul?

Net voor Sy vertrek na die Hemel, vra die dissipels Hom: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?

“En Jesus antwoord hom: Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

“Dit is die eerste en groot gebod.

“En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

En dan sê Jesus: “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.” Matt 22:36-40

Hoe so? Want as jy waarlik liefhet, dan sal jy nooit enige wet oortree nie.

Ons is veronderstel om lewende boustene te wees waarmee God Sy Koninkryk kan bou, ‘n Geestelike Huis, maar sonder sement (Liefde) tussenin sal die spulletjie aanhou intuimel... en steeds nuwe kerke word gestig.

Die Skrif verwys telkemale daana dat ons ander moet liefhê soos onsself.

As jy jou vrou mishandel, hoe lief het jy jouself?As jy die predikant en ander gemeentelede beskinder... hoe lief het jy jouself?

Is dit moontlik om onsself lief te hê?

            Hierdie kan as ‘n meetinstrument beskou word: Hoe lief ek myself het, bepaal hoe lief ek ander het.

            Dit bepaal ook my geestelike stand in Christus.

Liv 19:18 “Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.

            Liv 19:34 “Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos 'n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself...”

            Matt 19:19 “Eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

            Matt 22:39 “En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

            Wat ons ook hieruit leer is dat dit belangrik vir ons is om te weet in watter mate ons onsself lief het.

            Jy moet jouself liefhê. Ontlok hierdie woorde ‘n negatiewe reaksie by jou? Klink dit nie selfsugtig en egoïsties nie?

            Om jouself lief te hê beteken nie om selfgesentreerd of opgeblase  te wees nie. Dit beteken om respek vir jouself te hê, om jouself te beskerm, vir jouself om te gee.

            As jy dus nie vir jouself lief is nie, dan sal jy wraakgierig of haatdraend teenoor ander wees. Dit mag nie so wees nie, dan is daar fout met hoe lief jy jouself het. Is jy wraakgierig en haatdraend met jouself? Sommige mense is. Dit is al bewys dat as mens iemand haat, jy, en nie die ander persoon nie, die eintlike lydende party is.

            Mens weerspieël ook jou liefde vir jouself wanneer jy jou vader en moeder eer. Matt 19:19

            Moet mens die ongereddes ook liefhê? Natuurlik! Mark 12:30 “Jy moet die HERE jou God liefhê (Hoe?) uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. Lees dit weer want dis nogal ‘n gewigte saak.

            En strofe 31: “En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”

            “Hieraan gelyk” beteken “dieselfde”. As ek God moet liefhê met my hele hart, my hele siel, my hele verstand, my hele krag, dan moet ek my naaste ook so liefhê. Die liefde vir God staan gelyk aan die liefde vir myself en my liefde vir ander. Hoekom? Omdat God vir jou en die ander persoon ewe lief is.

            In die lig hiervan, vra weer: Hoe lief het ek myself?

            “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” Kol 3:14. Let op: “Beklee julle met die liefde.” Dis ‘n proses. Hoe lank die proses neem, is hoe lank jy neem om jouself met die liefde te beklee.

            Ongereddes is op pad na die ewige verdoemenis. As iemand nie vir jou en vir my liefgehad het nie, dan was ons ook nog op die verkeerde pad.

            “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8 – Sjibbolet