Saterdag 03 Februarie 2018

‘Soos in die Hemel – net so ook op die aarde’


Image result for Matt 6:10


“Laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die Hemel net so ook op die aarde. Matt 6:10

            Hoe kry ons, as ambassadeurs van die Hemel,  dit reg? Ons spreek Jesus se taal en denke. Daar is bv nie siekte in die Hemel nie, so ons duld dit ook nie op aarde nie... soos dit in die Hemel is, so ook op die aarde!

            Hoe naby is ons daaraan? “Ek het hulle (vir my en jou) die heerlikheid (die Glorie) gegee wat U aan my gegee het (waarom?), sodat hulle een kan wees… net soos Ons een is.” Joh 17:22.

            Die glorie van God in die Hemel is ook ons deel hier op aarde. Sy wil vir ons as Gelowiges is duidelik in sy Woord vervat. Hy is ‘n waarmaker van sy Woord, van sy Wil. Sy Hemelse wil is vervat in die Bybels in ons huise.

            En verder: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met (let op) alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” Efes 1:1-6

            Dit is Sy wil dat ons gered word, dat ons eendragtig in liefde saam leef en doen, dat ons oorvloed sal hê, dat ons gesond sal wees, dat ons die kragdoop van die Heilige Gees sal ontvang, dat ons Jesus se werk voortsit. Ons grootste impak as Christene is nie vanweë ons fokus op enigiets op aarde nie, maar wanneer ons besef wie ons in Christus is, wanneer ons deur geloof en gebed besef dat ons Jesus se onvoltooide werk op aarde moet voltooi... die getal moet volmaak.

            In die Hemel word niemand ooit kwaad nie, is daar nooit rusie nie, is daar geen vyande en onvergewensgesindheid nie... dan onder ons as Gelowiges op aarde ook nie.

             En verder dat ons geroep is om deur Christus om God se Koninkryk en krag en glorie en seëninge vanaf die Hemel na die aarde te bring... Soos in die Hemel, so ook op aarde. Matt 6:10

             “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge (waar?) daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.

             “Bedink die dinge wat (waar is?) daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol 3:1-2

            Praat Hemel, dink Hemel.

          ”In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons (let op) die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël hoekom?), met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig...” Efes 1:7-10

            Dis ons wat gered is, wat die geloof moet openbaar om die gemeenskap te verander, die land te verander. Lees weer die verhaal van die verlamde man in Mark 2:4. Dit was die geloof van die manne wat hom deur die dak laat sak het wat die verlamde laat loop het.

            Hoekom het hulle dit gedoen? Want niemand is verlam in die Hemel nie en soos in die Hemel... so ook op die aarde... mag hier geen verlamming wees nie.

            So is ons gemeenskappe ook geestelik verlam en dis ons geloof, myne en joune, wat hulle gaan laat opstaan in en vir Christus want ons gaan die Hemelse taal begin spreek.

            Ons as Gelowiges moet die HERE daaraan herinner dat Sy liefde, krag, ondersteuning, sy teenwoordigheid welkom en nodig op die aarde is om ‘n verandering mee te bring.

            Ons is gered juis om verandering te weeg te bring. Hierdie verandering vind plaas deur die Heilige Gees en die proklamering en gebed van die Geesvervulde Gelowiges. Ja, ons neem deel aan verkiesings, ens., maar ons durf nie ons geestelike vlak verlaag vanaf die Koninklike/Hemelse na die aardse vlak nie.

            Nou dat ons gered is, het ons reeds die Ewige Lewe. Ons dink nie meer aards nie. Ons word verander in ons gemoed, ons dink nou Hemels... soos in die Hemel, so sal dit op die aarde wees en ons, ek en jy as gelowiges, bewerk dit.

            Ons as Gelowiges durf nie toelaat dat enigiets ons verdeel nie. Jesus se laaste gebed en begeerte was dat ons met Hom EEN sal wees. Nie eenders nie, maar eendragtig.

            Ons lees verder waarom ons dinge wat daarbo is moet bedink, waarom ons oë op Jesus gevestig moet bly: “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

            “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.

            “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,  waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom,  waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het.

            “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

            “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

            Hierdie dinge is nie in die Hemel nie en ons soek dit ook nie op die aarde nie.

            “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, (met dit wat in die Hemel is) heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.

            “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

            “En beklee julle bo dit alles (soos in die Hemel) met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

            “En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

            “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar (hoe?) met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.

            “En wat julle ook al doen in woord of in daad, (doen dit soos in die Hemel) doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

            “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.

            “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie. (want daar is geen verbittering in die Hemel nie)

            “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.

            “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.

            “Diensknegte, julle moet jul here na die vlees in alles gehoorsaam wees, nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees.

            “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die HERE en nie vir mense nie,  omdat julle weet dat julle van die HERE die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” Kol 3.

            “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het (hoe?)deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het(hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die (let op) goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.

            “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde (hoekom?).

            “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. 2 Petrus 1:3-9

            Spreek Lewe, Hemelse Lewe! – Sjibbolet